1 Recce. Alexander Strachan
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу 1 Recce - Alexander Strachan страница
Alexander Strachan
1 RECCE
DIE NAG BEHOORT AAN ONS
Tafelberg
Opgedra aan
Kol Jan Dirk Breytenbach VRD SD SM MMM
Outeursnota
Hierdie boek gaan oor 1 Verkenningskommando (1 VK), die moedereenheid van die spesialemagte in Suid-Afrika. 1 VK (algemeen bekend as 1 Recce) het van 1972 tot 1981 as ’n onafhanklike operasionele eenheid bestaan. Tog het die vorming en opbou daarvan reeds in 1966 begin.
Mettertyd sou ander gespesialiseerde eenhede hieruit ontstaan, elkeen met sy eiesoortige aanwendingskriteria. Saam vorm die operasionele lede van hierdie eenhede Suid-Afrika se Recces – ’n benaming wat afgelei is van die Engelse woord reconnaissance.
1 VK sou sy eie karakter en stempel afdruk, wat geeneen van die ander eenhede hom kon nadoen nie. Sy eie ontstaan was in ’n era waarin die idee van ’n spesialemagte-eenheid heeltemal ondenkbaar was binne die Suid-Afrikaanse militêre opset. Die dryfkrag agter die vorming van hierdie unieke eenheid was die legendariese kol Jan Breytenbach. Hy is hierin ondersteun deur genls Fritz Loots en WP Louw.
Die Recces is die sambreelterm vir wat later ook ’n burgermageenheid, ’n seewaartse eenheid en ’n pseudo-/swart eenheid sou insluit. Dit was baie dekades ’n sensitiewe en “verbode” woord wat slegs in klein, uitgesoekte groepies gebruik is. Diegene wat openlik daaroor gepraat het, was waarskynlik nie deel van die organisasie nie.
Dit moet egter nie die indruk van groot getalle skep nie. Niks is verder van die werklikheid nie. In enige gegewe stadium van 1 VK se bestaan was daar nooit meer as 67 operateurs nie.
In die beginjare het 1 VK nie streng militêre strukture gehandhaaf nie; dit het op instink eerder as regulasie floreer. Die manne was onopsigtelik en wat voorkoms en kleredrag betref, heeltemal anders as die res van die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW). Hulle was uit verskillende agtergronde en het elkeen ’n eie spesialisasierigting gehad.
Met hul eiesoortige ingesteldheid het hierdie vroeë vormingsgroep van die Recces as die Dirty Dozen bekend gestaan (n.a.v. die 1967-rolprent The Dirty Dozen oor ’n groep dapper valskermsoldate in die Tweede Wêreldoorlog). Dit was nog voordat die eenheid ’n amptelike naam gehad het. Met hul opleiding en operasies het hulle verder as die normale militêre strukture gekyk: Die man wat die beste vir die taak toegerus was, was die spanleier, ongeag of daar hoër range in die groep was. Selfs as dit ’n junior lid was, het hy seggenskap oor die oefening gehad.
Mettertyd het die groep meer gestruktureerd geraak. Dit was steeds ’n moeilike groep manne om te beheer omdat elkeen ’n individu en ’n leier uit eie reg was. Hierdie individualisme en terselfdertyd samehorigheid onder die manskappe het veroorsaak dat hulle nie goed oor die weg gekom het met lede van ander eenhede nie. Daarom het hulle meestal verkies om hulle eenkant te hou en is onafwendbare botsings op dié manier vermy.
Dié isolasie het daartoe gelei dat allerhande stories en mites oor die eenheid die ronde begin doen het. Baie min hiervan was waar. Dit was wel waar dat dit – volgens baie kenners – die skerpste, veelsydigste en dodelikste spesialiseenheid in die ganse SAW was; vir sommige kenners in die hele wêreld.
Tydens keuring en latere oefeninge is die Recces gekondisioneer om honger, dors, vrees, pyn, uitputting en ’n gebrek aan slaap te deurstaan. Die manne was superfiks, bomenslik taai, hoogs opgelei en het vir absoluut niks gestuit nie. Hulle het aan lang en uitmergelende operasies deelgeneem. Hul sukses is toegeskryf aan die intense beplanning, voorbereiding en toewyding wat elke sending voorafgegaan het. Min tyd is op die teiken deurgebring in vergelyking met die weke of maande wat vooraf aan die beplanning en inoefening bestee is.
’n Seewaartse operasie waaraan maande lank beplan en voorberei is, kon byvoorbeeld in ’n enkele nag uitgevoer word. In die geval van stedelike operasies sou daar ná die lang voorbereidingsfase dikwels net enkele minute op die teiken deurgebring word, waarna hulle teruggetrek het.
