Stories vir die lewe-omnibus. Piet Naude
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Stories vir die lewe-omnibus - Piet Naude страница 17
“Wat sien jy as jy deur die venster kyk?” vra hy. “Ek sien mense,” antwoord die ryk man. “Ek sien ’n arm man wat bedel. En ’n seuntjie wat ’n ou dame oor die pad help. Ek sien kinders wat lag en speel!” Daar kom sommer weer lewe in sy stem.
Toe lei die wyse man hom na ’n spieël in dieselfde vertrek. “Wat sien jy nou?” vra hy.
“Ek sien myself!”
“Kom sit hier, dan vertel ek jou iets,” sê die wyse man. “In ’n venster is daar glas en in ’n spieël is daar ook glas. Kyk ’n mens deur die venster, sien jy ander mense en hulle behoeftes. Voeg jy silwer agter die glas by, het jy ’n spieël. Waarin jy net jouself sien. Dink daaroor. Ek gaan nou. My advies kos niks.”
Die ryk man is so geruk deur dié wysheid dat sy lewe daardie dag totaal verander het. Hy het van homself weggekyk en na die behoeftes van ander begin omsien. Hy was weer gelukkig. Maar op ’n ander manier.
___________________________________
Toe John Milton sy Lucifer geskryf het, het hy vir alle tye vir ons ’n waarskuwing voorgehou van die intense selfsug wat daar in ons almal skuil; so erg dat ons eerder heerser van die hel sal wees as ’n dienaar in die hemel.
SAMUEL COLERIDGE TAYLOR
Niks maak die mens so eensaam nie as wanneer jou eiebelang jou enigste belang geword het. Niks vernietig ware geluk so absoluut nie as respektabele selfsug.
GEORGE MACDONALD
44 Neem dit saam
Eenmaal was daar ’n baie ryk man wat die troon van God toegegooi het met sy smekinge. Hy het altyd net een ding gevra: dat hy sy rykdom moes kon saamneem as hy te sterwe kom. Die Here het elke keer geglimlag en dieselfde antwoord gegee: “Daar is geen nodigheid vir so iets nie.” Die man wou God nie glo nie en het aanhou vra. Uiteindelik het God ’n kompromie met hom aangegaan: “Aangesien jy nie na My wil luister nie, sal Ek toelaat dat jy ’n koffer vol van jou besittings mag saambring. Onthou: net één tas!”
Die man was uit sy vel van vreugde, want hy het swaar aan sy rykdom gekom en wou dit nie graag agterlaat nie. Hy het onmiddellik die grootste koffer wat hy in die hande kon kry, aangeskaf. Toe begin hy bespiegel oor wat hy moes saamneem. “My effektetrusts is uit, want ek weet nie watter geldeenheid hulle daar bo gebruik nie! Dollars? Die Duitse mark? Die frank of die pond? Sekerlik nie die rand nie?” Toe tref ’n idee die ryk man: “Daar is altyd ’n mark vir goud.”
Hy het soveel goudstawe as wat hy kon inkry, in sy tas gepak. Toe sit hy sy koffer langs sy bed, gereed vir wanneer hy ook al moes gaan.
Nadat hy gesterf het, daag hy toe met sy yslike tas by die hemelhekke op. Maar Petrus sê: “Jammer, Meneer. Hier gaan mense met leë hande in.”
“Ek het spesiale toestemming,” sê die ryk man vernaam.
Petrus raadpleeg die Here en ja - sowaar! - die man was reg. “Dit is ’n rare uitsondering,” sê Petrus. “Mag ek dalk sien wat so belangrik is dat jy verlof gekry het om dit saam te bring hemel toe?”
“Sekerlik!” sê die man ewe trots en maak sy koffer vol goud oop.
Petrus het in die koffer gekyk en die man met ’n frons aangestaar: “Wat op aarde het jou laat besluit om van alle dinge ’n klomp simpel plaveiselstene saam te bring? Ons het oorgenoeg en dié wat ons in ons strate gebruik, is in elk geval van veel suiwerder karaat.”
___________________________________
Niemand is so arm soos hy wat skatryk sterf nie.
WILLIAM BARCLAY
Rome het die wêreld verower en toe verower hebsug vir Rome.
ITALIAANSE SPREEKWOORD
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.