1 Recce. Alexander Strachan
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу 1 Recce - Alexander Strachan страница 5
Lede van die plaaslike bevolking wat kom hout kap of net ronddwaal is altyd ’n groot probleem. Ook boerbokke kan ongewenste aandag op die groep vestig met hul eienaardige gedrag om na iets vreemds in die veld te bly staar. Dan was daar die gevaar van honde wat kom rondsnuffel – vir dié doel is ’n .22- of .32- gedempte pistool byderhand gehou. As die hond hulle ruik of opspoor, is hy geluidloos geskiet waarna die operateur versigtig uit sy stelling opgestaan en die dier onder bosse ingesleep het. Geen ander beweging is in die skuilplek toegelaat nie – niemand mag iets eet, koffie maak of selfs ’n toilet-draai loop nie. Almal het doodstil lê en wag vir die nag om hulle uiteindelik soos ’n ou vriend te verwelkom.
In die vroeë 1980’s het die Suid-Afrikaanse oorlogsfront begin verander en het die fokus nie net op die bos nie, maar ook op stadsomgewings begin val, en het stedelike oorlogvoering in werking getree. Geïnspireer deur die Israeliese spesialemagte se aanval op 4 Julie 1976 op die Entebbe-lughawe in Uganda om ’n groep gyselaars te bevry, is ’n aantal operateurs van 1 Recce Israel toe gestuur om ’n kursus in stedelike oorlogvoering te doen. Daarna het die Recces hul eie kursusse ontwikkel wat toepaslik was vir die omstandighede waaronder hulle gewerk het.
Net soos die operateurs die bos tot hul voordeel aangewend het, het hulle nou die beboude gebied se skadu’s, geraas, kleredrag en verkeer uitgebuit om met die stadsomgewing saam te smelt.
Hulle het burgerdrag in die vyandelike stede gedra en hul wapens onder hul baadjies versteek. Hulle sou in los groepe loop, die wat kon sou in die plaaslike taal met die mense praat, en hulle sou agterdogtige bewegings sowel as enige militêre formasies vermy. Afhangende van die operasie kon die Recce-operateur hom as ’n toeris voordoen wat na kuierplekke of nagklubs soek.
Die teiken in die stad is vooraf in detail bestudeer om die span op hoogte te bring van die uitleg, verkeerspatrone en wegkruipplekke. Soms is boemelaars en hul gewoontes dopgehou en dan sou die Recces soos hierdie mense aantrek en optree sonder om aandag te trek.
Omdat die stede altyd diep in vyandelike gebied was, het die vyand ’n valse gerusstelling gehad dat hulle veilig en buite bereik van optrede teen hulle is. Wanneer die eerste skote klap en die skokgranate afgaan, het dit altyd as ’n totale verrassing gekom.
Die doel van die operasies was om vyandelike hoofkwartiere en skuilplekke aan te val en dokumentasie en ander bronne van inligting bymekaar te maak. Daarna is springstofladings in die teiken geplaas om dit heeltemal te vernietig. Ná die aanval het die Recces onmiddellik weer in die stad tussen die geboue, hole en strate verdwyn om na ’n voorafbepaalde plek te beweeg om onttrek te word.
Om so ’n operasie suksesvol uit te voer, moes daar vooraf ’n behoorlike stedelike verkenning gedoen word. Die verkenning is gewoonlik deur een man (soms twee) gedoen, wat een of twee keer by die teiken verbygery of gestap het. In die proses is ’n magdom inligting versamel: hoe lyk die deure en watter kant toe maak dit oop; is daar diefwering en hoe sterk is dit; is daar pype wat die aanwesigheid van gas in die kombuis verklap; en hoe lyk die deurslotte?
Al hierdie en nog baie meer inligting word deeglik in die verbygaan gememoriseer en foto’s met versteekte kameras geneem. As voertuie gebruik is, sou EMLC1 (hoogs gekwalifiseerde ingenieurs by die Spesmagte-hoofkwartier) onsigbare kameras reg rondom die voertuig aanbring wat van binne af beheer kon word.
Hierdie operasies was uiters gespesialiseerd en operateurs is soms seelangs na die teiken gebring, of andersins per helikopter na ’n bepaalde punt van waar hulle te voet verder gegaan het. Soms het Puma-helikopters hulle met motorfietse en al ingevlieg en, afhangende van die situasie, sowat 50 km buite die stad afgelaai. Die spanne het dan die teiken met hul kragtige 500 cc Honda-veldmotorfietse genader. Terwyl die operateurs die teiken aanval, hou hul makkers die motorfietse aan die gang.
