Wat Seuns moet weet. Jan van Elfen

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Wat Seuns moet weet - Jan van Elfen страница 2

Автор:
Серия:
Издательство:
Wat Seuns moet weet - Jan van Elfen

Скачать книгу

nodig om angstig te raak oor adolessensie nie. Hoe ouer jy word, hoe meer sal jy agterkom dat jy dit geniet.

      Adolessensie is die oorgangsjare tussen puberteit (tekens van manwording) en liggaamlike sowel as emosionele volwassenheid. Jy kan moed skep vir dié tyd as jy onthou dat jou ontwikkeling nie tot jou liggaam beperk is nie. Jou gaan meer selfvertroue kry omdat jy byna daagliks verstandiger word en jou emosies al hoe beter kan beheer. ’n Mens is net een maal jonk en adolessensie is die hoogtepunt van jou jeug.

      Leef jouself uit en benut al die geleenthede wat die lewe vir jou bied. Jy kan byvoorbeeld deelneem aan sport en ander sosiale bedrywighede. Sluit ook aan by verskillende organisasies, want so kan jy ander mense ontmoet, nuwe vriende maak en meisies leer ken.

      Probeer om jouself te wees. Dit is belangrik om deur jou vriende aanvaar te word, maar dis belangriker om jou individualiteit te behou en getrou aan jouself te wees.

      Intussen is die tienerlewe vol nuwe ervarings en sal jy dikwels moeilike besluite moet neem. Dié besluite word moeiliker gemaak deur die driftige emosies wat saamgaan met jou liggaamlike rypwording. Miskien sal jy rustiger voel, verstandiger redeneer en optree, as jy die veranderinge in jou liggaam beter verstaan. Kom ons praat daaroor.

      Uit jou nate

      Liggaamlike veranderinge

      Soos alle kinders het jy van geboorte af baie vinnig gegroei. In ’n stadium kon jou ouers nie voorbly om nuwe klere te koop nie. Jou skoene was kort-kort te klein.

      Toe groei jou liggaam skielik stadiger – waarskynlik tussen jou tiende en twaalfde verjaardag. Terselfdertyd het jy wat geaardheid én gedrag betref rustiger geword as in jou vroeë skooljare. In dié rustiger tyd kon jou liggaam ’n bietjie asemskep nadat dit in die groeiproses baie energie opgebruik het.

      In hierdie rustiger stadium hoef jy nie bang te wees dat al jou maats jou gaan verbygroei nie. Die blaaskans duur net ’n kort rukkie, sowat ’n jaar of twee. Dit is eintlik die stilte voor die storm: die adolessente groeisarsie. Dan groei jy weer so kwaai dat jou bene vir jou te lank en jou voete te groot lyk. Jy is dan ook geneig om lomp te voel. Jy sal nou meisies van jou eie ouderdom inhaal en waarskynlik verbysteek. Maar langer rek is nie die enigste kenmerk van puberteit nie.

      Nou groei daar orals hare

      Taamlik skielik merk jy dat jou liggaam groter en jou spiere sterker word. Op jou bolip is daar tekens van donsbaard. Ook elders op jou liggaam, waar jy voorheen haarloos was, het haartjies verskyn – veral in die oksels (onder jou arms) en op die pubis (die ronding net bokant die penis). Party seuns kry ook hare op die bors. Die hare is aanvanklik lig en donsig, maar word later donkerder en krulleriger.

      Jou stem breek

      Nie al die liggaamlike veranderinge wat jy ondergaan is ewe welkom nie. Party laat jou verleë voel. Soos jou stem wat so onvoorspelbaar breek – dit is nou grof, en dan slaan ’n hoë piepgeluid weer sonder waarskuwing deur.

      Moenie kwaad word as jou huismense jou dalk ’n bietjie terg omdat jou stem breek nie. Hulle bedoel niks leliks met hul grappies nie. Dit is boonop niks om oor skaam te wees nie, maar ’n teken dat jy normaal ontwikkel.

      Jou geslagsorgane

      Die opvallendste verandering in jou liggaam is by jou uitwendige geslagsorgane te bespeur. Manlike haargroei begin ongeveer dieselfde tyd as wanneer die skrotum en testes (die sak met saadballe net onder jou penis) vergroot. Terselfdertyd, of kort daarna, word die penis langer en dikker.

      Die ryping van die inwendige geslagsorgane vind ook plaas. Die prostaat (’n klier) word groter en spermproduksie (saadvorming) begin, in so ’n mate dat ejakulasie (uitskeiding van semen) snags voorkom. ’n Sogenaamde wet dream gebeur meestal onverwags en kan nóg ’n rede vir verleentheid wees. Onthou dat hierdie ervaring ’n noodsaaklike mylpaal in puberteit is – dit is nog ’n teken dat jy besig is om ’n man te word.

