Tot die dood ons skei. Malene Breytenbach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Tot die dood ons skei - Malene Breytenbach страница 8

Tot die dood ons skei - Malene Breytenbach

Скачать книгу

daardeur sou gekom het sonder jou ondersteuning, Li-li,” sê sy skor. “Daar was dae dat selfmoord nie vir my so onmoontlik gelyk het nie. Maar as ek gedink het hoe ek jou treurend sou agterlaat, het ek besin.”

      Liana huil nou openlik. Sy vee haar neus en oë af met ’n snesie wat sy uit die boks op Kira se bedkassie trek. “Was dit só erg?”

      “Dit was. Ek het gesweer ek wil my nooit weer aan ’n man verbind nie. Reinhard het ’n letsel op my hart gelaat.”

      Kira moet ook oë en neus afvee. “Al het ek Monique verafsku, sou ek haar darem nie regtig met iets in die hart kon steek nie.”

      Liana sug sidderend. “Nee. Iemand anders het jou die guns bewys. Ekskuus! Dit was lelik en het net uitgeglip. Jy wil seker nie meer vir Reinhard hê nie.”

      “Nee, veral nie nou nie.”

      “Die hele buurt se vroue is vreesbevange,” verander Liana die onderwerp. “Rina van Niekerk is ’n senuweewrak, want sy sê die moord het amper in hulle agterplaas plaasgevind. Sy verbeel haar die moordenaar sal ons nou een vir een kom uithaal. Almal installeer net alarms, diefwering en trellidoors. My kontensie is dat die tuinier iets teen Monique gehad het. Dalk het sy hom te na gekom sonder dat Reinhard daarvan weet. Sy is in elk geval nie seksueel gemolesteer nie – thank God for small mercies. Dit sou vir Reinhard darem baie moeilik gewees het om te verteer.”

      “Ja, dit sou. Ek sidder as ek daaraan dink. Ek kry nagmerries daarvan. As ek in die tuin loop, kyk ek omtrent oor my skouer asof iets in die bosse vir my loer.”

      “Ek moet erken, ek kry ook die horries. Dit sal ’n verligting wees as die saak opgelos word. Daardie kaptein Lucille Wiid het die reputasie dat sy baie doeltreffend is. Sy maak opgang in haar beroep en is glo pas bevorder. ’n Regte leeuwyfie, noem haar kollegas haar – sy wil gedurig die mans wys van watter stoffasie sy gemaak is. As iemand die moord gaan oplos, sal dit sy wees, al kom daar hoër offisiere ook na die saak kyk.”

      Liana druk Kira se hand. “Ek gaan inkruip. Môre moet ek weer ’n streep diewe verhoor. Soms wonder ek of ek nie verder moet swot en ook ’n dosent moet probeer word nie. Studente sal my hopelik nie so hatig aangluur soos misdadigers alte dikwels doen nie. Dit gee my die creeps, hoor. Nag, sus, lekker slaap.”

      “Dankie, jy ook, Li-li. En … dankie sommer vir als. Ek is bly ek het ’n suster soos jy.”

      Toe Liana uit is, sit Kira lank en herkou aan hulle gesprek. Reinhard se lewe is ook onderstebo gekeer deur die moord. Hy is ’n gesiene man, gerespekteer, selfs beny vir sy sukses, en om sy vrou vermoor te hê, moet hom laat voel asof hy alle aansien verloor het. Dit sal altyd aan hom bly kleef, al gaan hy waar en doen hy wat. Mense sal na hom verwys as die vermoorde skoonheid se man. Hulle sal nie maklik vergeet nie.

      Sou Monique se gees rusteloos wees, uit die wêreld van die lewendes geruk? Sy kon haar nie op die dood voorberei nie, nie vrede maak nie. Sou sy gewonder het of Kira haar nie doodwens nie?

      Sidderend trek sy die duvet tot by haar keel, voordat sy die lig afskakel.

      4

      Reinhard loop om sy huis en gaan staan vir die hoeveelste keer op die agterste grasperk. Hier het sy gelê, dink hy, en kan hom die aaklige beeld van ’n bebloede Monique maar te goed voor die gees roep.

