.

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу - страница 5

Автор:
Жанр:
Серия:
Издательство:
 -

Скачать книгу

reaksie het gegrens aan ongemanierdheid. Maar dis of sy instinktief op die verdediging was toe sy hom daar voor haar sien staan, so asof sy haarself teen iets moes beskerm, maar wat dié iets is, is te vaag om te definieer. Sy is seker maar beïnvloed deur al die stories wat sy al van hom gehoor het. Met sy pierewaaierlewe het sy nie vrede nie. Die ledige rykes met hul enorme ego’s … Nee, sy voel glad nie meer skuldig oor haar gedrag nie. Sy kon sien dit het hom geruk dat die vaal ou verpleegsustertjie nie voor hom in ’n beswyming val nie. Goed so.

      Sy moet die kombi se remme vinnig vasskop toe ’n gestalte van agter ’n struik reg voor die voertuig inspring net voordat sy deur La Rhône se grenshek ry.

      “Maria! Ek kon jou raak gery het!” raas sy.

      “Ek is jammer, suster, maar ek is so bang ek mis suster.”

      Miempie kyk die jong meisie skerp aan. “Wat is dit, Maria? Hoekom wou jy my so dringend sien? Is daar … is daar fout?” vra sy reguit en haar hart sak in haar skoene.

      “Nee, suster, maar … ek …” Daar is groot verleentheid. “Ek wil asseblief die inspuiting hê.”

      Dit stel Miempie geensins gerus nie. “Maria, jy moet eerlik met my wees. Die voorbehoedingsinspuiting help niks as daar reeds moeilikheid is nie. Verstaan jy?”

      “Ja, suster. Ek makeer niks nie.”

      Verligting spoel deur haar. “Maar jy het ’n spesiale vriend?”

      “Nee, suster! Ek hou my nie met die ouens op nie. Ek wil leer.”

      Miempie klim uit en maak die skuifdeur van die kombi oop. “Kom klim in. Ons praat binne verder.” Sy kyk die meisie vas aan. “Hoekom wil jy dan die inspuiting hê?”

      “Oor … oor ek bang is daar gebeur iets. Daar is groot ouens in die skool wat by my aanlê. En hier op die plaas ook. Ek sê vir hulle ek wil niks met hulle te doen hê nie, maar hulle wil nie luister nie. Hulle hou aan. En almal weet ek loop skool toe en terug. Ek is bang een van hulle lê my voor, suster.”

      Miempie knik. “Ek het met jou ma gepraat. Sy wil niks weet van voorbehoeding nie – ook nie dat jy die inspuiting moet kry nie.”

      Die kop sak. “Ek weet, suster. Ek weet wat hulle wil hê. Maar ek …” Die oë pleit. “Asseblief, ek wil die inspuiting hê. Ek wil klaar leer. Ek is so bang iets gebeur met my …”

      Miempie haal haar tas uit en kry alles gereed. “Ek het juis vandag my program só verander dat ek in die namiddag op La Rhône kan wees – ter wille van jou. Ek wou graag met jou gesels. Maar toe was jy veld toe en jou ma wou niks weet nie, maar jy is baie verstandig, Maria. ’n Vrou moet haarself beskerm. Probeer ook om nie alleen in die veld te stap nie, veral as dit begin donker word. Maar ek weet dis baie moeilik …”

      Toe sy klaar is, glimlag sy bemoedigend. “Dis baie mooi dat jy so graag wil leer, Maria. Hoe gaan dit op skool?”

      “Maar so-so, suster. Ek moet maar eksamen skryf met behulp van wat ek in die klas hoor en onthou. Daar is nie kans vir leer by die huis nie. Maar ek het nog altyd deurgekom.”

      “Wat wil jy ná graad twaalf doen?”

      “Ek wil graag verder gaan leer.”

      “So? In watter rigting?” vra sy belangstellend uit terwyl haar hart pyn. Arme Maria. Haar ouers het ander planne vir haar.

      “Ek wil graag eendag ’n dokter word.”

      “’n …” Miempie kry die uitdrukking op haar gesig vinnig reg. “Maar dis ’n pragtige ideaal, Maria.” Sy lê haar hand op die meisie se skouer. “Mooi leer en sterkte.”

