Vergeet my nie. François Bloemhof

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Vergeet my nie - François Bloemhof страница 5

Vergeet my nie - François Bloemhof

Скачать книгу

dan altyd so betyds, ek bedoel vroeg.”

      “Ek het ’n ekstra skof gewerk.” Mardaleen blaas asem uit, kom orent. “Die ding moet nog gedruk en gebind word!”

      Lara gooi haar boeksak op die deurmekaar bed. “Modus operandi?”

      “Druk, bind, handig in. Doen Braam se wasgoed.”

      En met dié stop sy die mandjie met klere in Lara se arms.

      “Jig!”

      “Kom!” is Mardaleen egter reeds halfpad by die oop deur uit. “Jy moet Gideon vra vir afslag!”

      Lara sukkel om by te bly. Al het Mardaleen die mandjie by haar oorgeneem toe hulle by die trap kom, handhaaf hulle ’n stywe pas in die straat af.

      “Ek stel my horlosie vir 09:55,” kondig sy aan. Rol haar oë toe sy sien hoe Lara vir ’n ou van Huis Onderlyf waai.

      “Haai, Tom!” voeg sy by.

      Mardaleen weet dis nie net Tom wat gegroet word nie; hy is bloot die naaste van die paar manne waarvan die meeste kaalbolyf op die gras voor die studentehuis staan en braai. PT-broekies, kaalvoet.

      En die wit Citi Golf se oop kattebak is waar die harde sokkiemusiek vandaan kom.

      “Ag nee, hulle is grillerig.” En toe Lara nog ’n wuif gee: “Ek het gehoor die spul los dieselfde pot olie weke lank op die stoof, dan foeter almal hulle tjips daarin.”

      “ ’n Mens gaan nie Huis Onderlyf toe vir slaptjips nie, Marda!”

      Sy lag saam. Daar is nog studentehuise in die straat, insluitend Huis Bolyf en Huis Loslyf – maar Onderlyf is die een waar jy moet ligloop. Dis intimiderende ouens, glad nie suinig met fluite en opmerkings vir al wat ’n verbyganger is nie.

      Mardaleen kyk weer bekommerd op haar horlosie. Dit sal raadsaam wees om die pas te versnel.

      Daarom storm sy omtrent by die studentesentrum in, waar Gideon haar laat weet: “Dit sal tweehonderd rand wees.”

      Gideon Naudé, op die ouderdom van dertig aansienlik ouer as die gemiddelde student. En klaarblyklik die man wat haar oor die rand van bankrotskap gaan stoot. Sy het net ’n bietjie meer as tweehonderd rand in haar beursie en daarmee sou sy baie gate kon toestop.

      Maar wag, sy het mos haar geheime wapen saamgebring. Dit was die laaste paar weke nie net vir haar nie, maar vir enigiemand met oë duidelik dat Gideon Naudé meer as net ’n terloopse belangstelling in ’n sekere jonge, mooie Lara Hattingh het.

      Sy stamp Lara se arm met haar elmboog.

      Dis nie verniet dat hulle al jare lank mekaar se gedagtes kan voltooi nie.

      “Dis vreeslik baie, Gideon,” kom dit van die donkerkop.

      “Dis maar wat dit kos, Lara.” Hy klink gepynig. Maar ferm.

      En sy, op haar beurt, oorredend: “Jy kan glad nie ’n plan maak nie? Mardaleen is maar net, jy weet, ’n arm student … Dit sal vir haar so baie beteken.” Sy steek haar hand uit. Vat aan sy boarm. “En vir my.”

      “Ek, e …” As Gideon aan asma gely het, sou dit nou ’n goeie tyd gewees het om sy pompie uit te haal. “Goed, julle kan dit halfprys kry, as jy vir my …”

      “Dis nee vir ’n date.” Lara se soet glimlag wankel egter nie ’n aks nie.

      “Ek wil net weer jou rekenaar leen.”

      “Waarvoor?”

      “Dis vir ’n, wel, vir ’n Japannese role-playing game.”

      “Ag sies, man!”

      Haastig verduidelik hy: “Dis ’n rekenaarspeletjie, Final Fantasy 7. En jy’s al een wat ek ken met ’n Pentium 2 processor.”

      “Deal!” roep Mardaleen uit. Sy ignoreer haar vriendin se openlike verbasing dat dit haar duur rekenaar is wat die deurslag gegee het en nie soos gewoonlik haar meer persoonlike bates nie. “Toe, Gideon, ons is haastig!”

      En so gebeur dit dat die skripsie oor die werk van Antjie Krog uitgedruk word. Gebind word. Mardaleen net die helfte so arm is as wat sy sou gewees het.

      Die krisis is egter nog nie verby nie. Dis kwart voor tien.

      “Ontspan,” sê Lara, “ons kan kortpad vat.”

      En so gebeur dit dat nie net hierdie dag nie, maar haar hele toekoms anders sal uitdraai as wat die immer beplannende Mardaleen Coetzer beplan het. Op die oomblik dink sy egter slegs aan daardie skripsie, die vrug van soveel harde werk, wat sy betyds moet inhandig.

      Sonder ’n idee van wat haar op pad soontoe inwag.

      6

      Kortpad vat, soos Lara voorgestel het, beteken hulle moet weer verby Huis Onderlyf loop. ’n Opsie wat Mardaleen vermy wanneer sy kan. Wat byna altyd is.

      Die ouens is … nou ja, seker nie heeltemal barbare nie. Of seker nie almal nie. Maar waar manlike koshuisbewoners soms – hoe sal ’n mens sê – aan die minder ordentlike kant kan wees, smaak dit haar ouens in studentehuise onthou nie meer die woord ordentlik nie. Dit hinder haar gewoonlik nie; mense moet doen wat hulle wil doen en leef soos hulle wil leef. Die enigste tye dát dit haar hinder, is wanneer sy voor die leeu se hok moet verby.

      Doelgerig stap die twee meisies oor die straat, na Huis Onderlyf se sypaadjie.

      “Vinniger,” stel Lara voor.

      “Reg.”

      “Nie só vinnig nie!”

      “Hierdie is suicidal.” Mardaleen klou met een hand haar skripsie vas, en met die ander sorg sy dat haar VMN-hoedjie op haar kop bly. ’n Windjie het begin opstoot, die soort wat in ’n gruwelfilm gewoonlik dui op ’n naderende boosheid.

      “Wil jy Antjie ingee of nie?” dwing Lara haar voort toe sy wil-wil vassteek.

      Hulle voetstappe weerklink op die sypaadjie.

      Verder is dit stil.

      Nêrens is ’n Onderlyfer te bespeur nie. Die leeus slaap skynbaar – wat sin maak, daarom dat hulle saans en inderdaad alle ure van die nag kan kattemaai.

      Hulle is amper verby die huis.

      Maar dan kom dit: ’n fluit wat klink soos ’n sirene.

      Hoe die vier ouens so vinnig hier kon uitkom, weet Mardaleen nie. Net dat hulle soos weerlig by haar en Lara is. Sy skrik. Keer, want die een wil die skripsie gryp. Met albei hande druk sy dit teen haar bolyf vas.

      Sy kan dus nie keer dat die wind haar geel hoedjie skep nie. Sy gryp daarna, maar gryp mis.

      Faps! land dit op die sypaadjie.

      Lara kan haar nie help nie, want sy het haar hande vol: letterlik,

Скачать книгу