Stories vir die lewe-omnibus. Piet Naude
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Stories vir die lewe-omnibus - Piet Naude страница 3
Die ou rabbi lag saggies by homself. “Nou weet jy wat my ‘geheim’ ook is,” sê hy vir sy leerling. “Ek dink nie vir elke moontlike vraag ’n storie uit nie. Ek is net gek oor stories. En ek het nogal ’n goeie geheue. Wanneer die regte geleentheid of vrae dan opduik, koppel ek eenvoudig een van die stories in my kop aan die antwoord wat ek wil gee. En dis verbasend hoe die mense dan my bietjie waarheid of wysheid onthou …
“Al wat ek dus doen, is om ’n storie-kringetjie te trek rondom die gaatjie wat reeds daar is en so kry ek elke keer ’n kolskoot.”
4 God wat van stories hou
’n Joodse legende
Daar word vertel dat God destyds verskillende nasies oorweeg het toe Hy moes besluit wie Hy sy uitverkore volk sou maak.
Hy het eerste met die Grieke gaan gesels:
“As Ek julle God sou wees en julle my spesiale volk, wat is daar waarmee julle My sou kon vreugde gee?”
“O, ons sal U eer met die beste kuns in die wêreld en met die uitnemendste denkskemas waartoe die mens in staat is,” antwoord hulle. “Ons groot denkers sal gedigte en dramas oor U skrywe.”
“Dankie vir julle aanbod,” het God gesê.
Hierna is God na die Romeine toe met dieselfde vraag: “Waarmee sal julle My plesier kan gee as ek julle God is en julle my spesiale volk?”
“O, óns sal U eer met die grootste, indrukwekkendste bouwerke van alle tye. Met die beste paaie en die mooiste tempels waarin U aanbid kan word,” was hulle antwoord. “Ons sal ter ere van U die wêreld verower.”
“Dankie vir julle aanbod,” antwoord God en soek verder. Toe dink God aan die Jode, ’n klein, onbelangrike volkie in die Midde-Ooste. Weereens vra Hy: “As ek julle God sou wees, en julle my uitverkore volk, sal daar iets by julle wees waarin Ek My kan verbly?”
“O, God, ons is nie bekend vir ons kuns of ons bouwerk of ons militêre mag nie,” antwoord hulle. “Maar ons is ’n volk van storievertellers. Al wat ons kan aanbied, as U ons God en ons u spesiale volk sou wees, is dat ons u Storie dwarsoor die wêreld sal vertel.”
“Bod toegeslaan!” het God glimlaggend geantwoord.
5 Saai saadjies van insig …
In die ou, ou tyd het daar ’n ryk sultan in Bagdad gewoon. Toe daar vir hom ’n seun gebore word, het hy ’n groot feesmaal gehou. Al die mense uit die adelstand het dit bygewoon en die duurste geskenke vir die prinsie saamgebring.
Een wyse ou man het ook daar opgedaag, maar sonder ’n present. Toe hy opmerk dat die sultan hom vraend aankyk, verduidelik hy: “U Majesteit, die prins ontvang vandag baie kosbare geskenke. Ek kon nie een bekostig nie. Maar my geskenk is dalk die kosbaarste … Ek belowe om, wanneer die prins eendag groot genoeg is, elke dag na die paleis toe te kom en vir hom stories te vertel: die verhale van ons volk se helde, van die wyses, die goeies van alle lande. Vandat hy kan verstaan totdat hy ’n volwasse man is, sal ek aanhou met vertel. As hy dan eendag oor ons regeer, kan u seker wees dat hy wys en eerlik en regverdig sal wees. ’n Mens leer uit ander se verhale.”
Die ou man het woord gehou. Jaar vir jaar het hy die prins se verbeelding vasgegryp met sy verhale uit die geskiedenis, met sy stories en sprokies …
Teen die tyd dat die prins sultan geword het, was sy karakter gevorm deur die morele waardes in die ou man se verhale. Lank ná die ou storieverteller se dood was die jong sultan steeds bekend vir sy wysheid en geregtigheid.
In Bagdad is daar vandag nog ’n monument vir dié sultan, met die inskripsie: Sy insig en goedheid was die gevolg van die saadjies wat die wyse ou man met sy stories in hom gesaai het …
Lewe met wysheid en insig
Wysheid is ’n praktiese vermoë …
___________________________________
Geen mens is op sy eie wys genoeg nie. Daarom luister ons na die stories van die nederige wyses van alle eeue.
PLAUTUS
Wysheid begin met die dien van die Here.
DIE SPREUKEDIGTER (1:7)
Wysheid is die vermoë om as ‘t ware twee sake tegelyk raak te sien: Dit wat is en dit wat sou kon wees.
Vir wysheid het ’n mens daarom onderskeidingsvermoë nodig. ’n Oop gemoed. ’n Eerlike kyk. Realisme.
Ontvanklikheid, die bereidheid om te leer en geleer te word.
Wysheid is die bereidheid om nie weg te kyk, jou oë te sluit en die feite te probeer ignoreer of weg te verklaar nie.
Wysheid is iets prakties. Daarom aanvaar die wyse mens ook verantwoordelikheid vir wat hy of sy sien. Wyses is bereid om daarop te handel, sake te help verander waar nodig …
DIRKIE SMIT
Wie is ’n wyse man?
Hy wat iets van alle mense leer.
DIE TALMOED
Inleidend
Wysheid is ’n praktiese vermoë. Dit is om te weet wat die gepaste woord of daad of houding vir nóú is.
In ’n gesprek oor kerkeenheid is daar eenkeer weer uitvoerig gedebatteer oor kerkordelike reëlings. In die konteks van hierdie debat vra ’n spreker: “Voorsitter, wat is nou die eintlike probleem onder bespreking?” Hy verwag ’n juridiese antwoord, met reël nommer 3.2.4 as vertrekpunt.
“Die eintlike probleem is dat ons mekaar nie lief genoeg het nie,” sê die voorsitter.
Dis woorde van wysheid.
Tydens ons verblyf in Venda raak ons bevriend met een van die bodes by die universiteit. Hy nooi ons na hulle kerk toe, ’n opslaangeboutjie in die veld. Die eerste Sondag is hy spoggerig aangetrek: swart pak met frilletjieshemp en blink gepoetste skoene.
“Seker om ons te beïndruk,” dag ons ewe arrogant.
Die volgende Sondag daag hy op met ’n vertoiingde T-hemp, ouerige jeans en oopmondtekkies. Op my vraag waar sy mooi pak vandag is, antwoord hy: “Een Sondag trek ek deftig aan, en die ander Sondag sommer só.”
“Nou hoekom?” wonder ons.
“Dan weet die rykes en die armes hulle is almal ewe welkom in die kerk. Dis mos God se huis.”
Dis ’n daad van wysheid.
Die kern van wysheid is die openheid om geleer te word, om “teachable” te wees. Vir eers deur God wat ons uitnooi om nie stang-in-die-bek