      Sy waai tot siens toe sy deur die motorhek gaan, sien in die truspieël hoe Maria buk, die bondel hout optel en begin aanstap … en in haar is dit seer … seer oor al die vergeefse drome wat tussen strooise begrawe lê.

      2

      Miempie se volgende besoek is op Baardskeerderspoort, die plaas van Manie Bredenkamp, ’n vrygesel. Ook hom het sy nog nie persoonlik ontmoet nie. Sy het al ’n paar keer oor die telefoon met hom gepraat in verband met ’n veranderde program of ’n geval van siekte, en hom in die dorp net op ’n afstand gesien. Maar anders as in die geval van die kroonprins van La Rhône, het sy nog nooit stories oor hom gehoor nie.

      Nadat sy die gewone takies afgehandel het, verneem sy hoe dit met ou Piet de Wee gaan. Die nuus is nie goed nie.

      “Meneer het hom verlede week dokter toe gevat, maar dit wil maar nie beter nie, suster. Dokter sê dis die hart. Die hart is pap en die ouderdom te hoog.”

      Miempie frons. “En ouma Sanna?”

      “Sy’s ook maar gedaan, suster. Die ou bene wil nie meer nie.”

      Miempie stap op die huisie af en toe die ou vrou haar in die deur sien staan, glimlag die amper tandlose mond breed.

      “Ai, sustertjie, dis goed om jou weer te sien!”

      “Middag, ouma Sanna. Ek verneem dit gaan nie so goed hier nie.”

      “Nee, sustertjie, dit wil nie meer nie.” Sy luister na die lang relaas, wetende dat die ou vrou nie aandik nie. Hierdie twee ou mense is gedaan. “Ons sal seker maar nog moet trek ook. Hier is nie meer plek op die plaas vir ons nie.”

      “Wat bedoel jy?” vra Miempie skerp.

      Die ou vrou se skouers hang. “As jy die dag oud is en nie meer kan werk nie, is daar nie meer plek vir jou nie. Dan moet jy vort.”

      Miempie frons diep. “Het meneer Manie gesê julle moet trek?”

      “Nee. Nog nie. Maar dit sal seker nog kom. Wat anders? Ou Ragel en Jafta moes padgee toe húlle die dag nie meer kon nie. Hulle moes dorp toe, na ’n huurhuis, en soos ek verstaan, het hulle baie dae nie kos om te eet nie. Die lewe op die dorp is duur – te duur vir ou plaasmense wat nie meer kan werk nie en van die staat se pensioen moet lewe.”

      Miempie weet die ou vrou praat die waarheid. Dis nou maar sowat vier maande dat Manie die boerdery by sy pa oorgeneem het nadat sy ouers in hul strandhuis by Mosselbaai gaan aftree het. Maar voordat Hermanus Bredenkamp die leisels aan sy seun oorgegee het, het hy plaas skoongemaak. Nie net is jare se opgegaarde rommel op ’n vendusie verkoop nie, maar daar is ook gesnoei onder veral die ou plaaswerkers wat nie meer so produktief was nie. Toe Miempie op ’n dag weer op Baardskeerderspoort aankom, was die jong Manie in beheer, sy ouers gevestig in hul dubbelverdiepinghuis by die see en ou Ragel en Jafta in ’n huurhuisie op die dorp. Ou Piet en Sanna sou seker ook die trekpas gekry het, was dit nie dat Sanna ’n uithalerkok is nie. Iemand moes sorg dat die nuwe baas van die plaas ordentlik eet. Maar nou kan Sanna se rumatiekbene nie meer nie … en Piet se hart is pap …

      Miempie aarsel. Sy weet sy oorskry nou haar pligte. Sy moet na hierdie mense se liggaamlike heil omsien. Dis nie haar werk om haar oor hul persoonlike omstandighede en die rampe wat hulle tref, te bekommer nie. As daar iets is wat haper, kan sy dit altyd na die maatskaplike werker verwys. Maar Miempie Rust is nie só aanmekaargesit nie.

      “Is meneer Manie nou op die plaas?”

      “Ja, hy is hier. Hy was netnoumaar hier om te kom hoor wie ek gekry het om in my plek

Скачать книгу