Ter wille van geluk. Naretha Franken

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ter wille van geluk - Naretha Franken страница 5

Ter wille van geluk - Naretha Franken

Скачать книгу

dinge het ook gepla. Daar was iets aan hom wat sy nie kon plaas nie. Soms was hy net ’n totale vreemdeling. Die kyk in sy oë, die manier waarop hy gestap of gesit het. ’n Koue hand het al stywer om haar hart begin klem. Sy was huiwerig om aan haar vrese ’n naam te gee. Hy sou tog nie so dom wees om …

      Hoewel sy dit nie wou glo nie, het al hoe meer van sy reaksies en handelinge daarop begin dui.

      Dwelms!

      Die dag wat sy sonder om te klop by sy studeerkamer ingestap het, die wit poeier voor hom op ’n stuk papier op die lessenaar gewaar het, daardie dag het sy gedink sy gaan dood.

      Hy het woedend opgespring en haar begin uittrap. Hoe durf sy sonder om te klop hier instorm!

      Sy kon hom net verslae aanstaar. Haar hart het van teleurstelling gepyn. Hoe kon hy? Hoe kon hy dit aan haar én aan homself doen? Waar sou hy die goed kry? Is dit wat hy by Chrismor Villas gaan doen, of wag daar nóg skokke op haar?

      Die blou oë het groot en verwytend in sy kop gestaan.

      Stil het sy omgedraai en by die agterdeur uitgestap. Sy moes vars lug kry. Hoe ver sy gestap het, kan sy nie eens onthou nie, maar dit was donker toe sy uiteindelik omgedraai het.

      In stilte en met baie gebede het sy gewag vir die regte tyd om met hom te praat. Genadiglik het hy ingestem tot behandeling en is hy vir twee weke na ’n privaat kliniek. Keer op keer het hy egter die opvolgbesoeke misgeloop en slegs ’n paar maande later moes hy weer teruggaan. Dié keer vir twee maande.

      Die plaas is in die hande van betroubare plaasbestuurders gelos. Elke tweede aand het sy hom gaan besoek. Vir hom skoon klere en ietsie lekkers geneem. Dankbaar het sy met elke besoek ’n stukkie van die ou Christiaan teruggekry. Dit het begin voel of haar lewe weer koers kry.

      Sy het die huis omgekeer en behoorlik skoongemaak. Nuwe beddegoed en strooikussings in die sitkamer moes die plek bietjie ophelder. Sy was opgewonde oor ’n nuwe begin.

      Maar toe, deur ’n onskuldige vraag, word haar lewe in sekondes weer onderstebo geruk.

      “En jy? Ek dog jy slaap lankal,” breek haar ouma se stem deur Marina se pynlike gedagtes. “Ek sukkel ook vanaand om te slaap, seker bietjie oormoeg. Wil jy tee hê? Ek gaan maak.”

      Marina skuif verskrik, tog bietjie verlig, op teen die leuning van die bank en sukkel ’n oomblik om na die hede te kom. “Dankie, Ouma, dit sal lekker wees. Myne het gestaan en koud word.”

      Sy dop die lêer in haar hand gou om en maak een van die ander op haar skoot oop. Die laaste ding wat sy wil hê, is dat haar ouma nou begin vrae vra. Haar liggaam pyn behoorlik van ingehoue spanning, en haar voete het yskoud geraak.

      Die pyn en vernedering van jare gelede lê weer vlak in haar binneste en die begeerte om weg te hardloop wil-wil net kop uitsteek. Hoe gaan sy deur die nag kom?

      Susan sit Marina se beker tee voor haar op die tafel en gaan sit op die bank oorkant haar. Haar oë gaan lê sag op haar kleindogter. “Ietsie waarmee ek kan help?”

      Susan ken haar kleindogter goed genoeg om te weet hier is groot fout. Die seer en stille hulpkreet lê vlak in die bruin kykers, en uit ondervinding weet sy dat daar net een persoon is wat daardie bruin bokkie-oë so kan laat lyk.

      Daarom besef sy ook dat sy baie versigtig sal moet wees en Marina kans moet gee om te verwerk wat ook al nou in haar woed. Vermoedelik het een van die pasiënte se lêers haar weer aan daardie tydperk in haar lewe herinner. ’n Tydperk waaroor sy tot vandag toe nog swyg nes die naam wat nooit weer genoem is nie.

