Stroomop. Adeline Radloff
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Stroomop - Adeline Radloff страница 1
Adeline Radloff
Na ’n storie en draaiboek deur
Ivan Botha, Donnalee Roberts en Sean Robert Daniels
Queillerie
Van Ivan en Donnalee
Op hierdie rivier wat ons die lewe noem, gaan dit partymaal voel of die waters te diep en te donker is, of jy verdrink in jou eie realiteite, of jy jouself iewers in die vloei van die stroom verloor het. Dis juis dan, mooiste vrou, wat ons jou wil aanmoedig om braaf genoeg te wees om STROOMOP te swem, teen die wêreld se druk en onrealistiese verwagtinge, om jou eie stem te ontdek, om met elke swemslag jou eie norm te bepaal, om uit te vind wat JOU wonderlik uniek maak, en om dit dan te vier … So CHEERS! Cheers op volkome vreeslose, pretensielose, sonder enige oordeel, unieke STROOMOP-VROUE! Mag ons hulle wees, mag ons hulle ken, mag ons hulle grootmaak.
* * *
Aan my drie Stroomop-vrouens … Aan my ma, Elaine, dankie vir die voorbeeld van ’n vrou vol geduld en eindelose liefde.
Aan my dogtertjie, Amèlie, mag jy ’n vrou word wat inspireer en braaf is om ’n stroomop lewe te leef. Be brave, be kind, make a difference. Pappa lief jou met sy hele hart.
Aan my liefde, Donnalee. Dankie dat jy my elke dag leer droom, leer lag, leer jammer sê, leer liefhê. Ek is so dankbaar vir jou vrouwees en dat ons saam die stroom van die lewe kan aanpak. Ek kan nie wag vir ons volgende avontuur saam nie. Ek is mal lief vir jou.
Aan al drie van julle sê ek dankie, dankie dat julle vrouwees my elke dag inspireer om ’n beter seun, pa en man te wil wees.
Liefde
Ivan
* * *
Met soveel dankbaarheid en liefde uit my hart uit …
Aan my ma, Wilma, wat die definisie van ’n Stroomop-vrou is … Mamma is die braafste vrou wat ek ken. Dankie dat ek by Mamma kan leer wat dit is om ’n sterk vrou met ’n sagte hart te wees. Aan my pa, Llewellyn, dankie dat Pappa oneindig glo in alles wat ek aanpak en dat Pappa my laat glo dat ek as vrou tot enigiets in staat is! Dankie vir julle liefde en omgee, julle is alles wat ek streef om te wees.
Aan die liefde van my lewe – Ivan, saam met jou pak ek die rofste waters aan! Jy is so ’n inspirasie en ek eer jou mooi hart en menswees. Dankie vir saam droom en herinneringe gevul met JOY. Dankie vir ’n lewe waarin ek elke dag soos ’n heldin voel, en vir ’n liefde wat een groot avontuur is.
Aan my Hemelse Vader, dankie vir die Oranjerivier. Dankie vir die voorreg om ons passie te mag uitleef en op ’n reis saam met hierdie karakters te kon gaan wat ons siele aangeraak het en ons lewens vir altyd verander het.
Liefde
Donnalee
* * *
woman
No man steps into the same river
twice, for it is not the same river
and he is not the same man.
she woman
Heraclitus
Oomblikke
As dit alles verby is, is dit al wat ons het. Dit is altyd net oomblikke …
* * *
In ’n verafgeleë wildernis sny ’n rivier deur die klipkranse en berge van ’n semiwoestyn, skynbaar onaangeraak deur die mens se bestaan, manjifiek in sy oeroue eensaamheid.
Tot jy weer kyk.
Knip jou oë een keer, en skielik is ’n groot geel opblaasboot duidelik sigbaar. Dit word deur die rivier meegesleur: Dit kap teen halfversteekte rotse, tol deur stroomversnellings, skiet dan soos ’n kinderspeelding in die lug op.
Die boot is skynbaar onbeman, die rivier heeltemal verlate.
Maar kyk van naderby, van nóg nader. Kyk verby die oppervlak tot in die kolkende dieptes, en dan word die spartelende lywe van ’n groep drenkelinge sigbaar.
Elkeen van die vae figure veg op ’n eie manier vir oorlewing teen die mag van die water, hulle spiere tot die uiterste ingespan, hulle hale desperaat.
Vir ’n paar oomblikke lyk dit asof daar geen hoop is nie. Die stroom is te sterk, die figure te nietig. Maar dan breek ’n hand deur die water se oppervlak.
Bebloed.
Sterk.
Vroulik.
* * *
Op ’n ander plek, ’n ander tyd, was ’n moeë jong chirurg die bloed van haar hande af. Daarna loop sy doelgerig die hospitaal se gange af om die slegte nuus aan ’n angsbevange familielid te gaan oordra, haar treë selfversekerd, haar houding professioneel, oënskynlik totaal in beheer van die situasie.
Maar knip weer jou oë, beskou hierdie oomblik vanuit ’n ander hoek, en dit word gou duidelik dat die dokter se skans van koel professionaliteit iets meer weerloos en onseker versteek. Want toe die familielid ná aanhoor van die tyding wil ineenstort, is dieselfde chirurg wat so selfversekerd was in die teater skielik onbeholpe en diep ongemaklik.
Gekonfronteer met die vrou voor haar se rou emosionele pyn, wil-wil die vlymskerp brein wat minute tevore tydens die operasie so kalm was nou deur paniek oorval word. Die mond wat so maklik bevele geblaf het, is stil, en die hande wat die skalpel so sekuur deur die pasiënt se vel kon laat gly, is lam langs haar sye.
Die dokter weet dat sy op hierdie oomblik na die gebroke vrou voor haar moet uitreik. Basiese menslikheid vereis dit.
Maar sy kan nie.
* * *
In dieselfde stad, in ’n spogbuurt nie te ver van die hospitaal nie, klop ’n jong vrou huiwerig aan haar ouerhuis se voordeur. Dis laat in die nag en sy is omring deur ’n klomp haastig gepakte tasse.
’n Statige ouer vrou maak uiteindelik die deur oop. Daar is ’n effense huiwering, die ma oorbluf, die dogter ontwykend, en dan is die pa ook daar, so oorstelp van blydskap dat hy sy dogter in sy arms toevou en wild in die rondte swaai. Daar is uitroepe van vreugde, ’n harde gelag, omhelsings en trane – ’n paar oomblikke van perfekte huislike geluk.
Tot jy weer kyk.
Kyk ’n bietjie meer indringend en let op hoe die dogter haar ma se vraende oë vermy en haar aandag op haar pa toespits. Kyk hoe die ma bekommerd na die tasse voor die deur loer, ’n frons op haar gesig. Merk dat die pa se glimlag miskien té gul is, sy lag te hard, sy vreugde te uitbundig. Amper asof hy vir iets probeer vergoed.
Asof hy weet dat daar, met dié twee vroue, geen ander rol is wat hy moontlik kan speel nie.