Sophia se beskermengel. Malene Breytenbach
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Sophia se beskermengel - Malene Breytenbach страница 6
“Uiteindelik is ek terug by die huis. Die pad was lank en swaar,” sê hy, sy stem skor.
Waar is die flinke, sterk man van die verlede, dink Sophia hartseer. Die man wat volbloedperde gery het wat trippel en hoogtrap, nie halfdood aansukkel soos die arme dier waarop hy nou tuiskom nie. Sy het haar skoonvader altyd bewonder. Hy was nog altyd die sterk vaderfiguur, die leier en voorslag na wie sy, almal, opkyk.
Die koei bulk, loop na die kant van die stofpad en begin vreet aan die yl gras.
“Ek het ’n sak meel en die koei,” sê Lodewyk Joubert. “Ek het haar by die Repatriasieraad op Bethal gekry en sy sal darem vir ons melk gee. Hulle het nie meer skape gehad nie. Almal wil hê en die hele omgewing is verwoes.”
Sophia se skoonmoeder vee haar vreugdetrane af. “Kom, ons het kos. Jy dood seker van die honger.”
“Hoe het Vader-hulle hier gekom, al die pad van die krygsgevangenekamp af?” vra Sophia.
“Van Ceylon af met ’n boot tot by Afrika, by die kus af, na Delagoabaai. Van daar af met die spoorweg tot by Middelburg en Bethal. Die krygsgevangenes keer by die honderde, by die duisende, terug. Die kampkommandant het vir my geld gegee. ’n Ordentlike Engelsman, moet ek erken, maar ek was darem ’n offisier en ons het van sommige van hulle respekte gekry. Ek sal julle nog alles vertel, maar eers wil ek weet waar Jakkie en Maria is.”
“Hulle soek iets vir die pot,” sê Sophia. “Hulle soek alewig iets vir die pot.”
“Het Saul-hulle teruggekom? Ek het hom nooit weer gesien nadat ons agterryers en waens by Waterval Boven in ’n Kakie-patrollie se hande geval het nie.”
“Hier is nie ’n enkelte helper nie, my man,” sê Esther. “Ek weet nie wat van hulle geword het nie.”
“Ons sal maar sonder hulp moet sien kom klaar.”
Jakkie en Maria kom gillend aangehardloop. Sophia is so aangedaan dat haar oë brand toe sy sien hoe bly haar skoonsussie en swaertjie is om hulle vader te sien.
“My kinders, my yslike groot kinders,” lag haar skoonvader, maar sy stem breek. “Ek het julle so lanklaas gesien, julle lyk vir my na uitgegroeide lummels.”
“Ek het sommer baie gegroei, Vader,” sê Jakkie trots. “Ek is al amper so lank soos Lood … soos Vader.”
Sophia krimp. Ja, Lood is nou net ’n herinnering. Hulle ouboet is vir ewig weg. Sy vee haar trane af.
“Ek is al sestien, Vader,” sê Maria.
“Maar my! Een van die dae kom die kêrels opsit.”
Maria lag en bloos.
Hoeveel jong mans is terug en in staat om te trou, wonder Sophia. Foeitog, Maria is nou net op die ouderdom wanneer sy wil hê mans moet in haar belangstel. Die naaste bure met ’n seun wat dalk sal belangstel, is die Britse. Benjamin is in sy twintigs, so oud soos Lood. Dalk sal hy wil vlerksleep?
“Ek dag dan die Kakies het die huis heeltemal verwoes,” sê Lodewyk en kyk met verbasing na die gebou. “Toe ons laas hier weg is, was dit net ’n bouval. Hoe het julle dit so goed reggemaak gekry?”
“Die goedhartige vreemdeling wat ons huis toe gebring het en sy twee helpers het ons gehelp,” vertel Sophia. “Hulle het seker ’n week lank hier gebly.”
Lodewyk kyk haar agterdogtig, wantrouig aan. “Vertel my van dié samaritaan.”
“Hy is ’n Kolonialer wat vir steenkool kom prospekteer het, Vader. Hy het ons teëgekom toe oom Josias ons huis toe gebring het. Hy het aangebied om ons plaas toe te bring, want die wa was vol en party van ons moes loop. Hy het vir ons kos gegee, en medisyne vir Maria toe sy weer koors kry. Hier was niks. Sonder hom sou ons skaars oorleef het.”
