Vergeet my nie. François Bloemhof
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Vergeet my nie - François Bloemhof страница 3
“Ry tog net,” sê sy onderlangs.
Lara antwoord nie, kry net die enjin aan die gang en trek haastig weg.
Dis Koos Kombuis in die CD-speler:
Lalie, jy’t vir my gesê
so lank soos die lepel in die pappot lê …
Geleidelik kry Mardaleen dit reg om te ontspan. Dis nie die einde van die wêreld as daar iets skeefloop met jou ouers se huwelik nie. Jou ma is nie die eerste mens met wie so iets gebeur het nie. Jy is nie die eerste dogter van so ’n mens nie en sal baie beslis ook nie die laaste een wees nie.
Kyk, hier is Potch nog altyd Potch. Hier langs haar is Lara steeds Lara. Hulle ry deur mooi strate in ’n mooi stad. Met mooi bome wat in die dag nog mooier is. Die wêreld hou aan draai.
Sy steek haar arm by die oop venster uit, voel die windjie daaroor streel, laat dit met haar hare speel. Maak die knippies los sodat die wind dit kan skep.
“Jy lyk soos ’n Golden Retriever!” lag Lara bo-oor die musiek.
“Hoe sou Dickens vir Potch beskryf het?”
“Wát?”
“Hoe dink jy sou Charles Dickens vir Potch beskryf het?”
“Waar val jy nou uit?”
“Hy het dit so goed gedoen met Londen – soveel kultuur …”
“Ons het kultuur?” Lara hou stil by ’n rooi verkeerslig.
“Vier museums, drie kerke en ’n biblioteek.” Dan kyk Mardaleen op toe die ander meisie uitspring en agter om die Honda begin nael. Dis ou laai van hulle om te kyk hoeveel keer hulle om die kar kan hardloop voordat die lig oorslaan. Haar kop was nou net besig met ander dinge.
“Die lig!” staan Lara langs die kar en skree. Dis groen.
Mardaleen kan dit nie verhelp nie: sy lag. Aangesien die straat stil is, spring sy uit en hardloop ook om die kar. Skuif agter die stuurwiel in en trek weg.
Lara, nou die passasier, stel liggies uitasem voor: “Ons het darem ook Picasso, Michelangelo en Van Gogh?”
“Oom Thys se katte tel nie.”
“Wel, daar is ook tannie Soekie se voorliefde vir Cher, die slaghuis se Salvador Dalí-vleiskalender … en volgende jaar begin Aardklop.”
Nog ’n verkeerslig: rooi. Mardaleen bring die Honda tot stilstand en spring uit; die ander meisie ook. So in die hardloop skree sy vir Lara:
“Potch is nie Oudtshoorn nie – wie gaan ’n fees hiér bywoon?”
3
Toe Mardaleen en Lara by Vergeet-My-Nie uitgestap kom, is dit die ene pers en geel, want hulle het albei die koshuisuniform aan. Insluitend natuurlik die geel VMN-hoedjie.
Hier het hulle mekaar nou byna ’n volle vier jaar gelede ontmoet. Dadelik by mekaar aanklank gevind. En byna net so vinnig beste vriendinne geword.
“En dan wil ek …”
Mardaleen kom nie verder nie. Sy het ’n bekende gesig gewaar. Uiters bekend.
Braam, wat eenkant staan.
Met ’n bos rooi rose.
“Ek dink,” sê Lara, “ek groet jou nou eers.”
“Oukei. Sien jou later.”
Mardaleen frons nie vir Braam nie, maar doen ook nie juis moeite om plesierig te lyk nie. Dis darem mooi blomme – wat sy sonder ’n woord by hom neem. Dit lyk asof hy nie seker is of hy ’n piksoentjie moet waag of nie, en sy neem die besluit uit sy hande deur weg te draai.
Hy volg haar tot by die bankie waar hulle al ’n paar keer gesit het, altyd in ’n veel gemoedeliker atmosfeer.
Sy wag. Kyk af na die rose eerder as na hom, en wonder hoeveel dit gekos het. Dis nogal ’n belegging, komende van Braam; lief vir geld uitgee is hy nie. Hulle gaan nou net langer as ’n jaar uit en haar verjaardag- en Kersgeskenke was aan die nederige kant.
Hy skraap sy keel.
Sy wag.
“Ek’s jammer oor nou die aand.”
Sy draai haar kop na hom en knik. Is half verbaas dat sy nie nou die pyn voel wat sy onnadenkende opmerking haar besorg het nie. Ook nie eens meer kwaadheid nie. Aan die een kant voel sy lus om dit net nog so ’n rukkie vir hom moeilik te maak; aan die ander kant moet ’n mens nie so traag wees met jou vergifnis nie. En sy moet onthou dat hy die aand in Bourbon Street te veel ingehad het.
Bygesê, sy het nog nooit geglo mense se persoonlikheid verander wanneer hulle te veel drink nie – eerder dat die ware persoonlikheid dan uitkom.
Sy gee ’n effense glimlag.
Wat vir hom ’n aanduiding is dat hy kan nader leun vir ’n soen.
Wat sy net mooi gereed is om te gee – hy hét dan sulke vol, soenbare lippe – toe ’n groepie VMN-eerstejaars verbyloop. Sy en Braam is onmoontlik om mis te kyk hier op die bankie, veral met die bos rooi rose, en veral met sy gesig sentimeters van hare af.
“Môre, mejuffrou Coetzer!” kom dit in ’n koor.
Dis hoe die eerstejaars die seniors heeljaar moet aanspreek. Is dit regtig net drie jaar sedert sy dit self gedoen het? Sy voel dekades ouer!
Sy druk Braam ’n entjie opsy. Knik formeel vir die vier meisies.
“Hulle is net eerstejaars,” protesteer hy, maar nie met baie vuur nie. Hy kan aflei die oomblik is verby.
Mardaleen sit die rose langs haar op die bankie neer en haal ’n boek uit haar rugsak.
London 1998. Elke volgende jaar se reisgids verskyn om en by dié tyd en sy was eerste om dit by die boekwinkel aan te skaf. Het haar naam op die waglys gesit. Trouens, haar naam wás die waglys.
Wel, sy was nog nooit oorsee nie, wat nog te sê van daar gaan bly. Jy moet gereed wees. Voorbereid. Dis ’n moewiese groot onderneming – vandaar die lysies en notas wat oral uit die gids peul.
Haar stem raak saaklik: “Ek het ons rooster vir die volgende ruk opgestel, om seker te maak ek handig alles betyds in. En dat alles gereël is vir oorsee.”
“Lief,” gee Braam ’n laggie, “dis eers volgende jaar …?”
“Planning is bringing the future into the present.” Sy neem sy hand en glimlag sag, want hy is net ’n ou en ouens kan so slegs in die oomblik leef.
Buitendien het die aanraking haar pas laat onthou dat sy hom regtig liefhet. Dinge gaan so dol hier na die einde van die jaar toe, dis maklik om emosionele dinge uit die oog te verloor.