Raaiselklip. Troula Goosen
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Raaiselklip - Troula Goosen страница 5
En die mense! Hy vergaap hom aan die mans met die wye hoede wat met kaparrings aan hulle voete ronddraf, party met drastokke oor hulle skouers waaraan hulle mandjies vol groente of emmers melk balanseer. Is dit Zytia se mense? Dit lyk nogal so aan hulle soel velle. Ingedagte vryf hy oor die seerplek op sy hand waar sy hom die vorige nag gebyt het.
Drie soldate wat op die trappies rondsit, laat Gabriel vassteek. Rooi uniforms, h’m. Kasper het hoeka gisteraand gesê die Kaap was eers ’n Hollandse kolonie wat nou onder Engelse bewind is. Hoe gaan hy by hulle verbykom?
Die drie is egter so besig om dobbelstene te gooi en nou en dan ’n sluk uit ’n fles langs hulle te vat, dat Gabriel dit waag om sy mantelkap diep oor sy oë af te trek en verby te glip. Vinnig smelt hy tussen die mense in. Sjoe! So ’n bont mengelmoes van bruin, wit en swart velle het hy nog nooit gesien nie.
“Oppas daar!” ’n Stem skree en die lywe naaste aan hom maak plek vir twee gespierde swart mans wat met ’n drastoel tussen hulle verbydraf. Gabriel trek sy oë op skrefies. Wie is daar binne? Dalk die gesluierde vrou wat die vorige nag in haar swart koets rondgejaag het? Onwillekeurig prik die haartjies op sy arms. Dan lig die wind die gordyntjies effens. Dankie tog. Net ’n ou man met ’n knypbrilletjie en geknoopte krawat wat half aan die slaap met sy kop op sy dubbele ken sit.
Gabriel slaan sommer ’n rigting in. Die geur van gaar vleis gemeng met vreemde speserye hang oor die plein. Dit laat sy mond water, maar sonder munte in sy sak sal hy maar moet honger ly. Al wat hy kan doen, is om die dorp te verken in die hoop dat hy iets sien wat bekend lyk.
So in die loop kyk hy rond. Agter hom oorheers die berg wat soos ’n tafel lyk die horison, met weerskante daarvan nog twee pieke. Seemeeue kras in die lug. Maar niks, niks lyk bekend nie. Dis asof hy in ’n heel ander wêreld wakker geword het.
Hy loop verby een van die ossewaens en ’n beweging vang sy oog – die skraal geelbruin lyf van ’n touleiertjie wat om die hoek verdwyn. Verbaas steek Gabriel vas. Dis dieselfde seun wat hy die vorige nag met houtskool teen die muur geteken het.
“Wag!” roep hy agterna.
Die seun kyk nie om nie. Maak net sy rug hol en laat waai straatop. Gabriel sit hom agterna, maar die seun is vinniger as ’n hert. Loshande voor kom hy eerste by ’n lae witgekalkte muur. Hy spring ligvoets oor, maar toe hy aan die ander kant in ’n watersloot land, struikel hy oor ’n steen in die plaveisel. Gabriel is vinnig by en gryp hom aan sy arm.
“Los my uit, seurtjie, ek het niks gemaak nie. Ek sweer!”
“Waarvan praat jy … ?” begin Gabriel, maar dan droog sy woorde op. Hoe kon hy hom so misgis? Dit is nie die seun van sy tekening nie. Hierdie knapie is ten minste twee jaar jonger en het nie ’n litteken op sy voorkop nie.
“Jammer.” Gabriel verslap sy greep. Die seun vat sy kans. Hy skarrel uit die sloot en verdwyn tussen ’n ry huisies wat skuins teen die berghang vasklou.
Verward druk Gabriel met sy vingerpunte teen sy slape. Sien hy nou helder oordag gesigte, of wat? Maar hier kan hy ook nie bly staan nie, nie as hy wil uitvind wie hy is en waar hy inpas nie.
Hy kies koers, in die stofstraat af wat aan die buiterand van die dorp loop. Weerskante is huise, netjies, met wit of liggeel mure en groengeverfde houtwerk. Sy oë soek deur die skuifraamvensters met die baie ruitjies, maar niks lyk bekend nie.
’n Kapkar getrek deur twee vosperde kom verby, hulle maanhare pronkerig in die bries. Agter die drywer sit ’n vrou met ’n blonde meisie langs haar. Die meisie loer oor haar waaier na hom. Gabriel roer sy skouers ongemaklik. Vir al wat hy weet, ken hulle mekaar. Aan die manier waarop haar blou oë na kom kyk, lyk dit nogal of sy hom nooi om hulle te volg.