      Miskien voel jy verwar deur die verskillende anatomiese name en fisiologiese begrippe wat ek hierbo gebruik het. Jy is dalk gewoond daaraan om ander name vir jou organe te gebruik, bv. “piepie” of “voël” en “eiers” of “ballas” in plaas van “penis” en “testes”. Raak maar gewoond aan die nuwe terme, maar moenie skaam wees vir jou en jou huismense se eie benamings nie.

      As jy die volgende hoofstuk – wat oor die anatomie en fisiologie van die geslagsorgane handel – lees, sal jy besef hoe interessant en doelmatig die werking van jou liggaam is.

      Wanneer begin dit alles?

      Daar kan nooit met sekerheid voorspel word wanneer die veranderinge van puberteit by ’n seun gaan begin nie. By die meeste begin dit op 12 jaar en bereik dit ’n aanvanklike hoogtepunt tussen 13 en 14 jaar. Dit is egter glad nie buitengewoon vir haastige knape om hul maats op 11 of selfs 10 jaar voor te spring nie. En daar is ouens wat eers in matriek of selfs nadat hulle die skool verlaat het, aanstaltes maak. Dit sal nie help om jou te ontstel oor wanneer jy gaan begin om “groot te word” nie. Party babas kry tande en begin kruip voor hul tydgenote. Uiteindelik kou en stap almal ewe fluks.

      Wat manwording betref, kom agteros ook in die kraal. Party seuns is al goed ontwikkel wat die penis betref, sonder dat hulle ooit ’n wet dream gehad het. Ander, wat minder ontwikkeling toon, kan onverwags in hul slaap of as gevolg van wrywing op die penis so iets ondervind.

      Aangesien adolessensie ’n baie selfbewuste lewenstadium is, ontstaan daar allerlei bekommernisse oor liggaamlike voorkoms, byvoorbeeld oor skewe tande, bakore of vertraagde groei. Omdat seuns nou eenmaal seuns is, kan dit ook wees oor die voorkoms van die penis.

      Jou borste groei ook

      ’n Ander onwelkome teken van puberteit is die vergroting van ’n seun se borste. Jy hoef nie te vrees dat jy in ’n vrou gaan verander as jou tepels begin jeuk en die areola (omringende bruin deel) ietwat opswel nie. In vergelyking met ’n meisie sal jy maar altyd plat wees van voor.

      Dit kan wel vir jou ’n doring in die vlees wees. Die effense vergroting kan ongemaklik wees. ’n Ruk lank kan ’n ligte stamp teen die bors of selfs die geskaaf van ’n growwe hemp teen jou tepels pynlik wees. Dit kan ook gebeur dat albei borste nie gelyktydig stywer word en vergroot nie.

      Hoekom het mans tepels? Hulle gaan immers nooit ’n baba aan die bors voed nie. Hierdie verskynsel is ’n verdere bewys daarvan dat elke mens liggaamlik iets van die teenoorgestelde geslag het. Jy sal sien wanneer ons die geslagsbou van die vrou bespreek, is dit byvoorbeeld duidelik dat die vrou se klitoris ’n verband hou met die penis.

      Dieselfde gevoeligheid wat by jou borste te bespeur is, kan ook by jou testes gemerk word. Jy kan begin wonder of jy dalk beskerming vir jou testikels moet begin dra wanneer jy aan sport deelneem. Sportbeserings van die genitalieë kom egter selde voor. As dit jou gemakliker en veiliger laat voel, kan jy ’n stywe onderbroek van die bikini-tipe dra. Dit verleen genoeg ondersteuning, sonder om die lieste te skaaf of beweging te strem.

      Terug by die haargroei

      ’n Goeie selfbeeld is vir elke mens belangrik. Die meeste tieners is hiermee behep. Hierdie beheptheid, wat tot selfondersoek voor die spieël en vergelyking met jou vriende aanleiding gee, is nie alleen tot jou geslagsorgane beperk nie. Neem byvoorbeeld die haargroei op jou bors.

      Wanneer jy jou borshaartjies kan begin tel, het jy dalk vrae oor hare op die liggaam. As jy nie baie borshare kry nie, hoef jy jou nie daaroor te ontstel nie. Manlikheid hang nie van borshare af nie en word ook nie aan die weligheid daarvan gemeet nie. Aardjie na sy

Скачать книгу