Die individualiteit van die eenheid was ook duidelik merkbaar in sy leierskapstruktuur. 1 VK kon onderskeidelik met drie kleurryke bevelvoerders spog: kmdtt Jan Breytenbach (Oudtshoorn-fase), Jakes Swart (Durban-fase) en André Bestbier (oorgang van kommando- na regimentstatus). Elkeen het sy eie stempel en karakter op die eenheid afgedruk – elke keer ’n nuwe, innoverende leier vir ’n nuwe tydvak. Die onderoffisiersbevelstruktuur het legendes soos AO1 Trevor Floyd, Koos Moorcroft en Pep van Zyl ingesluit. Onder hierdie sterk leierskap is probleme en oortredings in die eenheid gewoonlik op onkonvensionele wyse opgelos.
So was daar die berugte dirty. Die oortreder moes ’n vol AK47-ammunisiekis van 30 kg dra van Fort Doppies, die Recce-basis in die Caprivi (vandag die Zambezistreek), na die Botswana-grens (of andersom) – ’n afstand van 25 km deur los, sanderige grond. Die ammunisiekis was loodswaar en boonop het sy ongemaklike, skerp hoeke verder tot die pyniging bygedra. Die straf het altyd in die nag plaasgevind onder omstandighede wat gewissel het van uiters warm met muskietplae tot snerpend koud en soms in deurdringende reën.
Dan was daar ook die moontlikheid dat die skuldige leeus, buffels, olifante en selfs mambas op sy eensame staptog kon teëkom. Dit was nie vreemd dat ’n alleenlopende stapper deur ’n leeu gevolg sou word nie. Daar was gevalle waar die kêrel die volgende oggend in ’n boom gekry is met leeus wat hom van onder af dophou. So is kwessies sonder formele aanklagte of papierwerk geskik en kon die daaglikse program sonder verdere gevolge normaal voortgaan.
In die vroeë dae was die manne woes en rof en het sommer op die ingewing van die oomblik in hul woonplekke op die Bluff in Durban begin teiken skiet. Spanning ná operasies is op verskillende maniere ontlaai. Die Durbanse naglewe was ’n gewilde uitlaatklep. Die bevelstruktuur moes dikwels die volgende oggend vure doodslaan nadat die Recces die nag in die strand- en hawegebied was.
1 VK was bevoorreg om oor baie wye aanwendingsmoontlikhede te beskik. Al die operateurs was gekwalifiseerde valskermspringers en kenners van springstof, boskuns, wapenhantering, seinverbindings, rotsklim, ontsnap-en-ontwyking, oorlewing, kamoeflering en mediese noodbehandeling. Hierdie wye spektrum kundighede is tydens operasies ingespan om die vyand te fnuik en te uitoorlê. Elke lid in die span het eie inisiatief en leierskap aan die dag gelê. Hulle was min in getalle en het altyd teen ’n veel groter mag te staan gekom.
Daar het ’n hegte kameraadskap tussen die manne geheers wat vandag nog voortgesit word, lank nadat hulle die eenheid verlaat het. Die beginsel van “een vir almal en almal vir een” het deurgaans gegeld. Dit is hierdie broederskap wat hulle deur moeilike tye gedra het en hulle het mekaar in toekomstige tye op alle vlakke bly ondersteun. Tydens operasionele tye is groot klem op sekerheid (geheimhouding) geplaas en lede sou nooit probeer uitvind waarheen hul makkers ontplooi is nie. Hoe minder jy weet, hoe beter, want dit skakel die moontlikheid van ’n sekerheidsbreuk uit.
In die boek word eers ’n kort oorsig gegee van die Recces se aanwending in sowel 1 VK as die latere 1 Verkenningsregiment, wat in 1981 uit 1 VK ontstaan het. Die leser kry insae in hoe hulle ontplooi en aangewend is, onder meer in bosoorlog- en stedelike oorlogvoering, pseudo- en voertuigoperasies, tweeman-verkenningsmissies en ontplooiings met valskerms en op riviere en ter see.
Die Recces het in die nag in klein groepies ver agter vyandelike linies geopereer. Weens hul geringe getalle kon hulle nie op swaar vuurkrag steun nie en het eerder op steelsgewyse optrede en verrassing staatgemaak. Die moedereenheid, 1 VK, het slegs ’n hand vol operateurs gehad, ongeag verskeie werwingspogings. Die leser kry ’n kykie agter die skerms op aspekte soos die stigting, keuring en volledige opleidingsiklus en gaan saam op verskeie deurslaggewende operasies