Die kapkar spoeg ’n stofwolk in sy gesig en draai regs af in die volgende straat. Van nie weet wat om anders te doen nie, volg Gabriel dit verby netjiese tweeverdiepinghuise met breë deure, hoë stoepe en gemesselde sitbanke. Hier en daar sit daar mense. Mans met geborduurde onderbaadjies. Vroue in wye rokke. Hy voel hulle oë op sy rug terwyl hy verbystap en trek sy mantelkap laer oor sy gesig.
Geleidelik word hy bewus van die ruising in die lug. Die see! skiet dit deur sy gedagtes. Dit beteken Kasper het nie gejok nie, Kaapstad hét ’n baai. En as Elian reg is en daar wel ’n skip voor anker lê, is dit dalk die antwoord op al sy vrae.
Opgewonde loop hy vinniger. Aan die onderpunt van die straat sien hy ’n oop stuk grond en daar agter ’n gebou met stewige klipmure en ’n poort. ’n Fort dalk? Aan sy linkerkant, tussen geboue wat soos skure lyk, glinster die see. Hy sien ook die punt van ’n skeepsmas wat in die deining dobber.
Gabriel steek vas en kou aan sy onderlip terwyl hy sy opsies oorweeg. Hy brand om by die pad na die baai toe af te draai. Sy nuwe vriende is seker op hierdie oomblik besig om uit te vind of die skip van Amsterdam kom en of sy naam op die passasierslys was. Maar wat as Kasper reg is en iemand sy mes vir hom inhet? Dalk is dit beter om eers terug te gaan teater toe en te wag tot hulle terugkom met nuus.
“Miaau.”
Die kat sit in ’n stegie tussen twee winkeltjies. Haar pers oë kyk stip na Gabriel. In die daglig lyk haar kaal lyf nog leliker as die vorige aand.
“Dag, Kat. Wat doen jy hier?” vra Gabriel verbaas, half verlig om die dier te sien.
Stert in die lug kom die kat nader. Sy skuur teen Gabriel se bene, maar toe hy buk om haar te streel, spring sy weg en draf straatop. Op die hoek gaan staan sy en kyk om, amper asof sy Gabriel uitlok om haar te volg.
“Is jy ook op pad teater toe?” gesels Gabriel, bly om sy eie stem te hoor. As antwoord draf die kat weg in die rigting van die berg. Gabriel volg haar. Hulle loop verby ’n paar winkels en vleg deur die ander voetgangers.
BOEM!
Gabriel se nek ruk toe ’n knal onverwags deur die lug donder. Wat was dit? Oorkant die straat stop ’n man met ’n grys pruik in sy spore. Hy diep ’n ronde horlosie uit sy onderbaadjie se sak op en tik op die glas. Nie een van die ander voetgangers neem juis notisie nie en die duiwe wat verskrik opgevlieg het, gaan sit weer op die winterkaal boomtakke.
Gabriel haal sy skouers op. Hy moet wikkel en by Di Schouwburg kom.
Maar waar is die kat? Hy kyk rond en kom agter hy staan voor ’n kerk. Langsaan is ’n kerkhofmuur met ’n ysterhek wat met ’n tamaai slot toegesluit is. Die kerk se toring lyk nogal soos die een wat hy gisternag van die Di Schouwburg se trappies af gesien het, van hier af sal hy maklik die pad teater toe kry. Gabriel begin aanstap.
Skaars drie treë verder hoor hy iets agter hom klik. Hy kyk om en frons. Dis vreemd, die begraafplaas se hek hang nou oop.
Katvoet draai hy om en loer deur die tralies. G’n teken van iemand wat die hek kon oopgesluit het nie. Net rye en rye grafstene. Hy trek sy oë op skrefies. Van waar hy staan, is dit effens moeilik om die grafskrifte te lees, maar die name wat hy kan uitmaak, is onbekend en die datums lyk baie vreemd.
Die plek laat sy hare regop staan en hy wil net padgee toe ’n beweging sy aandag trek. Dis die kat. Sy sit doodluiters langs een van die grafte, besig om haar poot te lek.
Asof gehipnotiseer stoot Gabriel die hek oop en stap nader.
Die graf het ’n klein marmerkruis op. Duidelik is dit lankal vergete, want dit is half toegegroei deur ’n graspol. Gabriel kniel en druk die bossie eenkant toe. Die