Satyn Omnibus 7. Ettie Bierman
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Satyn Omnibus 7 - Ettie Bierman страница 5
“Dis nie nodig nie. Ek het al soveel foto’s in koerante en tydskrifte gesien, en op boeke se buiteblaaie, ek sal u … jou dadelik herken, Margo.”
’n Mens kan nie anders as om van Margo Vermeulen te hou nie, dink Carmia. En dit sal inspirerend wees om vir so ’n beroemde en suksesvolle skrywer soos sy te werk. Sy voel weer daardie tinteling in haar are roer, ’n bruising van afwagting en opwinding. Dis die regte ding wat sy doen, al het Vita haar daarin geboelie.
Dit gaan werk. Sy voel dit … wéét dit.
Op pad terug na haar lessenaar in die algemene kantoor keer die nuusredakteur haar voor. “Daardie brief in my laai, meisie … Kan ek hom maar opskeur?” vra hy vaderlik.
Carmia druk haar selfoon in haar sak en skud haar kop. “Nee, meneer Jordaan. Ek het goed nagedink. Stuur hom maar deur na die redakteur toe.”
Hy frons. “Gaan dit nog steeds oor Arno?”
Carmia skud haar kop. Sy wil nie verder derms uitryg nie. Dis beter om weg te gaan sonder verwyte en kwade gevoelens. Sy het tog in ’n mate lekker gewerk hier en goeie ondervinding opgedoen.
Dit was ’n trapklip, anders was sy minder bekwaam vir joernalistieke werk. Selfs al val die onderhoud met Margo Vermeulen plat, het sy genoeg ervaring om vir ’n interessanter pos iewers anders aansoek te doen.
Toe Carmia die volgende middag by die Vlieënde Dolfyn instap, voel sy soos ’n ander mens. Vir die onderhoud het sy oë toegeknyp en ’n nuwe denimbroekpak op ’n uitverkoping gekoop – eerder ’n halfnommer te groot as styfpassend. ’n Langtermynbelegging en deel van haar nuwe beeld, het sy besluit.
Daarby dra sy ’n ligblou sybloes wat sy by Vita geërf het. Haar hare is stemmig agteroor gekam en vasgebind. Sy het ’n stringetjie pêrels aan en min grimering, net genoeg om die sprinkeling sproete oor haar wangbene en effense wipneus te verbloem. Sproete is onprofessioneel en laat haar oë soos ou wyn lyk – meer gelerig as bruin. “Katoë,” het haar ma kleintyd getroos en belowe hulle sal donkerder word later, soos sy ouer word. Maar hulle het nie.
Sy herken Margo dadelik. Sy lyk ’n bietjie ouer as op haar foto’s, maar steeds treffend, met die verfynde grasie van ’n ballerina: haar hare laag in haar nek geknoop, goue hangoorbelle en ’n helderkleurige Meksikaanse sjaal om haar skraal skouers. Op die tafeltjie voor haar lê ’n bruin leerhandsak en Gucci-donkerbril. ’n Lady met ’n skeut boheemse kunstenaar, dink Carmia geamuseerd.
Margo het peinsend voor haar uitgestaar, maar sy kyk op en haar gesig verhelder toe Carmia langs haar tafeltjie gaan staan. “Carmia? Ek kan sien jy en Vita is susters. Kom sit. Koffie?”
“Dankie. Jammer as ek laat is. Het u … het jy lank gewag, Margo?”
“Nou net gekom, ’n halfminuut gelede.”
“Ek het al soveel van jou boeke gelees, dis ’n eer om jou te ontmoet.”
Margo is beskeie. “Dis lief van jou. Jy laat my goed voel.”
Carmia trek ’n stoel aan die oorkant van die tafel uit. “Was die tandarts baie erg?” vra sy simpatiek.
“Medium – net een stopsel. Dis sommer ek wat so kleinserig is. Ek het vooraf vir my tandarts gesê hy moet ’n groot L voorop my lêer skryf, sodat hy elke keer kan onthou om sag te werk, want hierdie pasiënt is ’n lafaard.”
“Ek is ook,” bieg Carmia. “Ek noem dit dentofobie: ’n vrees vir groot, fris hande geheg aan harige voorarms soos ’n stoeier s’n, wat skerp voorwerpe in ’n mens se mond indruk.”
