Tot die dood ons skei. Malene Breytenbach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Tot die dood ons skei - Malene Breytenbach страница 4

Tot die dood ons skei - Malene Breytenbach

Скачать книгу

Reinhard. Ek is só jammer oor jou verlies,” simpatiseer sy en steek haar hande na hom uit.

      Hy neem albei in sy groot hande. Die kontak met sy vel is – nes lank gelede – so elektries dat sy ruk. Al probeer sy beheers voorkom, voel dit of haar ingewande begin bewe.

      “Dankie, Kira. Dis ’n geweldige skok. Ek kan dit self nie glo nie. Die polisie en speurders het die plek behoorlik gefynkam en my ondervra. Dankie dat julle julle oor Riaan ontferm het.”

      Meteens skiet haar oë vol trane, so jammer kry sy hom. Sy moet dit met mening wegknipper. Haar stem is effens hees toe sy sê: “Ons sou na hom gekyk het, maar Riki Smit het hom kom haal.”

      Sy kyk op in die aantreklike, sterk gesig en sien dat hy sy lippe opmekaar pers, asof hy dit nie goedkeur nie. Hy los haar hande.

      “Ek het by die kaptein gehoor hy is daar en het hom gaan haal. Hy is nou by sy ouma.”

      “Weet hy al … Moes jy hom vertel?”

      Hy kreun en vryf oor sy voorkop. “Ja. Dis beter om nie ’n kind om die bos te lei nie. Hy weet iets is vreeslik verkeerd en hy vra heeltyd. Ek wou nie vir hom jok nie, maar ek het probeer om dit so sag moontlik oor te dra.”

      “Kom ons gaan na die sitkamer. Ons kan nie hier staan en gesels nie.”

      Hy huiwer. “Nee, ek moet teruggaan huis toe. Ek wou net kom dankie sê. Arme Soekie is skoon in die war. Sy het op Monique afgekom.”

      Hy skraap sy keel. “Dit kon nie ’n mooi toneel gewees het nie. Sy het op die agterste grasperk gelê … Die honde het blykbaar nie alarm gemaak nie, wat baie verdag is, hoewel ek nooit gedink het dat poedels die beste waghonde uitmaak nie. Niemand het haar ook hoor gil nie.”

      “Wie op aarde sou so iets wou doen?” vra sy.

      Hy haal sy skouers op, sy gesig moedeloos. “Dis die groot raaisel. Riaan het gelukkig niks gehoor nie, want hy het vas geslaap. Niks is gesteel nie, dus kon dit nie rowers gewees het nie, tensy hulle geskrik en op die vlug geslaan het. Dis alles baie vreemd.”

      Hy staar stip na haar. Verontrustend. Wat gaan in daardie mooi kop van hom aan? wonder Kira.

      “Ek skat ons is almal verdagtes,” gooi hy ’n klip in die bos.

      Sy is geskok en verontwaardig. “Maar jy was weg, en Liana en ek was saam tuis! Hoe kan ons verdagtes wees?”

      “Omtrent almal wat iets met Monique te doen gehad het, sal verdagtes wees.” Hy kry ’n bitter trek om sy mond. “Die swaard hang punt na onder bo my kop.”

      Ek het gaan draf waarskynlik op die tyd dat Monique vermoor is, dink Kira. Hulle gaan my daaroor uitvra. Sê nou hulle verdink my as iemand wat ’n motief gehad het om mooi, ryk Monique Brand te vermoor? Lank gelede was ek haar mededinger om Reinhard se liefde. Toe wen sy en ek dra ’n wrok wat met die jare nooit gewyk het nie, dalk net al groter geword het. Ek hét op die oog af ’n motief …

      Sy ril toe sy aan die moontlikheid van vervolging dink.

      “As jy enigiets nodig het en ons kan help, moenie huiwer om te vra nie,” sê sy egter net, en haar hart trek met ’n punt na hom.

      “Dankie, ek waardeer dit. Totsiens, Kira.”

      “Totsiens, Reinhard.”

      Sy kyk hom agterna toe hy vinnig wegloop, sy skouers fier en kop omhoog, asof hy hom nie sal laat onderkry nie. Eers toe hy buite sig is, maak sy saggies die deur toe en leun met ’n kreun daarteen.

