Stories vir die lewe-omnibus. Piet Naude

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Stories vir die lewe-omnibus - Piet Naude страница 15

Автор:
Серия:
Издательство:
Stories vir die lewe-omnibus - Piet Naude

Скачать книгу

kyk Pahom ’n slag na die stand van die son. Dié sit al halfpad na die horison. Hy skat dat hy nog maar drie of vier kilometer van sy derde skof afgelê het, en sy mikpunt vir die laaste draai was eintlik tien. Die sweet tap hom af, sy spiere pyn en sy tyd is nou min. Hy het sy kragte oorskat. As hy die koppie voor sononder wil haal, sal hy dadelik in ’n reguit lyn moet koers kry na die beginpunt. Dit sal nou wel sy afgemete stuk grond windskeef maak, maar hy het nie ’n keuse nie. Hy het die eerste twee trajekte hopeloos te lank gemaak. Haastig maak hy nog ’n hoekbaken en begin reguit in die rigting van die koppie stap.

      Dit gaan stadig; sy skoene het hy lankal neergegooi en sy voete is nerfaf en vol blase. Sy oë brand en sy keel is droog. Dit voel of sy bene onder hom wil invou. Maar hy kan nie bekostig om een oomblik te rus nie – dan gaan hy dit nie maak nie. Die son wag vir geen mens nie; dit sak ál laer teen die horison. “Waarom was ek so dwaas?” verwyt Pahom homself. “Met my gulsigheid vir grond staan ek nou ’n kans om alles te verloor.”

      Hy beur vorentoe. Aan en aan. Al vinniger. Want die Basjkirs is nog ver en die son lê laag. Later draf hy. Nou waai sy onderbaadjie en hemp, wat om sy lyf vasgebind was, ook. Dan sy mus en sy waterbottel. Aan die graaf klou hy nog vas, want dié dien as ’n stut wanneer hy telkens struikel. “Wat moet ek doen?” stotter hy wanhopig. “Ek was te inhalig en nou glip alles uit my hande … Ek kán nie daar kom voor sononder nie. Of kan ek?”

      In ’n verbete poging dwing hy sy swaar bene vorentoe. Sy bors hyg soos ’n blaasbalk, in sy ore weerklink die hamerslae van sy hart en swart kolle dans voor sy oë. ’n Brandpyn skiet in sy arms af en ’n kwart van die son het al weggesink agter die horison. Maar dan hoor hy die Basjkirs skree. Dit klink of hulle hom aanmoedig. En hy dink: “Ek kan tog nie al dié bittere moeite gedoen het om ’n paar tree van my doelwit af in te gee nie!” Die laggende gesigte van die hoofman en sy mense kan hy reeds sien en daar lê die pelsmus met sy geld ook.

      Maar … die son is reeds onder!

      Hoekom hou hulle dan nog aan met jil en roep?

      Dan besef hy dat die son van waar hy is, agter die koppie weggeraak het, maar hulle wat bo-op staan, kan dit nog sien. Met ’n laaste kraginspanning vat hy die opdraand teen die heuweltjie uit. Dáár is nog lig …

      Die laaste wat Pahom sien, is die hoofman wat met sy voete weerskante van die mus staan, en lag asof hy betaal word. Dan knak Pahom se knieë en met ’n kreun sak hy inmekaar. Sy vingerpunte raak-raak aan die pelsmus voor hom.

      “Geluk!” skree die hoofman. “Jy het jou stuk grond gekry!”

      Toe Pahom se werker, wat by die Basjkirs gewag het, hom wil ophelp, sien hy dat daar geen lewe in hom oor is nie. Die Basjkirs klik met hulle tonge, maar of dit uit simpatie of leedvermaak is, weet die man nie.

      Toe grawe hy ’n gat groot genoeg vir sy werkgewer se liggaam, en lê hom in die graf neer. Ses voet van sy kop tot sy tone was al grond wat hy nodig gehad het.

      ___________________________________

      Wat help dit ’n mens om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe te verloor?

      JESUS CHRISTUS

      Geen skat is kosbaarder as die lewe nie.

