Gaan Suid-Afrika oukei wees?. Jan-Jan Joubert
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Gaan Suid-Afrika oukei wees? - Jan-Jan Joubert страница 9
Terwyl enigeen begrip kan hê vir sulke kiesers se frustrasies, haak baie mense vas by waar die VF Plus se stemme vandaan kom, en vergeet hulle om te vra waarheen daardie stemme gaan. Wat is die boodskap wat dit stuur, en wat is die gevolge vir die toekoms? Ons as Afrikaners was nog altyd goed daarmee om in die spieël te staar en vas te stel wat ons van onsself dink. Maar in die proses vergeet ons alte dikwels dat ons gedrag nie net ’n spieël vir onsself is nie. Dis ook ’n venster vir ander. Wat ander sien, bepaal hul gedrag teenoor ons. Ons woon nie op ’n Afrikaner-eiland nie. Daar is gevolge aan dade. Waar gaan dit heen?
Ja, wat sien ander in hierdie Afrikaner-kiesersgedrag? Een van die stukkies mitologisering waarmee die VF Plus tot hul krediet baie suksesvol was, is dat die party nie aanstoot gee met sy gedrag nie. Ek wonder dikwels waar mense daaraan kom. Daar is eindelose voorbeelde van gedrag wat wel as aanmatigend ervaar word, maar die VF Plus kry dit reg om dit te verswyg, of dalk is hy in so ’n mate op homself gefokus dat hy dit bloot nie agterkom nie; straks omdat hy dit nie so bedoel nie. Miskien gee die party eenvoudig nie om wat ander mense dink nie. Maar die kommunikasiekunde leer ons dat ’n boodskap – ’n kodering – se oordrag in drie fases geskied. Daar is die kodering, dit wat jy bedoel. Dan word die boodskap versend (deur jou aan die ander oorgedra) en aan die ander kant deur die ontvanger gedekodeer. Dekodering is hoe die ontvanger die boodskap verstaan. Daar is gevolge aan dade.
Waar dit gaan om aanstoot gee, word dit geheel en al deur die ontvanger (dekodeerder) gedefinieer. Vir die stuurder (enkodeerder) van die boodskap om dit te probeer definieer, dui reeds op verwaande onbegrip. So min as wat jy die DA kan vra wat met sy verkiesingsboodskap verkeerd geloop het, so min kan jy die VF Plus vra hoe sy gedrag deur ander ervaar word.
Hier volg een voorbeeld (uit baie) van so ’n werklikheidsbelewing. Dit was ’n paar dae voor die algemene verkiesing van 2019 toe die VF Plus ’n mediakonferensie in die parlement gehou het oor sy mislukte poging om Black First Land First (BLF) van die stembrief te laat skrap omdat die BLF diskrimineer op grond van ras. In hierdie verband is die VF Plus terloops beslis reg – dis ’n werklik eenvoudige kwessie. Maar wat insiggewend was, was swart joernaliste se belewing van en reaksie op die mediakonferensie. Hulle het gevoel dat dit wrange ironie, algehele opportunisme en meer as ’n bietjie oneerlikheid verteenwoordig dat die VF Plus skielik opstaan vir nie-rassigheid. Ek praat hier van die belewing van swart mense wat ek deur die bank as gematig, versoenend en ingelig leer ken het – hul belewing (min soos baie kiesers dit so mag bedoel of selfs mag besef) van die VF Plus is konkurrent aan hoe baie wit mense die BLF beleef: as rassehaters. Dit is ook hoe die keuse vir die VF Plus deur selfs gematigde swart kiesers en meningsvormers ervaar word – dis hoe dit gedekodeer word, selfs deur iemand soos die leidende denker Mondli Makhanya, wat vir sy moeite om dit aan Rapport se lesers te verduidelik, uitgekryt is in ’n opvolgartikel deur ene Stephanie van Niekerk van Pretoria. Makhanya moet seker wonder hoekom hy die moeite doen.
Maar almal van ons skryf ons eie toekoms. Die VF Plus het nou sy tien lede in die Nasionale Vergadering en sy gedrag sal sy lot, en die lot van sy kiesers in die breër konteks, bepaal. Van die tien is verskeie ongetwyfeld bekwaam en oor twee van die nuwelinge – Wynand Boshoff en Philip van Staden – kan mens selfs opgewonde raak. Miskien lewer hulle wel ’n positiewe bydrae. Dit sal afhang van hul optrede. Alleen dan sal mens kan bepaal waar die stemme vir die VF Plus heen gaan. Want soos die VF Plus dalk met die tyd saam sal leer dra die vlamme van selfverheerlikende “ek stem vir my eie mense” alte dikwels die as van wederkerigheid met hom saam. As jy so graag slaan, word jy teruggeslaan wanneer die groter ouens moeg raak vir die kywende kapokhaantjie – daar is gevolge aan dade.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.