Roep van die woestynwind. Malene Breytenbach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Roep van die woestynwind - Malene Breytenbach страница 5

Roep van die woestynwind - Malene Breytenbach

Скачать книгу

waarheen die Bedoul steeds hulle bokke, kamele en donkies neem om te suip. Julle behoort dié Bedoul fassinerend te vind. Hulle hou nog vas aan die ou weë en tradisies, teel kamele en perde, en ry op donkies. Orals sien mens hulle tente staan.”

      Denise kyk by die venster uit en maak of sy haar verwonder aan die barheid van die woestynlandskap.

      “Denise, jy sal sien dat Petra se rotse op plekke lyk asof dit deur ’n skilder ingekleur is. Mense wat dit die eerste keer sien, is gewoonlik verstom oor dié natuurverskynsel.”

      Sy is verplig om terug te draai na die donker oë wat haar weer uit die spieël bekyk. Sy kan maar net hoop haar emosionele toestand is nie te opsigtelik nie. “Baie interessant.”

      “Daar is tans min toeriste, want dis buite seisoen en dit word nogal koud in die nag. Binne seisoen jaag die perdekarretjies deur die Siq, wat die ingang na Petra is. Die Bedoul bied ook donkie- en kameelritte aan. Die plek kan nogal besig raak, maar toerisme is vir Jordanië ’n belangrike bron van inkomste en van alles is Petra die mees gesogte besienswaardigheid. Daar is natuurlik die gewone stalletjies wat boeke, juwele en aandenkings verkoop – daaraan kan jy nie ontsnap nie. Die foto’s van Petra wys mos nie die menigte toeriste en smouse nie.”

      “Waar gaan ons tuis?” wil Julie weet.

      Dale glimlag vir haar. “In die oorspronklike ou hotelletjie naby die museum en die Wadi Siyagh. Maar as ons van opgrawingsterrein verskuif om die prinses se graf te gaan soek, sal ons ons eie kamp opslaan.”

      3

      Hulle ry deur die dorp Wadi Musa en Denise let op dat daar enorme internasionale hotelle is.

      “Hier is nie ’n tekort aan akkommodasie nie,” merk sy op.

      Dale kyk na haar in die truspieël. “Al die grotes is hier, want hulle moet die duisende toeriste akkommodeer. Petra is mos die vernaamste besienswaardigheid in die land. Ons ry deur die dorp en dan draai ons af na Petra, en ry in – ’n mens kan dit doen as die toeristeseisoen verby is. Ons ry dwarsdeur Petra na ons hotelletjie, dus sal julle mooi kan sien hoe groot dit is en watter wonders dit bevat.”

      Denise kyk verstom na die veelkleurige rotsformasies en trek haar asem op toe hulle by die eerste graftombe kom wat uit die rots gesny is.

      “Dis die obelisk-graf,” sê Dale en hou stil sodat sy ’n foto kan neem.

      Hulle ry deur ’n enorme rotsskeur en om draaie waar slegs ’n paar mense loop, en Bedoeïene in lang gewade en hooftooisels met donkies en kamele met veelkleurige saals verbykom.

      “Aan die einde van die Siq waardeur ons nou ry, is die grootste verrassing van almal,” sê Dale. “Die Al Khazneh, oftewel die Tesourie.”

      Sy kan ’n uitroep van verbasing nie keer nie toe daar meteens ’n enorme Grieks-Romeinse graftombe voor hulle opdoem. Dit staan maklik vyf verdiepings hoog, sodat hulle en hulle voertuig skoon verdwerg word. Sy voel asof sy in tyd teruggegaan het na ’n mistieke en geheimsinnige ou wêreld. Sy verwag amper om swaar gewapende krygers hulle tegemoet te sien ry op kamele en Arabierperde.

      “Dis … ongelooflik,” sug sy. “Ek moet hiervan foto’s neem. Hou asseblief stil, Dale.”

      Hy parkeer ’n entjie weg en hulle klim uit. Denise neem verskeie foto’s en vra Dale dan om voor die Tesourie te poseer.

      “Is jy seker jy wil my op die foto hê?” vra hy.

      “Ja, want jy lyk amper soos ’n Arabier,” spot sy. “Ongelukkig het jy nie die regte klere aan nie. Jy moes eintlik ’n gewaad en ’n kopdoek gedra het en nie kakieklere nie.”

      Hy lag. “Ek probeer soos Indiana Jones lyk.”

      “As jy Petra een keer gesien het, wil jy altyd weer terugkom,” glimlag Julie en beduie om haar. “Dis iewers in hierdie klowe waar Dale se prinses versteek lê.”