      JOHN RUSKIN

      Nederige harte het nederige begeertes.

      FRANSE SPREEKWOORD

      Die paradysvoël kom sit net op die hand wat dit nie sal vasgryp nie.

      JOHN BERRY

      Hy wat weet dat genoeg genoeg is, sal altyd genoeg hê.

      LAO-TZE

      Die man sonder goud mag arm wees, maar die mens met nét goud is oneindig armer.

      CONFUCIUS

      Die baas van ’n fortuin is dikwels die slaaf van hebsug.

      SENECA

      38 Die voëlvangers

      ’n Verhaal uit Griekeland

      Twee jagters het hulle voëlnette hoog in die berge gaan span. Toe hulle die volgende dag terugkom, sit daar ’n hele klomp duiwe in die strik. Die voëls het wanhopig rond en bont gevlieg en probeer om deur die fyngeweefde net te ontsnap, maar tevergeefs.

      Eers was die voëlvangers baie in hul skik met die vangs. Maar toe hulle die duiwe uithaal om te gaan verkoop, sien hulle dat die voëls maar treurig daar uitsien. “Niemand sal sulke maer voëls wil koop nie,” sug die een.

      “Man, moenie so pessimisties wees nie,” troos die ander jagter. “Al wat ons nodig het, is ’n bietjie voëlkos. Ons kan hulle binne ’n paar dae spekvet voer en gaan verkoop.” Elke dag bring die voëlvangers toe vir die duiwe kos en water. En die duiwe éét. Bietjie vir bietjie word hulle vetter.

      Net een duif het geweier om te eet. Terwyl die ander gulsig sluk en vet word, het dié moedswillige voël maerder geword en steeds gesukkel om deur die gaatjies in die net te kom.

      Op die dag toe die jagters die vetgevoerde voëls kom haal om mark toe te neem om verkoop en later geslag te word, was die een wat sy eetlus bedwing het, al só maer dat hy met ’n reusepoging daarin kon slaag om deur ’n gat in die fyngeweefde net te breek en weg te vlieg.

      Net hy was vry.

      ___________________________________

      Wie het die meeste vryheid? Hy wat homself aan bande kan lê.

      SENECA

      39 Is Mevrou ryk?

      Die wind gryp ’n hand vol herfsblare wat op die woonstelstoep gelê het en slinger dit saam met ’n vlaag ysige reën by my voordeur in toe ek dit oopmaak.

      Ek ken die twee wat daar staan. Enetjie so ses jaar, met die grootste oë en die treurigste gesiggie wat ek in my lewe gesien het. En haar sussie, ’n tiener met lang bene en woeste hare. Hulle ma is ’n invalide ná ’n taxi-ongeluk en die pa het hulle nooit geken nie. Die drie en hul twee kleuterboeties lewe van die disability en die tiener se “naweekwerk”. Oor wat dit is, het ek my vermoedens. Haar donker oë is nie dié van ’n dertienjarige kind nie.

      Hulle het weer die papiertjie met die ma se netjies geskrewe briefie om die nuutste nood te verduidelik.

      Ek is kwaad. Ek het al hoeveel maal verduidelik dat ek self ’n alleenvrou is, dat ek finansieel regtig sukkel; dat ek van een vryskuttjek na die ander lewe. En hoe ver uitmekaar hulle opdaag, kan niemand voorspel nie; dat my stokou motortjie aanhoudend ingee; dat ek … Talle geldige en, sou ek dink, oortuigende verskonings.

      Maar hier is hulle weer. Die arm wat die briefie deur die veiligheidshek steek, is geklee in ’n baadjie wat net onder die elmboog van haar lang arms eindig. Kaalvoet. Die kleintjie dra sandale wat deurnat-voetspore op die stoep agter haar gemaak het.

      My gesig wys seker my emosie, want voor ek nog iets sê, word die arm woordeloos teruggetrek en die kleintjie aan die skouer gepor om om te draai.

      Ag hemel, die Kaapse winter is so knaend. “Kom tog in!” hoor ek myself sê. “Ek kan julle minstens ’n koppie sop laat

Скачать книгу