Ná die operasie laai hulle die aanvallers op en ry na ’n voorafbeplande landingstrook om uitgelig te word. ’n Tipiese aanval op ’n teiken sou soms net ’n minuut of twee duur. Dit was altyd ’n totale verrassing en die spanne was reeds uit die teikengebied nog voordat die vyand kon reageer.
1 Recce was baie goed opgelei in stedelike oorlogvoering; dit was trouens een van hul belangrikste spesialisasierigtings. Soms is agente gebruik om voertuie in die teikenstad te verskaf. In sulke gevalle is die spanne van die see af gelanseer en het hulle die agente op die strand ontmoet. Hulle het dan na die teiken gery en met dieselfde voertuie teruggekom strand toe om onttrek te word.
Met stedelike operasies het die span stadsgeluide tot hul voordeel gebruik. Hewige verkeer of ’n vliegtuig wat oorvlieg het skote van veral gedempte MP5’s en AK47’s (submasjiengewere wat met knaldempers toegerus is) versag. Die operateurs het soms spesiaal ontwerpte baadjies gedra waarin wapens en uitrusting versteek kon word. Die baadjies het by die plaaslike kleredrag ingepas, maar het ’n Kevlar-versterking gehad wat hulle teen skrapnel en kleingeweervuur beskerm het.
1 Recce het in die middernagtelike ure soos skimme in vyandelike stede rondgesluip van donker kol tot donker kol. In noodgevalle het hulle spoorloos in die ondergrondse stadstruktuur verdwyn. Nes hulle die Afrika-bos gebruik het om hulle onsigbaar te maak, is die stadstrukture vir dieselfde doel aangewend.
See- en rivieroperasies is ook gedurende donkermaan en half- en kwartmaan uitgevoer. Hulle het hawens en kusteikens onopsigtelik in spesiale bote met lae profiele en gedempte enjins genader en geïnfiltreer. Die talle donker plekke in die hawegebied is ideale skuilings.
Ook rivieroewers het skadukolle waarin die teiken ongesiens genader kan word. Die span trek kamoefleernette oor die kajakke en verdwyn met die stilroei-tegniek – met die water as hul waardevolste teenspoorsny-bondgenoot.
Hulle kies hul landingsplekke baie versigtig om nie verdagte spore op die oewer agter te laat nie en dra skoene wat met die vyand se soolpatroon toegerus is. Soms het hulle “olifantvoete” – ’n soort kous van seil – bo-oor hul stewels getrek om hul spore te verberg. Olifantvoete se soolgedeelte het spons bevat wat ’n ovaalvormige spoor met ’n dowwe, onduidelike vorm agtergelaat het. Van die manne het hul olifantvoete snags as kussings gebruik. Die operateurs sou ook kaalvoet uit die bote klim, veral as daar baie vissermanne in die gebied was. Sodra hulle by ’n veilige en geskikte plek kom, word die stewels met die vyande se soolpatroon weer aangetrek.
Samewerking tussen die verskillende Recce-eenhede was van kardinale belang om operasioneel doeltreffend te wees. Net so belangrik is die rol van die ondersteuningspersoneel. Sonder die regte toerusting, vervoer, mediese hulp, logistieke steun en finansiële gemoedsrus kan die Recce nie behoorlik op sy taak fokus nie.
Dit is ook belangrik dat sy huishouding in sy afwesigheid steeds funksioneer. In dié verband moet die rol van die vroue nooit onderskat word nie; hulle sorg dat skoolbywoning, opvoeding van die kinders en daaglikse instandhouding voortgaan, sodat die operateur uiteindelik na ’n veilige en geordende hawe kan terugkeer. In 1 Recce se sukses het die ondersteuningskomponent net so ’n integrale rol as die operasionele komponent gespeel.
1
Eerste optrede
Die denke agter die vorming van 1 VK kan so ver teruggevoer word as die 1960’s. Dit was in hierdie vroeë dae van die Bosoorlog toe die eerste Suid-Afrikaanse aanval in Ovamboland op 26 Augustus 1966 op Swapo se Ongulumbashe-basis uitgevoer is.
In daardie stadium is slegs die SA Polisie (SAP) aangewend om Swapo-insypelaars in Suidwes-Afrika (SWA) te beveg. Kapt Jan Breytenbach se span van agt valskermtroepe moes dus eers as “spesiale polisielede” beëdig word sodat hulle die basis saam met die polisiemag uit helikopters kon aanval. Saam met Breytenbach was Kaas van der Waals, Wouter Hugo, W Burgess, Yogi Potgieter, J Snyman, Tilly Smit en Johnny Kruger.
Die