Donatello en Volksie. Marion Erskine

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Donatello en Volksie - Marion Erskine страница 5

Donatello en Volksie - Marion Erskine

Скачать книгу

Daar is maar ’n paar snaakse meisies ook, hoor!

      Volksie: O, exciting!! Jy moet vertel! *rubbing hands together*

      Donatello: Jy sal my nie glo as ek jou vertel nie.

      Volksie: Komaan! Ek’t jou vertel van die man in my pantyhose! Try me!!

      Donatello: Goed dan. My eerste afspraak was skaars drie maande gelede. Haar skermnaam was Daisy90210. Ná ’n paar weke se aanlyn-gesels het ons albei besluit dis tyd om mekaar te ontmoet en te kyk hoe dinge uitwerk.

      Volksie: Soos ons nou maar almal doen, ja. Go on! Go on!

      Donatello: Jy sien. ’n Probleem van die aanlyn-kuiers is dat mense nie altyd hul mees onlangse foto’s gebruik nie – en soms met goeie rede.

      Volksie: I smell disaster!

      Donatello: Presies. So, Daisy90210 was toe maklik 30 kilogram swaarder as op die oorspronklike foto wat sy vir my gestuur het. Ek vind toe eers later uit dat dit haar matriekafskeidfoto was.

      Volksie: SMG! En toe drop jy haar so vinnig soos ’n bungee cord?

      Donatello: Nee, glo my. Ek’s nie so oppervlakkig nie. My ma het my grootgemaak met goeie maniere en ek kon selfs verby die “nuwe” Daisy sien, maar die Winnie the Pooh-pleister op haar voorkop was net vir my die laaste strooi.

      Volksie: Nee!!! :-D

      Donatello: Ja. Dis ’n prentjie wat ongelukkig vir ewig in my brein ingeëts is.

      Volksie: Maar hoekom die pleister?

      Donatello: Daisy, kennelik van Pretoria, se verskoning was: “My mô het my gewôrsku ek moenie aan blinde puisies druk nie. Nou sit ek met dié karbonkel op ons eerste date.”

      Volksie: LOL!!! LOL!!! ROFL!!!

      Zoë lag so dat sy amper van haar stoel affoeter. Sy probeer haar in toom hou voordat Jan-Hendrik by die deur inbars. Hy kan partykeer lekker nors wees wanneer hy wakker skrik. Sy vee die trane uit haar oë en tik verder:

      Volksie: En tóé drop jy haar soos ’n bungee cord?!

      Donatello: Wel, uit beginsel reageer ek nie op Call me-boodskappe nie. Veral nie op twintig of meer ’n dag nie. En daarom het dinge maar doodgeloop.

      Volksie: Jong, jy’s soos ’n Prozac. Ek voel stukke beter as gister dié tyd.

      Donatello: Dis mos maar kuberruimte. Mens kan hier jouself wees en ’n bietjie wegbreek van die werklikheid.

      Volksie: Of voorgee dat jy iets is wat jy glad nie is nie.

      Donatello: Wel, ek doen nie. Gee jy voor?

      Volksie: Miskien. ;-)

      Donatello: Hm … nee, ek dink nie so nie. Ek het ’n goeie gevoel oor jou.

      Volksie: Feeling is mutual. :-D

      Donatello: Die son kom al amper op. Gaan ons weer probeer slaap?

      Volksie: Klink na ’n goeie idee. Ek kan amper nie my oge oophou nie.

      Donatello: Ek sien jy’t nie ’n foto van jouself gelaai nie.

      Volksie: Hoor wie praat. Ek sien ook maar net jou vraagteken. Kom ons maak ’n deal. As ons nog ’n paar keer so lekker kuier, dan stuur ons foto’s vir mekaar.

      Donatello: Klink na ’n puik idee.

      Volksie: En as ons mekaar ooit ontmoet, belowe ek ek sal nie ’n Pooh-pleister aanhê nie.

      Donatello: Ek’t so gehoop jy sou sê “wanneer” in plaas van “as”.