      “Moeilike gevalle?” vra sy sag. Haar hart pyn toe sy die verligting in Marina se lyftaal sien.

      Marina lag kamma ongeërg en strek haar eers uit voordat sy opstaan en na die bank agter haar verskuif. “Gelukkig darem nie almal nie. Die helfte is ou pasiënte wat Lizel sommer bygesit het sodat ek kan inhaal.”

      Hulle gesels ’n rukkie oor van die pasiënte, later oor die vakansie wat verby is totdat Susan se teekoppie leeg is en sy Marina se leë beker by haar neem en kombuis toe stap.

      Marina luister hoe haar ouma die teekoppies uitspoel. Die spanning wat vir ’n oomblik kans gekry het om te lig is weer aan die terugkeer.

      Sy sal nie hier kan opstaan voordat sy weet wat agter Christiaan se teenwoordigheid skuil nie.

      Toe haar ouma oomblikke later weer inloer om nag te sê, sit Marina op die mat met ’n lêer op haar skoot.

      “Dan sê ek maar weer nag. Moenie te laat werk nie, jong, en sit ’n kussing onder jou sitvlak. Môre het jy nierprobleme en dan weet jy nie waar jy daaraan kom nie.”

      Marina glimlag en trek dadelik een van die kussings van die bank af en druk dit onder haar in. “Oukei, moeder Teresa. Tevrede?”

      Haar ouma knik. “Lekker slaap.”

      “Ouma!”

      Ouma Susan draai om en loer oor haar bril na haar kleindogter.

      “Sal Ouma asseblief vir Stiaan ’n paar dae kan weghou van die kliniek af? Hier is ’n paar gevalle waaraan ek hom nie graag wil blootstel nie.”

      “Ek kan probeer, maar jy weet hoe die mannetjie is. Jy dink nog hy is hier, dan …”

      “Ouma, dis baie belangrik. Ek soek hom die volgende paar dae nie naby die kliniek nie.”

      Susan frons liggies. Marina se ontsteltenis bevestig net haar vermoedens – tussen Marina se vinnige besoek aan die kliniek vanmiddag en haar tuiskoms het iets drasties verkeerd geloop. Sy het haar lanklaas só gesien.

      “Ek sal my bes doen, hartjie. Ons twee kan sommer môre bietjie dorp toe ry en by Leendra en die tweeling gaan kuier. Stiaan geniet dit om daar te gaan speel.”

      “Dankie, Ouma.” Marina laat sak haar oë na haar hande.

      “Jy weet dat ek hier vir jou is, my kind. Enige tyd – dag of nag. As jy ’n oor nodig het, sal Ouma luister. Jy het nie nodig om alles altyd alleen te probeer dra nie.”

      Marina vee met die agterkant van haar hand die trane van haar wange af. “Ek weet, Ouma. Dankie. Ek sal later verduidelik, net nie vanaand nie.”

      “Dis goed. Ek wil nie druk op jou sit nie. Net as jy wil en wanneer jy gereed is.”

      Die lêer lê weer oop op haar skoot. Die prentjie van Christiaan van Breda helder in haar gedagtes.

      As sy hom nie geken het daardie dag wat sy hom by die kliniek gaan haal het nie, sou sy net daar halsoorkop op hom verlief kon geraak het. Hy het weer soos die jong student gelyk wat haar hart gesteel het. Die rooierige kleur wat die laaste paar maande eie aan sy gelaat geword het, was heelwat ligter en die vlootblou gholfhemp het sy oë nog blouer laat vertoon. Die donker kuif was skoon gewas en teruggekam.

      Die wind het liggies in sy hare begin baljaar terwyl hy haar tegemoetgestap en omhels het. Die twee maande het hom goed gedoen.

      Daar, in sy omhelsing, het sy gedink: Te hel met alles en almal. Dié man is myne en dit gaan hy bly.

      As dit maar so maklik was. Sy kon eenvoudig nie alleen teen die euwel van dwelms en drank baklei nie. Ongelukkig het

Скачать книгу