      Reinhard staal hom teen die nuuskierige en veroordelende kyke wat hy op kampus en in die dorp te wagte is. Teen dié tyd het die nuus soos ’n veldbrand versprei en was dit reeds op TV, die radionuus en in die koerante. Monique se beeld het oral gepryk. Ook syne, Riaan s’n, Soekie s’n en selfs die honde wat “oor hulle ounooi treur”, soos een koerant dit gestel het.

      Die koppe by die berigte was ontstellend. Beeldskone vrou van bekende Matie-professor koelbloedig vermoor; Raaiselagtige dood van Matie-professor se vrou; Verdagtes ondervra ná wrede moord op professor se vrou.

      Al genade in die hele bedenklike besigheid is dat Riaan nog nie kan lees nie en dus nie die bespiegelings en sensasie oor sy ma se dood kan sien nie. Kinders herstel makliker, want hulle is aanpasbaar en hulle aandag word maklik afgelei, maar volwassenes se rou gaan nie gou oor nie. Dankie tog Riaan het ’n liefdevolle ouma wat kan help om hom te troos.

      Dit was erg genoeg om aan Riaan te probeer verduidelik dat sy mamma in die hemel by die engele is, en waarom sy nie eens vir hom totsiens gesê het nie. Nie dat Monique so ’n liefdevolle ma was nie. Riaan het haar dikwels geïrriteer en dan was sy kortaf met hom. Sy was nie juis die moederlike tipe nie en gans te selfbehep, soos hy tot sy skade agtergekom het.

      Riki het aangebied om na die huis te kom om hom met die begrafnisreëlings en die normalisering van sy huishouding te help – asof normalisering ooit weer moontlik sal wees – maar hy het geweier. Hy verkies om kantoor toe te gaan om sy sake in orde te kry en sy verpligtinge aan kollegas oor te dra voordat hy menslikheidsverlof neem. Die huishouding kan Soekie maklik beheer.

      So ver soos hy gaan – vandat hy voor die ingenieurswesefakulteit uit sy opvallende viertrek geklim het, totdat hy met die trappe op en in die gang af tot by sy kantoor gevorder het – simpatiseer mense met hom en vra hom uit. Natuurlik dink van hulle dat hy dalk die moordenaar is.

      Hy is verlig toe hy by die kantoor aankom en Riki daar is om hom met ’n simpatieke, liefdevolle gesig te verwelkom. Sy omhels hom skaamteloos, maar vandag is hy te kwesbaar om haar op ’n afstand te hou.

      Hy weet sy verafgod hom, want sy het dit al by meer as een geleentheid byna reguit vir hom gesê. Juis daarom behoort hy ’n ander sekretaresse te kry, maar sy is doeltreffend, ywerig en toegewyd. Ander mense het al gesê hulle beny hom sy sekretaresse. Hy het in ’n gemaksone met haar verval en al wat hom pla, is haar openlike toegeneentheid teenoor hom.

      Sy bring vir hom koffie en maak so ’n ophef dat hy sy irritasie skaars kan verberg.

      “Hoe cope jy, arme prof?” vra sy met groot, ronde, swaar gegrimeerde blou oë. “Is die polisie lastig?”

      “Lastig is ’n eufemisme,” grom hy. “Was dit die Middeleeue, het hulle my klaar opgehang.”

      “O, dis vreeslik! Daardie nare kaptein Wiid het my kom ondervra. Sy wou als van jou en my weet – áls. Hoe ons verhouding is …” Sy kug asof verleë. “Sy wou weet hoe lank ek vir jou werk, wanneer ek geskei is, en alles wat in prof se dagboek staan. Wanneer en waarheen jy weggegaan het, als. Ek het natuurlik probeer keer, want daar is darem iets soos privaatheid, maar sy laat haar nie afsit nie. Is dit nie absoluut vreeslik nie?”

      “Ja. Probeer asseblief die wolwe van my deur af hou dat ek my sake kan reël, Riki. En maak die deur agter jou toe. Dankie.”

      Sy vang die skimp en laat hom gelukkig in vrede. So, daardie kaptein wonder of daar iets tussen hom en Riki is? Het sy maar geweet hoe irriterend hy Riki se oordadigheid vind. Hy waardeer egter haar lojaliteit en ondersteuning, al raak dit soms te veel. Mense wat Monique geken het, sou nooit kon dink hy kan in ander vroue belangstel nie. Sy was maklik een van die mooiste vroue wat hy al ooit ontmoet het, en toe is sy ’n ryk erfgenaam daarby.

      Arme Monique, verlede tyd. Sy het ’n

Скачать книгу