Sophia se beskermengel. Malene Breytenbach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sophia se beskermengel - Malene Breytenbach страница 4

Sophia se beskermengel - Malene Breytenbach

Скачать книгу

glimlag, maar in sy oë sien Sophia ’n hartseer wat nie wyk nie. Hulle lyk diep gekwes, want dié man ken ook verlies.

      Nee, sy moet haar inhou, haar afstand hou. Sy los sy hand.

      “Dankie, meneer Doubell,” sê Esther skor. “Ons is diep in die skuld by jou.”

      “Ek wil uiteindelik doen waarna ek hoe lank smag,” sê Sophia vir Geoffrey Doubell. “Ek gaan in die pan spring.”

      Hoe dikwels het sy nie in die kamp van die pan se koel water gedroom nie. Sy voel so vuil, haar klere smerig. Sy het swart halfmane onder haar naels en haar hare is in toutjies en gekoek. Terwyl Maria so siek was, het sy dit nie gewaag om weg te gaan om te was nie.

      “Wag, ek het vir jou seep.” Hy gaan haal ’n koekie seep en gee dit vir haar.

      Sophia neem dit met verwondering en hou dit in haar hande soos ’n kosbare kleinood vas. Sy glimlag dankbaar en ruik daaraan. “Dankie, meneer Doubell. Regte seep. Dit was so skaars in die kamp. Ons het altyd hier die heerlikste seep gekook.”

      “Jy kan my gerus Geoffrey noem.”

      Sy kyk behoedsaam na hom. “Dis bietjie gou. Ek ken jou skaars. Dit sal meneer Doubell moet bly.”

      Hy glimlag wrang. “Goed dan, verskoon my voorbarigheid. Moet ek kom waghou?”

      Sy lag, vir die eerste keer in ’n lang tyd. “Ja, as jy wil. Nie dat ek my klere gaan uittrek nie. Maar jy mag nogtans nie loer nie.”

      “Ek sal nie loer nie,” verseker hy haar, sy gesig sedig.

      Hy sit langs die pan, weggedraai, en rook ’n pyp. Sophia gaan klere en al in – te skaam om enigiets uit te trek. Die water is yskoud, maar sy geniet dit nogtans intens. Sy kan nie ophou plons nie. Met die seep was sy haar hare en oral waar sy kan. Vryf en vryf aan haar vel. Maak haar naels skoon.

      Sy is erg bewus dat die man daar sit. Sê nou net hy hou haar skelmpies dop? Dit laat rillings deur haar trek. Dis ’n sonde om die man te begeer. Sy sak diep in die koue water weg en kom weer proesend uit. Daarna gaan sit sy ’n klein entjie van hom af op die oewer in die son en geniet die warmte. Sy skud haar hare los om droog te word.

      “Is jy van hier?” vra hy.

      “Nee, ek kom van Pretoria af. Lood het my daar gesien en by my begin vlerksleep. Toe trou ons en hy bring my hierheen.”

      “O, is jy dan daar gebore?”

      “Nee, in Barberton, maar my moeder is by my geboorte dood. My vader was ’n transportryer. Hy is dood toe ek drie jaar oud was. Toe moes ek by sy suster-hulle in Pretoria gaan bly en ek kon daar skoolgaan. Hulle is die Kemps en woon in Maréstraat. My oom het ’n algemene handelaarskap in Stasiestraat gehad en ek veronderstel hy het dit nog steeds. Ken jy hulle dalk?”

      “Nee, ek ken hulle nie, maar ek weet wie meneer Kemp is. Hy koop steenkool vir huishoudelike gebruik by ons.”

      “Ek weet nie hoe dit nou met hulle gesteld is nie. Ek het lanklaas iets van hulle gehoor of hulle van my.”

      Na ’n ruk staan sy op. “Ons moet seker teruggaan.”

      Sy kry meteens vreeslik skaam, en bloos pynlik. Haar vodderige ou rok kleef aan haar uitgeteerde lyf. Hier in die helder sonlig kan hy mos goed sien hoe sleg sy lyk. Hy kyk na haar soos ’n mens na ’n mishandelde dier kyk, met jammerte, en ’n begeerte om te help.

      “Was dit vir jou lekker?” vra hy.

      “Jy sal nooit weet hoe lekker nie. Ek het so vreeslik vuil gevoel. Ons sal klere moet was en met warm water skoon was, as dit moontlik is.”