Margo lag en dit breek die ys. Sy vra na Vita uit, en na die omstandighede by SeeSter. Sy vertel van ’n uitgebreide toer wat sy twee jaar gelede onderneem het deur die lengte en breedte van Australië, van Perth tot in Brisbane, en van Adelaide tot by Darwin in die verre noorde.
“En te boek gestel het,” voeg Carmia by. “Waltzing Mathilda in die bekveld. ’n Slim titel, wat mens prikkel om die boek te lees. Ek het ’n kopie gekoop voor ons vir Vita en Andy op Saddleback Ranch gaan kuier het. Ek wou nie soos Piet Pampoen daar aankom sodat my suster haar vir haar javelfamilie moet skaam nie.”
“Ek lees ook eers na voor ek ’n vreemde land of plek besoek. Dit maak dat ’n mens meer uitsien, meer die atmosfeer indrink en meer oplettend rondkyk. Jy praat van jou familie … Jou ouers boer in Namibië, nie waar nie?”
“Dis reg. Naby Soutpan, op die rand van die Namib.”
“Ek onthou, ja. Dis seker waarom Vita aanklank gevind het by Australië se woestynklimaat en die playas, oftewel die droë soutmere. Eyre-meer herinner ’n mens aan Etosha – dieselfde roerlose, uitgestrekte stilte. Net jy en jou siel en die blou van onse hemel …”
Sy neem ’n sluk van die geurige koffie wat die kelner voor haar neergesit het en ’n vonkeling blink in haar gitswart oë. “Of was dit eerder ’n geval van aanklank vind by die macho skaapboer?”
“Ek dink sy sou soos ’n baksteen vir Andy geval het selfs al het hy in New York gewoon. Hy is ’n baie besonderse ou.”
Margo is stil, met dieselfde peinsende uitdrukking as netnou. “Ek het lank bly hoop sy trou met my kleinseun. En ek dink hy het ook so gehoop. Ek weet nie wat in die verhouding skeefgeloop het nie, en hy praat ook nie uit nie. Klap soos ’n oester toe as ek uitvra en weier om Vita se naam te noem.”
“Is hy nog steeds kwaad vir haar?”
Margo sug. “Deneys is die soort man wat jy langs jou wil hê as ’n leeu jou storm. Hy floreer op uitdagings. Hy is sorgsaam en – te oordeel na die lyftaal van vroumense as hy naby kom –
blykbaar romanties. Hy is hulpvaardig en sy deur staan altyd oop vir ander. Maar dis ongelukkig waar die kind se deugde ophou. My kleinseun is vol draadwerk as dit kom by vergewe en vergeet.”
“Is daar nie ’n nuwe meisie in sy lewe nie?”
“So half en half … Die buurmeisie op Zimbali, wat my manuskrip getik het. Tasha. Sy’s gaande oor hom. Deneys neem haar gereeld uit en hulle is goeie maats, maar ek weet nie hoe hy regtig oor haar voel nie.”
Margo gesels nog ’n rukkie oor haar kleinseun, aan wie sy heel duidelik verknog is. Dan begin praat sy sake: “Ek weet jy het ’n driejaar-diploma in joernalistiek. Jy het uit die aard van die saak ’n taalaanleg en is natuurlik rekenaargeletterd. Het jy ’n rybewys, Carmia?”
“Aanvanklik op ’n trekker geleer en toe op ’n tientontrok, maar ek het darem my rybewys gekry in my pa se Fordkar. Al sit ek sonder ’n motor, het ek gereeld die koerant se afleweringsvoertuig bestuur as daar ’n krisis was met die bode.”
“Dis ’n verligting. Deneys is altyd gewillig om te help, maar hy is ’n vlieënier by Jakaranda-lugdiens. Sy werk bring mee dat hy dikwels weg is op vlugte en hy kan nie altyd sy lastige ouma rondkarwei nie. Ek wil ook nie ’n oorlas vir hom wees nie. ’n Deel van jou pligte sal dus wees om chauffeur te speel.”
Sy lyk geamuseerd. “Darem nie met ’n lorrie of ’n trok nie. Daar’s genoeg motors op die plaas en een vir jou eie gebruik. ’n Kia-sportmodel – dit was myne toe ek nog self rondgery het. Voor die artritis en jig en rumatiek en al die ander ipekonders my ingehaal het.” Sy wys ter verduideliking vir