Stories vir die lewe-omnibus. Piet Naude

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Stories vir die lewe-omnibus - Piet Naude страница 16

Автор:
Серия:
Издательство:
Stories vir die lewe-omnibus - Piet Naude

Скачать книгу

teen die eenstaaf-verwarmertjie. Ek gaan aan met my rekenaarwerk. Ek vergeet byna van hulle.

      “Mevrou, is jy ryk?” Ek kyk geïrriteerd op. Die kleintjie sit nog met haar hande om die warm koppie gestrengel en die tiener sukkel om die soplepel in die piering van haar leë koppie te balanseer. Ek kyk na my uitgetrapte mat, die goedkoop afdrukke teen die mure, my afgeleefde rekenaar.

      “Natuurlik nie!”

      “Maar Mevrou se koppies en pierings pas bymekaar!” Haar stem is oud met ’n honger wat niks met haar leë maag te doen het nie. Niks word verder gevra of verduidelik nie. Hulle dankie vir die blikkieskos kom in plat, verveelde stemme. Net nog ’n dag, nog ’n guns, nog ’n ryk vrou.

      “Dankie,” sê ek, toe ek die deur agter hulle toemaak. Want hulle het my meer gegee as ek vir hulle.

      Ek weet nou ek is ryk. Koppies en pierings wat pas. Boeke en musiek (al is dit Naxos-CD’s). Geleerdheid. ’n Werk. Familie en vriende. Warmte en menswaardigheid.

      ___________________________________

      Sal jy regtig jou geliefde of jou kind of jou sig of jou gesondheid of jou selfrespek vir ’n miljoen rand verruil? Nie? Vir wat kla jy dan so – as jy meer het as wat geld kan koop?

      CHANNING POLLOCK

      40 Die jas

      In Duitsland word die legende vertel van die skatryk koning wat sterwend was aan ’n seldsame siekte waaraan nie een van sy geneeshere iets kon doen nie.

      Toe lees sy wysgere eendag in ’n ou, ou boek dat ’n koning gesond kan word as hy die jas van ’n volkome gelukkige man sou aantrek. Die koning se boodskappers het sy koninkryk deurkruis, maar almal wat gelukkig gelyk het weens hul rykdom of aansien moes erken dat hulle ten diepste nie regtig gelukkig was nie.

      Uiteindelik het hulle in ’n eenvoudige huisie diep in die hart van ’n pragtige woud op ’n brandarm man afgekom. Hy het mens en dier liefgehad en was werklik sielsgelukkig.

      Maar hy was te arm om ’n jas te besit.

      ___________________________________

      Daar is net een vereiste vir geluk: om dit wat jy het – hoe min ook al – te geniet. Slegs die wysste van mense ken dié geheim. En hulle is dikwels nie ryk nie.

      LOGAN PEARSALL SMITH

      41 Wat van die ander skoen?

      Mahatma Gandhi was al ’n baie beroemde man toe hy eenkeer op reis was in die Indiese platteland.

      Op een stasie moes hy en sy gevolg vinnig van een trein na ’n ander oorstap. Toe hy haastig met die trappies na die passasierswa opklim, glip een van sy skoene uit en val tussen die perron en die spoor in. Niemand kon dit nog optel nie, want die trein was reeds aan die beweeg.

      Verleë het Gandhi gaan sit en met sy hand oor sy sokkievoet gevryf. Toe spring hy skielik weer op, trek die orige skoen ook uit en gooi dit deur die oop venster in die rigting waar ’n mens nou die ander een kon sien lê.

      Verbaas wou sy medereisigers weet wat dan nou aangaan.

      “Die arme man wat één skoen langs die treinspoor optel, kan mos niks daarmee doen nie,” het Gandhi geglimlag. “Nou het hy darem ’n paar wat hy kan gebruik.”

      ___________________________________

      Weldade aan ander is God se instrument om sy liefde aan mense uit te deel.

      MAHATMA GANDHI

      42 Wat weeg jy?

      Glen Adsett, ’n Amerikaanse sendeling wat baie lank in China gewerk het, vertel dié storie uit eie ervaring.

      Dit was bra moeilik om ’n sendeling in ’n kommunistiese land te wees en hy was maar gedurig in die moeilikheid by die owerhede. Hy en sy huismense was tye lank in huisarres. Maar eendag kom een van die soldate wat moes toesien dat hulle nooit hulle huis verlaat nie, na Glen toe met die nuus: “Julle word Amerika toe gedeporteer!”

      Die Adsett-egpaar was uit hulle nate van vreugde! Toe kom die soldaat met die voorskrif dat hulle net 100 kg bagasie saam met hulle twee in die vliegtuig mag terugneem.

      Dit was moeilik. Hulle was baie jare in China. 100 kg! Wat neem jy saam en wat los jy? Hulle het die weegskaal gebring en ’n familieargument het begin.

      “Wat van my boeke?”

      “Maar ons kan tog nie sonder ons eetstel gaan nie!”

      “Wel, hierdie is ’n nuwe rekenaar, ek kan dit onmoontlik laat agterbly.”

      “Wat word van ons CD’s?”

      Hulle het alles geweeg; nou dit op die skaal geplaas en dan dat afgehaal.

      Uiteindelik het hulle met baie meet en pas en tot groot ongeduld van die wagtende soldaat presies 100 kg se besittings bymekaar gehad. Al twee die Adsetts was min of meer tevrede. Die soldaat vra toe: “Is julle gereed om te gaan?”

      “Ja!”

      “Het julle alles geweeg?” was die soldaat se volgende kortaf vraag.

      “Ja!”

      En toe kom die vraag wat die bloed in die Adsetts se are laat stol het: “Wat weeg die kinders? Het julle húlle ingereken by julle twee se toegelate 100 kg?”

      Wat weeg die kinders … ? Binne ’n oogwink het die relatiewe waarde van boeke, rekenaars, CD’s – alle stoflike besittings – vir hulle glashelder geword.

      ___________________________________

      Geld kan van baie dinge die dop koop, maar nie die vrug binne-in nie.

      Dit kan kos koop, maar nie aptyt nie; medisyne, maar nie gesondheid nie;

       kennisse, maar nie lojaliteit nie; dae vol genot, maar nie

       ’n lewe van geluk of vrede nie.

      HENRIK IBSEN

      Ons sê ons het ons kinders lief maar dikwels het ons ons sosiale lewe of werk of ons metodes van geldmaak so lief dat ons die wêreld mag wen, maar ons geliefde kinders verloor.

      MICHAEL GREEN

      43 Die venster en die spieël

      Daar was ’n baie ryk man wie se hele lewe om homself gedraai het. Dag na dag het hy bereken hoeveel geld hy reeds het en hoeveel meer hy kon maak. Hy het net die beste kos geëet, ontwerpersklere gedra, in ’n tamaai groot huis gebly, met talle bediendes wat na al sy behoeftes omgesien het. Hy het alles gehad. Hy was gelukkig met homself en met die lewe. Aan wat buite sy huis aangaan, het hy hom selde gesteur. As hy by sy groot vensters sou uitkyk, sou hy net anderkant sy pragtige tuine die ellendige plakkershutte van die armes van die land kon sien. Maar hy het net oë gehad vir homself en sy besittings.

      Langsamerhand het daar ’n swaarmoedigheid oor hom gekom.

Скачать книгу