Ena Murray Keur 19. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 19 - Ena Murray страница 4

Ena Murray Keur 19 - Ena Murray

Скачать книгу

met ruggraat wat hier grootword en elders ’n pad na ’n beter toekoms probeer uitkap. Die mense van die opstal verwag hulle moet dink en voel en optree en hulle gedra soos húlle “die voorbeeld stel”. En dan stel so baie nog ’n skewe voorbeeld ook, dink sy wrang.

      Môreoggend moet die Marthas wat in daardie luukse huise werk, kraaknet en skoon by die kombuis instap. Miempie het al baie gewonder hoe hulle dit tog regkry. Dikwels is daar nie eens ’n kraan naby nie, moet water ’n ver ent in emmers en konkas aangedra word vanaf ’n rivier of ’n gronddam. Daar is nie elektrisiteit nie, maar die uniforms wat deur die boer se vrou verskaf word, moet netjies gestryk wees. En haar kinders moet skoon en netjies wees, al werk sy soms tot baie laat. So ook haar man se oorpak wanneer hy môre sy bevele ontvang.

      Miempie laat sak haar ken in haar hand waar haar elmboog op die stuurwiel druk … en vir die soveelste keer wonder sy watter soort mens sý sou gewees het as God haar vel anders geverf het. Opnuut vul haar hart met deernis. Arme Martha … en arme Maria … Sy bid byna hardop dat die Vader sal verhoed dat Martha swanger word voordat sy weer hierlangs kom. Miskien sal sy haar volgende keer kan oorreed om die inspuiting te neem.

      Sy skakel die enjin aan, voel nie daarna om vandag die gebruiklike koppie tee by Laura de Jongh te gaan drink nie. Eers het daardie man haar ontstig, toe het Martha haar ontstel en nou kan sy die jonge Maria nie uit haar gedagtes kry nie. Nie dat Maria veel jonger is as sy nie. Sy is vier-en-twintig en Maria negentien. Maar van die eerste oomblik af dat sy Maria gesien het, het ’n beskermingsdrang in haar posgevat. Maria se steil hare is nie die enigste eienskap wat haar uitsonder nie. Daar is iets in haar oë en in haar houding wat Miempie onmiddellik getref het.

      Ook Maria se deursettingsvermoë verstom Miempie. Twaalf kilometer per skooldag loop sy heen en weer skool toe, in alle weersomstandighede. In die winter moet sy reeds donker in die pad val om betyds te wees, en namiddae is daar ’n kort ligdag oor wanneer sy die huis bereik. Dan word sy nie gespaar nie. Sy is die oudste. Sy moet help met die bondels wasgoed, want hier is dit nie ’n geval van een aan die bas, een in die was en een in die kas nie. Daar is nie ’n kas nie. Dis in die was of aan die bas.

      Of daar moet fynhout gemaak word, die werf moet gevee word, of die kleintjies moet gewas word. En vanaand wanneer daar miskien eindelik tyd is om by skoolwerk uit te kom, is daar agt ander mense om haar in die tweevertrekhuisie. Die een lag en die ander huil en almal gesels. Vroegaand word die kers of paraffienlampie doodgeblaas, want môre wag nog ’n harde werkdag. Daar is in elk geval nie ’n kers beskikbaar vir Maria om by te studeer nie. Kerse is duur. Kerse vra geld.

      Maria se skoolresultate is dus heel gemiddeld, maar dat sy tot graad twaalf gevorder het, bly vir Miempie ’n raaisel.

      Miempie draai die kombi se neus in na die opstal toe sy die uitdraaipad bereik. Dit sal snaaks lyk as sy nie hier inloer nie. Maar sy sal net verskoning maak dat sy vandag nie tyd het vir ’n koppie tee nie.

      Sy kom nie so maklik weg soos sy gehoop het nie. Haar tee is klaar ingeskink toe sy sommer deur die kombuis vorentoe stap.

      “Ek het jou sien aankom en solank jou tee ingeskink. Dag, Miempie. Kom sit. Kry ’n koekie.”

      “Middag, tannie Laura.” Sy het geen keuse as om maar die aangebode koppie tee te neem nie. Laura de Jongh was nog altyd baie gaaf teenoor haar en het haar nog altyd tuis laat voel. Anders as wat die geval is by baie ander plase. Daar word die distriksverpleegster formeel as suster Rust aangespreek. Dikwels gebeur dit dat sy weer wegry sonder dat sy die vrou van die huis met ’n oog gesien het. Maar nie op La Rhône nie.