“Ja, Vader,” sê Jakkie geesdriftig. “Hulle het vir ons kos gegee, ons help bou, en ons het saam gaan jag, en alles.”
“En waar is dié samaritaan nou?” wil Lodewyk weet, sy stem laag en hees.
Sophia hou nie van sy stemtoon nie. “Hy is weer vort. Was dit nie vir daardie man nie het ons van honger omgekom.”
“Wat is die man se naam?” vra Lodewyk.
“Sy naam is Geoffrey Doubell en hy –” begin Sophia, maar hy val haar bars in die rede.
“’n Engelsman?”
Sophia voel meteens dat sy tot die uiterste gedryf is. Nou breek iets in haar en sy kan haar nie meer inhou nie. Haar stem rys histeries. “Ek het reeds gesê hy is ’n Kolonialer en hy het ons vertel sy moeder is Afrikaans. Moes ons sy hulp geweier het toe ons dit so nodig gehad het net omdat sy vader Engels is? Het Vader enige benul hoe swaar ons gekry het? Ons is soos diere weggejaag na ’n kamp waar baie mense van siekte en honger omgekom het. Ons tuiste is verwoes. Ons het honger gely en erger. Ons moes terugkom na niks. Dié vreemdeling het ons uit die goedheid van sy hart gehelp toe Vader en … en Lood … nie hier was om ons te beskerm nie. Wees dankbaar dat iemand bereid was om ons te help.”
Sy bars in trane uit.
“My man, moenie bevooroordeeld wees teenoor daardie samaritaan nie,” sê Esther. “Hy hét Maria se lewe gered en waarskynlik ons s’n ook.”
Lodewyk frons onseker. “Nou ja … dan moet ek seker maar dankbaar wees dat dié man hier aangekom het.”
4
Sophia loop rusteloos om die huis. Sy verlang. Na Lood? Sy wil nie aan haarself erken dat sy vir Geoffrey Doubell mis nie, maar eintlik, diep in haar hart, weet sy dit is so. Sy sien hom heeltyd voor haar, die sterk, skoongeskeerde gesig, hoe mooi hy lag met eweredige wit tande. Dit was ’n plesier om net na hom te kyk. Hy het so lekker gesels oor sy lewe as prospekteerder en oor Pretoria, hoe dit nou daar lyk onder die beheer van die Engelse. Sy lewe is so interessant en hy lyk na ’n intelligente, ontwikkelde mens.
Sy verlang ook na Pretoria waar sy skoolgegaan en veilig in haar oom-hulle se lekker huis gebly het. Hulle was vermoënde mense en daar was geen tekorte nie. Haar niggie Betsie was soos ’n suster vir haar. Hoe geskok sou Betsie tog wees om haar nou te sien! Sy lyk soos ’n arm bywonersvrou in haar gelapte ou rok en uitgetrapte velskoene. Eentyd kon sy klavier speel en mooi sing. Die musiek is nog iets wat sy geweldig mis.
Sy gaan staan voor die plaashuis. Dit lyk al heelwat beter. Dis nie meer ’n bouval nie. Gelukkig was dit ’n stewige sandsteenhuis en daarom het dit nie heeltemal afgebrand nie. Eers het Geoffrey en sy twee manne help regmaak en daarna kon haar skoonvader en Jakkie die mure verder heropbou en die dak met rivierriet dek. Hulle maak eenvoudige meubels van hout wat hulle ver weg gaan kap en met behulp van die arme oorwerkte perd huis toe sleep. Dit sal lank vat voordat mens en dier hulle toestand herwin.
Die oorlog het almal behalwe die verraaiers gestroop en uitgemergel. Niklaas het beslis goed gevoed gelyk en sy perd was sterk en gesond. As sy aan hom dink, word sy woedend maar tog ook bang. Gelukkig het hulle ’n geweer. Om iets vir die pot te skiet, is ’n hele sending. Een koeël moet iets doodskiet, sê haar skoonvader. Hulle mag niks mors nie. Die wild van weleer is weg. Alles is mos geskiet en weggejaag deur die Kakies in hulle kraaltrekke. Hulle moet velle in die hande kry om vir klere en matte en allerhande