      Volksie: Nou goed dan. Wanneer. Dankie vir die chat, D.

      Donatello: Ditto.

      Zoë kliek die skermpie af en glimlag. Donatello was nou net die tonic wat sy nodig gehad het om deur die volgende paar dae te kom. Dit is nes hy gesê het: mens is baie brawer in hierdie kletskamers as in die regte lewe. Sy weet voor haar siel sy sal waarskynlik nie die helfte van die gesprekke voer as sy die man van aangesig tot aangesig moet aanskou nie. Maar as sy hier voorgee om so ’n sterk persoonlikheid te hê, gee hy nie ook maar voor nie? Wie is Donatello regtig? Sy kry die gevoel dat hy anders kan wees as die gewone ou. Maar kan mens regtig jou instink vertrou oor skerms, sleutelborde en digitale kabels? Diep in haar binneste hoop sy van harte so.

      3

      ’n Trojaanse hings en ’n volbloed-merrie

      Die laatoggendsonnetjie skyn warm by die slaapkamervenster in. Zoë skrik wakker en sien dit is al ná elf. Sy is nog redelik deur die slaap en mik so met een oog haar pad badkamer toe. Sy sukkel lomp die deur oop en stap in. Zoë skrik haar wawyd wakker toe ’n wildvreemde kaal man hom voor die stort afdroog. Eintlik is afdroog nie reg nie. Want hy het ook verstar. Die amper twee meter lange beeld van ’n man het spiere op plekke waar Zoë nie geweet het plekke bestaan nie en sy langerige swart hare hang repe oor sy potblou oë. ’n Oomblik staar hulle net na mekaar. Toe pluk hy die handdoek so gou moontlik oor die nodigste dele.

      “Jammer!” gil Zoë geskok, draai in haar spore om en loop teen die deur vas. Sy gryp die handvatsel verwoed, pluk die deur oop en loop na die kombuis waar Jan-Hendrik met ’n groot smile sit en koffie drink.

      “Môre, môre, Jellietot,” groet hy vriendelik. “Jy lyk asof jy ’n spook gesien het!”

      “As dit maar net ’n spook was,” sug sy en plant haarself in ’n stoel oorkant Jan-Hendrik. “Kan ons die onderbroekreël vir die badkamerdeur ook laat geld?”

      “O crap,” lag Jan-Hendrik terwyl hy vir haar ’n koppie koffie skink. “Jy’t vir Troy ontmoet?”

      “In al sy glorie, ja.”

      “En wat dink jy?” giggel Jan-Hendrik stout. “Hy’s ’n dish, nè.”

      Zoë bloos nog steeds. “Hy’s meer as ’n dish. Hy’t genoeg vir ’n six-course meal.”

      Jan-Hendrik skater van die lag, buk oor en soen vir Zoë teen haar voorkop. “Dis hoekom ek so lief is vir jou! Merry Christmas, Jellietot!”

      “Jy ook, meneer! Obviously het jy al klaar Kersfees op ’n goeie noot begin.”

      Jan-Hendrik se glimlag spreek boekdele. Hy en Zoë is reeds van kleintyd af vriende. Vandat hulle in graad een langs mekaar op die skoolbank beland het, was daar ’n spesiale band tussen hulle – waarskynlik omdat albei effens anders was. Jan-Hendrik het nie juis seunsmaats gehad nie, terwyl Zoë nooit belanggestel het in die goed wat meisies van haar ouderdom wou doen nie. Sy herinner Jan-Hendrik gereeld aan daardie eerste keer wat hy by haar kom speel het. Sy is kombuis toe om vir hulle koeldrank te gaan haal en toe sy terugkom in haar kamer, het Jan-Hendrik elkeen van haar Barbie-poppe in blink aandrokke aangetrek. “Vir die Miss Universe-kompetisie,” het hy ernstig aan haar verduidelik. Zoë was dus glad nie geskok toe Jan-Hendrik op sewentien sy groot geheim aan haar verklap het nie – al was hy ’n aantreklike, fris man en baie gewild onder die meisies.

      Troy maak

Скачать книгу