Wanneer water wyn word. Jacqueline Leuvennink
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Wanneer water wyn word - Jacqueline Leuvennink страница 4
Een middag sit en werk ek en Dawn vraestelle by die huis uit. Daar is weer klein eendjies in die kombuis. Ons begin redekawel oor iets en toe ek my kom kry, beland een onder my voet. Ek probeer nog keer, maar dis reeds klaar met kees. Ek buig af en sit nog verstom met die dooie eendjie in my hand toe ek Ma se voete sien aankom. Haar swart skoene gaan vinnig op en af. Ek smyt die huiswerk eenkant toe en begin hol vir ’n lewe. Vandag slaan sy my sowaar dood. Ek spring oor die picket fence en gaan skuil agter die kliniek.
Ma is soos ’n broeis hen oor daai pluimvee. Ons mag nie eens die eiers uit die nes gaan haal nie en nog minder met vetterige hande daaraan raak. Net sy weet ook watter eiers gelos moet word vir later se uitbroei.
Toe ek weer sien, is Dawn by my, vies omdat sy nou ook sommer moet deurloop terwyl ek die eintlike sondaar is. Ek kon tog nie help dat die eendjie onder my voete beland het nie!
Later bewe ek darem nie meer so erg nie. Ek troos my deur te dink dat dit gelukkig met Ma is soos wanneer ’n mens jou hand in ’n nes steek en die kwaai, beskermende hen se vlerk later moeg word van die slanery.
En tog is ek lief vir my ma. Sy is ’n doener wat dinge bymekaarhou. Jy sal haar nooit verveeld sien rondstaan soos sommige vroue nie. Sy sal sommer gou sê sy het nie tyd vir sit en skinder nie. Hulle moet haar nie kom hênner nie. Sy het werk om te doen. Party mense dink seker sy hou haar ’n bietjie opstêrs. Die anties sê darem vir mekaar jy kan van die grond af eet in Dina se huis.
Ek wens net soms Ma het liewers nie so ’n bytjie in haar hoedjie oor skoonmaak nie. Ons skrop vloere tot jy later jou gesig daarin kan sien blink. Nie dat iemand dit ooit sal waag om daaroor te sug of te sanik nie; die gevaar vir ’n oorveeg is net te groot. Dit voel vir my ons werk baie meer in die huis as wat ons skoolwerk doen of speel. Dit laat die mense praat. Hulle sê ons word ernstig grootgemaak.
Pa is ook fluks, ’n man met ’n vurige houding. As klein kind is hy vir my alles. Naby hom kan ek my eie bangheid eenkant sit. Ek het maar nog ’n dun skilletjie vir ’n vel. En Pa is nie die hoed-in-die-hand soort nie; hy deins vir niemand terug nie. Sy naam is eintlik John Brutus, maar die mense noem hom Djannie. Net Ma noem hom Jannie. Hulle het eers getrou toe ek so vier was. Ek kan vaagweg onthou dat ek in die vensterbank gesit en kyk het toe hulle gaan trou het.
Pa is ’n voorvatter by die visfabriek. Seker dié dat hy nie veel by die huis help wanneer hy uit die werk kom nie. Hy ry groot trokke kreef Kaap toe en ander dae gaan haal hy aas met die trekker en wa in St. Helenabaai. Met die terugry fabriek toe, stop hy eers voor in die pad sodat almal gou met hul komme uitgehardloop kan kom en ook ’n paar aasvissies vir die pot kan kom skraap. Daar is mos niks verkeerd met makriel nie, sê die anties.
By die huis is Pa tamaai streng. Ons is vir hom nog versigtiger as vir Ma. Wanneer hy smiddae uitklok, mag ons nooit stilstaan wanneer hy by die huis kom nie. Maak nie saak dat ons nou al heeltyd take gehad het vandat ons ná skool ons broodjies geëet en ons klere uitgetrek het nie.
Die ander kinders van die dorp speel bofbal en sulke goed in die strate. Ek hou ook baie daarvan. Maar ons kan nie regtig lekker met hulle speel nie. As die huis skoon is en ons die slag toegelaat word, is dit maar ’n swaar speel. Ons moet heeltyd dophou wanneer Pa met sy vurige stappie, hoed op die kop – hy dra so ’n agnaatkeppie – pad af kom. Soms gesels hy nog met ons buurman, oom Frensco, wat net bo ons woon, ant Kort Joyce se man. Maar sodra een van ons hom sien aankom, spaander ons om by die huis te kom.