      Die aand by die Trollips en Geert was heel lekker, en almal het moeite gedoen om sy aandag af te lei. Kira, steeds so mooi en sjarmant, het nie met die knippering van ’n ooglid te kenne gegee dat sy enigsins nog iets spesiaals vir hom voel nie. Hy weet hy het haar destyds bitter seergemaak en sy gewete pla hom steeds daaroor. Hy kan dink watter woede en vernedering in haar moes gekook het. Sy is egter sterk en trots en het haar pyn goed weggesteek.

      Hy was dol oor haar, totdat Monique soos ’n son tussen die planete almal anders laat verdof het. Hulle was heel aan die begin dolgelukkig, totdat sy hom wreed ontnugter het. Kort duur die liefde, en lank duur die spyt. Hoe beter hy haar leer ken het, hoe meer het hy besef dat as jy verby die skoonheid kyk en die lus van die vlees vervaag, het sy nie naastenby die diepte en karakter wat Kira het nie.

      Maar dit was te laat vir spyt. Hy moes vrede maak met sy keuse, al het dit al meer geskaaf. Rou geskaaf. En toe is Riaan ook nog daar. Om die kind se onthalwe het hy gesluk totdat dit in sy keel vasgesit en hom gewurg het.

      ’n Gekraak in die struike laat hom uit sy mymering opskrik. “Wie is daar?” roep hy, maar dis doodstil.

      Hy besluit om ondersoek in te stel. Verbeel hy hom of vlug ’n skaduwee geruisloos weg? Binne die huis blaf en tjank die honde wat hy toegemaak het. Hy haas hom na die agterdeur. Die hele buurt hoor hulle nou en dis steurend. Maar enkele oggende tevore het niemand hulle kwansuis gehoor nie.

      As iemand hier rondsluip, moet die polisie ondersoek kom instel. As hy die reg in eie hande neem, doen hy dalk net meer skade, want as hy iemand betrap, sal hy heel waarskynlik oorreageer.

      Die speurder het hom dit op die hart gedruk dat hy haar enige tyd van die dag of nag kan skakel. Hy sluit oop, haal sy selfoon uit en roep die nommer op.

      “Hallo, kaptein, Reinhard Brand hier. Jammer om jou op dié ongoddelike tyd te steur. Jy het seker geslaap.” Hy hoor haar gaap. “O, ek is jammer.”

      “Praat maar, professor.” Die vaak stem is nou wakker.

      “Ek kom van die Trollips af, hulle het my vir ete genooi. In die tuin het ek iets of iemand gewaar. Maar wie of wat dit was, het gou verdwyn.”

      “Dis dalk daardie tuinier … Wag, ek kom onmiddellik, met polisieversterking. Ons sal daar soek.”

      Sy lui af en hy loop na die voorhuis, waar hy deur die venster kyk terwyl die honde om hom maal. Ook maar goed Riaan is nie hier nie. Hy sug. Dis swaar om sonder sy kind te wees, maar hy moet aan Riaan se belang en geestestoestand dink.

      Dit voel vir hom of daar skaars vyf minute verby is, toe hou die polisievoertuig met sy flitsende blou lig en die speurder se geel motor voor die huis stil. Hy jaag eers die honde kombuis toe en maak hulle toe voordat hy die voordeur gaan oopmaak. Van agter in die huis blaf die honde verwoed.

      Lucille Wiid is in ’n sweetpak en haar hare is deurmekaar. By haar is twee polisiemanne.

      “Hallo, professor, hier is ons,” kondig sy aan. “Sersant Adams en konstabel Truter gaan rondkyk. Konstabel Truter het sy wolfhond Smiley gebring om die spoor op te tel. Waar is jou honde? Hy vreet hulle dalk voor brekfis op.”

      Reinhard wil lag vir haar manier van praat, maar hy bly sedig. “Ek het hulle toegesluit, julle kan maar vir Smiley bring. Ek hoop net die hond byt mense nie maklik nie.”

      “Nee, hy’s goed getryn, professor,” verseker die konstabel hom plegtig. Hy haas hom om die hond agter uit die voertuig te haal en bring hom met die leiband nader.

      “Oukei, manne, tjek die plek,” beveel die kaptein. “Ek gaan self met my flitslig om die huis loop.”

      Reinhard loop saam met haar en hulle fynkam elke hoekie.

      Sy draai terug na die huis. “Wel, hier’s niks te vind in die donker nie. Spore sal ons môre kom soek. Ek gaan kyk wat die poeliesmanne regkry. Gaan u maar in, professor.”

      “Nee, ek soek saam.”

      Van die hek af sien

Скачать книгу