      Sy wring water uit haar hare en gee vir hom die seep.

      “Hou dit,” sê hy. “Dis nie al seep wat ek het nie.”

      Haar kop hang. “Ek lyk vreeslik.”

      Hy skraap sy keel en kyk weg. “Ons sal vir julle water aandra en dit kook. Dan was julle julself en julle klere behoorlik. Ek het ’n groot wasskottel om vir julle te leen.”

      “Ek dink ek kan die lewe weer vierkant in die oë kyk,” sê Sophia braaf vir hom. “Uiteindelik het ek die kamp van my afgewas.”

      Geoffrey kan homself skop. Waarom het hy aangebied om haar op te pas terwyl sy swem? Haar slanke lyf met die nat klere wat so daaraan vaskleef, laat net die hitte in sy lyf uitslaan. Hy mag haar nie so begeer nie, maar sy lyf reageer.

      Hou jou in, Geoffrey Doubell. Sy is in ’n haglike toestand en moet eers herstel.

      Kyk hoe mooi is sy wanneer sy skoon is. Met ander klere en ’n bietjie meer vleis aan daardie lyfie, sal sy enige man se voete onder hom uitslaan. En sy is ’n vegter. Dapper, moedig. ’n Vrou wat deur diep waters gegaan het en weer regop sal staan. Hy bewonder iemand met so ’n sterk gees.

      Geoffrey Doubell gee vir Jakkie ’n hemp. Dit is te groot, maar hy rol die moue op. Almal skrop hulself en was klere. Die water is donkerbruin van die vuiligheid. Sophia gaan was Maria van kop tot tone en laat haar onder die karos lê terwyl sy haar klere was en droogmaak.

      Geoffrey en sy helpers bly byna ’n week lank by hulle. Hulle kap sandsteen en herbou mure, help Jakkie en Sophia om riete by die pan te gaan sny en skuiling te maak. Hulle maak vir hulle grasbeddens.

      “Daar moet minstens een vertrek in die huis wees waar almal kan skuil en slaap voordat ek julle hier op julle eie agterlaat,” sê hy.

      Geoffrey se werkers bou ook ’n kookskerm agter die huis waar hulle ’n vuurgat maak; daar is nie meer ’n stoof in die kombuis nie.

      Van weer genoeg eet voel Sophia sommer sterker. Sy sien die ander sterk ook aan. Selfs Maria begin beter lyk. Sy sit nogtans heeltyd in die koelte, te swak om enigiets te doen. Sophia let op dat haar oë heeltyd die aantreklike Geoffrey Doubell volg. Soos ’n hondjie wat dankbaar is oor sy baas se sorg.

      Jakkie het sy pa se jaggeweer, toegedraai in ’n springbokvel, by die ou kraal gaan uitgrawe en skoongemaak. Hy gaan soek heeltyd iets om vir die pot te skiet, om Geoffrey Doubell se voorrade, wat hulle stadigaan uitput, weer aan te vul.

      Sophia en Esther grawe die breekgoed, messegoed en huisgoed op wat hulle in die stroombedding gaan begrawe het toe hulle gehoor het die Kakies is op pad. Hulle was dit en bêre dit in die huis wat weer vorm aanneem.

      “Ons het darem nie niks nie,” sê Sophia gemaak vrolik. “Ons kan uit borde eet en uit koppies drink. Ons het kastrolle om in te kook en komme om in te was.”

      “Met so min besittings is dit ’n powere soort lewe wat ons lei, maar dis oneindig beter as die kamp,” sê Esther wrang.

      Aanvanklik het haar skoonmoeder hulle weldoener stuurs aangespreek, wat Sophia vreeslik gegrief het, al het sy besef dat die ouer vrou so verbitterd is en haar trots so geknou dat sy nie anders kon nie. Maar sedert Maria se herstel is Esther hom goedgesind. “Die man het ’n goeie hart,” sê sy. “Hy is ’n vrygewige Christenmens.”

      “Hy is ’n engel wat vir ons in ons donker uur gestuur is,” sê Sophia. Sy voel vir hom ’n geneentheid wat met dankbaarheid deurspek is. Sy verskyning net toe hulle op hulle hulpbehoewendste was, is vir haar ’n

Скачать книгу