      “Alles nog reg?” stel die ouer vrou die gebruiklike vraag.

      Miempie skud haar kop. “Nie so alles reg vandag nie. Martha weier om die inspuiting te neem.”

      “Martha Benjamin?”

      “Ja. Klaas wil nog ’n kind hê. Ek het probeer praat … Tannie Laura, dit gaan nie net om te veel kinders nie, of te veel monde nie. As mense net wil besef dat twee of drie kinders hul eie lewenstandaard sal verbeter en aan die kinders ’n beter kans vir ’n beter toekoms sal gee!”

      “Ek weet, Miempie. Dis in so baie lande ’n probleem. Wat wil Klaas met nog ’n kind maak?”

      “Martha sê hy sê dis sy rykdom.”

      “Sy armoede en ellende, ja.”

      “Maar daar is iets wat my baie meer ontstel. Hulle weier ook dat Maria iets met voorbehoeding te doen moet hê.” Sy glimlag wrang. “Hulle hoop blykbaar sy sal haar vasvry en ’n man vat sodat sy van hulle nekke af kan kom. Kan tannie dink dat ouers só kan redeneer?”

      Daar is ’n voetstap by die deur en die kroonprins van die plaas, soos Miempie baiekeer aan hom dink, kom binne. Haar gesig verstyf onmiddellik.

      Hoewel Emile dit sien, glimlag hy en laat vriendelik hoor: “Is daar ’n koppie tee vir my ook?”

      “O, Emile!” Sy ma kyk hom verras aan. “Jy het nog nie vir suster …”

      “Ja. Ons het ontmoet, netnou by die boorde. Maar sy was toe nie juis te vriendelik nie. Ek hoop haar luim het al gesak.”

      Laura kyk van die een na die ander, sien hoe Miempie se gesig onleesbaar word en sy rig ’n waarskuwende blik op haar seun. Maar voordat sy iets kan sê, sit Miempie haar koppie neer en staan op.

      “Tannie sal my regtig nou moet verskoon. Ek moet nog by ’n paar plase aangaan. Dankie vir die tee. Tot siens.”

      Sy stap ook summier uit, maar toe sy by die kombi kom, is daar ’n hand voor hare op die deurknip.

      “Genugtig, maar jy is darem ’n krapperige entjie mens. Wat byt jou?”

      Haar blik flits na hom. “Ek is haastig, meneer De Jongh.”

      “Jy was nie ander kere so haastig nie. Ek sweer jy sou nog gesit het as ek nie ingekom het nie.”

      “Meneer De Jongh …”

      “Die naam is Emile, Miempie.”

      “Asseblief, ek het werk om te doen.”

      Hy lyk eerlik verbaas. Hy is nie aan so iets gewoond nie. Die skoner geslag is altyd die ene glimlaggies wanneer hy met hulle gesels. Hy frons, kyk haar ondersoekend aan. “Wat is dit met jou? Wat het ek gedoen om jou antagonisme te verdien?”

      Juis omdat sy weet hy het die volste reg om so ’n vraag te vra, en juis omdat sy besef dat sy haar buitensporig vererg het toe hy haar so staan en beskou het, raak sy net nog stroewer. “Meneer De Jongh, jy het niks gedoen nie. Ek hou net nie van die onnodige aandag wat jy skielik op my uitstort nie, en beslis nie in my werktyd nie. Jy kan dit seker bekostig om ledig te wees, maar ek nie. Verskoon my dus asseblief.”

      Hy laat toe dat sy sy hand van die deurhandvatsel wegdruk.

      In die truspieël van die kombi sien sy dat hy op dieselfde plek bly staan tot sy uit sig verdwyn.

      Emile se oë is peinsend op die grond voor hom gerig. En dis nou wat sy ma beskou as goeie materiaal vir ’n toekomstige vrou. Beduiwelde Miempie. Dan grynslag hy. Miskien dink sy ma hy het ’n kwaai vrou nodig. Iemand wat hom gereeld, en soms ook sonder rede, op sy plek sal sit. Iemand wat nie soos ’n oorryp appelkoos in sy skoot sal val nie …

      Miempie voel effens skuldig toe sy aanry. Hy moet haar optrede

Скачать книгу