Party middae gooi my susters sommer water uit die emmer op die vloer uit as hulle Pa sien aanstryk huis toe. Of hulle smyt hul panty-laai uit. Enigiets om tog net besig te lyk. Pa is kort van draad en hy glo die huis is Ma en ons se werk. As hy ons uitvang dat ons niks doen nie, gaan hy so tekere dat die anties oor die onderdeure begin loer. Ons werk dus maar liewers. Ons weet Pa kom eintlik net sy werksklere uittrek voor hy met die ander manne Krans toe gaan.
Smiddae ná werk gooi baie mans hul geldjies bymekaar vir ’n flagan wyn by die Krans. Dis naby ons huis waar jy van die hotel af kom. Dan sit hulle soos ’n klomp brommers op ’n brood daar by die ou bar en vrotwyn drink. Vaaljapie en Virginia. Goedkoop dronkmaakwyn, omkapwyn.
Daar waai baie opslagstories van die Krans af see in. En sommer ook als wat wys en verstandig is, sê Ma met ’n mond wat bitter trek. Sy weet die wyn beteken net moeilikheid. Ná ’n paar doppe is die kans goed dat Pa weer twissoekerig by die huis sal aankom en sy is gewoonlik die een wat dit dan die meeste moet ontgeld.
Hoofstuk 5
Ek is ’n gehoorsame kind, een wat hoog kan spring om uit die moeilikheid te bly. Dis soms of Pa seuns van ons wil maak. As hy hout vir die vuur nodig het, maak hy ons op ’n stomp sit sodat hy die hout kan saag. Partykeer stuur hy my ook vrugtetrok toe om te gaan kyk hoeveel kos die lemoene. Dan moet ek seker maak ek weet als wat op daardie trok aangaan. Om net te kom sê die lemoene is R5 vir vyf is nie goed genoeg nie. Jy moet kan vertel wat nog daar is en wat dit kos.
Ma leer ons ook om op te let. Sy sê altyd ’n mens moet oë agter jou kop hê. As iemand verby jou loop, moet jy weet wie dit is en waarnatoe hy gaan.
Ons gaan heeljaar kaalvoet skool toe, almal in donkerblou pleated rokkies met ’n girdle om die lyf en ’n koningsblou hempie. Ons loop selfs in die winter kaalarm. Ma laat net soms toe dat ons ons wit Sondagskool-jerseys aantrek. Sy is gesteld daarop dat ons altyd netjies lyk, hare gevleg dat jou kopvel daarvan span. Later, toe ek al ouer is, erf ek gelukkig ’n paar swart skoene by Karien Lenorie. Nou is my voete nie meer so dood van die winterkoue nie.
Pa en Aubrey Lenorie is vriende. Soms drink hulle ’n glasie wyn saam. Die Lenories is dierbare wit mense. Ek geniet dit om by Karien-hulle te gaan kuier. Hulle woon net ’n entjie van ons af. Op koue dae val die sonlig lekker warm in die vertrek waar ons smiddae skool-skool kan speel. Dit loop uit die kombuis uit. Mies Lenorie bederf ons graag met koekies of ander eetgoedjies. Dit ruik altyd lekker daar.
Somersdae wanneer die water spieëlglad lê en blink, speel ons op die voorstrand in die poeletjies water by die rotse. Daar is knobbelrige mossels en see-anemone waarin ons ons vingers kan steek. Niemand van ons leer juis swem nie. Ma sê altyd vir ons sy hou ons uit die huis uit dop en ons mag nie in die water gaan nie. Ons sal verdrink. Ek luister, want ek hou nie van pak kry nie.
Maar later kom ons agter Ma kan ons mos nou nooit van agter die huis sien waar sy wasgoed was as ons onder op die voorstrand is nie. En op ’n warm aand is omtrent die hele Paternoster in die water. Dis alte jolly. Jy sien net orals koppies by die water uitsteek. Dan kyk ons wat die ander kinders doen en vat ook maar ’n kans – die een hou die ander een dop lat jy nou nie sink of sak of kop onder die water gaan nie.
Ná die hitte van die dag is die koue soutwater al wat saak maak. Dit maak jou tot in jou kop in koel. Dis ’n vrolike gespat en geplas en almal om my is propvol skerts en lag en snaakse sêgoed. Ek dink daar word elke dag op Paternoster nuwe sêgoed gebore.
Vakansietye kan ons soggens eers ’n bietjie buitekant in ons pajamas speel voor ons moet gaan was en aantrek. Soms speel ons kennetjie. Dan is dit nie lank nie