      “Ja, sy wag daar vir my om haar soos Doringrosie uit die ewige slaap te kom verlos,” terg hy. “Kom, Denise, daar is nog baie om te sien en te fotografeer.”

      Hulle ry verder, deur ’n vallei, verby nog tombes in die rots, met ’n straat langs met gevalle suile, tot by ’n baie groot uitgrawing aan die linkerkant waar verskeie mense werk. Dis so besig soos ’n miernes.

      Dale hou stil. “Hier is die Groot Tempel waar ons nog vandeesweek sal werk, maar dan gaan ons vort,” vertel hy. “Môre kan julle dit behoorlik bekyk. Nou wil julle seker hotel toe gaan en stort. En ’n bietjie rus. Later kan ons iets gaan eet, so teen seweuur. Die kos hier is heerlik, baie gekrui en smaaklik, met baie rys. Julle sal genoeg water en versnaperinge in julle kamers hê om tot dan deur te kom. Ek het gesorg daarvoor. Hier moet jy baie gebottelde water drink, anders droog jy uit. Die plaaslike Moslems drink en bedien nie alkohol nie, maar ek kan vir julle lekker plaaslike bier met die naam Philadelphia bedien. Wyn is hier skaars en duur.”

      Dale ry weer verder en dan stop hulle voor ’n eenvoudige gebou naby ’n museum. “Hier is ons hotel. Maak julle tuis.”

      Denise sit vars gebad en aangetrek, met skoon, blink hare, op die stoep in die kring van lig. Langs haar sit Dale, en sy moet haar met wilskrag daarvan weerhou om heeltyd na hom te kyk. Hy is vir haar net so oorweldigend soos die Siq en Al Khazneh, spot sy met haarself.

      Hy lyk so gesond, geesdriftig en bruingebrand. En sy lyftaal teenoor haar is allesbehalwe afsydig. Hy tree op soos in die verlede: raak aan haar, kyk na haar met ’n sekere lig in sy oë, asof hulle nooit so kil uitmekaar is nie. Wat moet sy daarvan aflei?

      Sy teug aan haar bier en luister hoe hy en een van die Amerikaanse argeoloë, John Nesbitt, aan hulle as nuwe aankomelinge die uitgrawings beskryf wat reeds dié seisoen gedoen is. Dit lyk asof die twee goeie vriende is. Denise verbeel haar dat John Nesbitt haar met nuuskierige belangstelling dophou. Sou Dale enigsins van haar gepraat het?

      “Kom ek verduidelik hoe ons dag hier verloop,” sê Dale, en hy kyk na haar. Sy is verplig om terug te kyk en hulle blikke sluit. “Ons sit beslis nie rond en rus nie. Ons daaglikse roetine is nie soos dié van Indiana Jones nie. Terloops, Indiana Jones and the Last Crusade is hier in Petra verfilm. Hier werk mense van allerhande nasies: Arabiere, Amerikaners, Europeërs, Suid-Afrikaners en selfs Japannese. Almal help om die antieke Nabatea weer te laat leef. Dís wat my so fassineer van argeologie: ons kan vergange mense se lewenswyse en kultuur weer opdiep.

      “Ek en my span staan reeds om halfvyf in die oggend op en dan eet ons eers ontbyt. Pap is gewoonlik op die spyskaart, want dis vullend. Julle besoekers hoef natuurlik nie so vroeg uit die vere te klim nie. Julle kan later by ons aansluit en kyk wat ons doen. Ek sal môre werk, want dis Donderdag. Die spanne en laboratoriumassistente begin om sesuur werk. Studente help hier en daar sodat hulle aan alles kan deelneem, en dis wat jy gaan doen, Arend. Julle kan ook na die opgrawings kom. Julle weet ons moet elke ding noukeurig aanteken, en die burokrasie vereis gedetailleerde verslae. Hulle is bang ons beroof die land van sy skatte.

      “Ons neem ’n pouse in die middel van die oggend vir tee en toebroodjies, dan werk ons tot ongeveer halfeen, wanneer ons middagete neem. Daarna is dit te warm, dan siësta ons ’n bietjie, swem in ’n poel by Wadi Siyagh, of ons gaan na Wadi Musa om by een van die vyfsterhotelle te swem en te kuier. Om sesuur, wanneer die skaduwees hier in die klowe lank raak en dit koeler word, bekyk ons die artefakte wat gedurende die dag gevind is, sodat dit gekatalogiseer kan word. Aandete is om seweuur. Om agtuur vergader die spanne wat opgegrawe het hier by die hoofkwartier en bespreek die resultate.

Скачать книгу