Heler van skade. Malene Breytenbach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Heler van skade - Malene Breytenbach страница 3

Heler van skade - Malene Breytenbach

Скачать книгу

met ’n vadoek af. “Sterkte, dokter. Jirretjie tog, ek hoop die seun is nie aan die doodgaan nie.”

      “Nie as ons dit kan keer nie.”

      Op ’n drafstap haas Lucinda haar na die kliniek, waar dit lyk asof almal in die kinderafdeling rondhardloop en gereedmaak vir die ontvangs van die malariapasiënt. Sy sit haar tas in die voorportaal neer en volg die mense na die helipad, waar Jens en Marita en ’n horde mense reeds staan en wag.

      Die helikopter sweef nader en hang in die lug sodat die reuse rotore die bome en gras en almal se klere en hare woes laat waai. Op die kant lees Lucinda Huber Construction Africa. Sy gaan nader, al waai haar hare oor haar gesig en wapper haar jas om haar asof sy in ’n tornado is. Die helikopter lyk vir haar soos ’n reuse muskiet.

      Marita neem haar arm en skree iets, beduie na die helikopter, maar Lucinda kan nie hoor nie.

      “Wat?” roep sy.

      “Die pa het saamgekom.”

      Almal storm nader toe die loods en drie mans uitklim en Lucinda kyk hoe hulle die figuur op die draagbaar uithaal en op die kliniek se trollie sit. Dis maar ’n kleinerige mensie, dink sy vervaard.

      Toe sien sy die lang, donker man raak wat langs die pasiënt bly terwyl die personeel om die draagbaar maal. Hy draai om en groet vir Jens en Marita, sy hare deurmekaar gewaai deur die wind van die rotore, wat al stadiger draai totdat hulle gaan staan. Die dreunende enjin word afgeskakel.

      Lucinda kry die eienaardigste gewaarwording. Die man is beslis aantreklik, lank en met breë skouers, donker hare en oë en met ’n soel vel, maar sy gesig is stroef van bekommernis. Sy voel simpatie vir hom, maar dis nie al nie. Dis asof haar asem iewers in haar keel gestol het.

      Sy ruk haar reg en gaan nader.

      “Hier is een van ons pediaters, dokter Lucinda O’Neill,” hoor sy Jens sê. “Dokter Wannenburg wag in die saal vir ons. Lucinda, dit is meneer Werner Huber.”

      Donker, troebel oë kyk in hare en ’n groot hand omvou hare. “Aangename kennis, dokter.” Sy voel asof die oë in haar siel inkyk, maar dan is die oomblik verby en draai hy weg.

      “Dankie dat ons so vinnig hierheen kon kom, Jens.”

      Die ouer man klap hom liggies teen die skouer. “Ons help graag ’n ou vriend. Kom, ons neem Erik onmiddellik in dat ons bloedtoetse kan doen. Hy sal in ’n privaat kamer lê, want hy het natuurlik geweldige hoë koors.”

      Lucinda en Marita volg terwyl die ander vooruit haas. “Dit lyk my julle ken die Hubers goed?” vra Lucinda in die loop.

      “Ja, Werner en Jens se jonger broer was groot vriende op universiteit. Werner en sy vrou het eenkeer vir ons kom kuier, maar hulle is twee jaar gelede geskei. Sedertdien het ons hom nie weer gesien nie, maar hy werk deesdae ook meesal aan groot projekte in Afrika.”

      Lucinda se simpatie verdiep sommer. Die arme, siek kind kom uit ’n gebroke huis, maar hy het darem ’n besorgde pa.

      Klein Erik is uiteindelik in die bed en sy sien dat hy behoorlik ruk van die koors. Sy gesig is rooi en blink van sweet. Lang, swart wimpers lê op sy wange. Sy donker hare is deurdrenk van sweet en sy lyfie bewe onophoudelik. Nogtans is hy vir haar ’n mooi kind, wat baie weerloos lyk.

      Almal staan terug sodat sy oor hom kan buk en hom ondersoek.

      “Hoe oud is hy?” vra sy vir die pa, wat aan die ander kant van die bed staan, sy gesig bleek. Sy merk terloops dat hy grys vlekkies in sy swart hare het en dat hy eerder manlik as bloot aantreklik genoem kan word.

      “Hy is sewe. Hy het vir my kom kuier in Zambië. Ons het gedink dis nog nie muskiettyd nie, en sowaar, daar word hy gebyt. Dit het ’n aantal dae geneem voordat ons besef het hy is regtig baie siek. Ek het nie juis vertroue in die dokters van Zambië nie en het hom onmiddellik teruggebring na Suid-Afrika. Na Jens se kliniek.”

      “Dis die beste ding wat jy kon gedoen het,” sê Jens.

      Lucinda kom met die uitslag van die bloedtoetse wat die laboratorium gestuur het by Werner Huber aan.

      Foei tog, hy waak nog heeltyd by sy seun, al werk die personeel met die kind, dink sy. Sy mooi hemp en broek is gekreukel en sy das is heeltemal los. Sy hare is deurmekaar en die swart baard op sy besliste kakebeen maak ’n skaduwee onder sy vel.

      Hy kyk op na haar, en sy merk met deernis dat hy baie moeg lyk, al is hy klaarblyklik ’n sterk man.

      “Jy lyk vir my baie jonk, dokter O’Neill,” sê hy. “Maar Jens-hulle verseker my jy is ’n uitstekende dokter en dat jy vertroud is met tropiese siektes.”

      “Ja, ek het by Tygerberg-hospitaal daarmee gewerk.”

      Hy staan op en kom nader.

      Sy kyk op in sy gesig. “Miskien moet u na my kantoor kom en die verpleegsters toelaat om vir eers na u seun om te sien. Ek moet vir u verduidelik wat aangaan.”

      Terwyl hy agter haar aanstap, is sy bewus van sy groot gestalte en die nuuskierige blikke, of blikke vol ontsag, wat hulle volg.

      “Sit asseblief, meneer Huber,” nooi sy toe hulle in die kantoor is, en sy gaan sit oorkant hom. “Weet u baie van malaria af?”

      “Ek weet dit maak baie mense in Afrika en Asië dood, en dat daar verskillende soorte is. Watter soort het my seun?”

      Hy klink asof hy hom met wilskrag kalm hou.

      Lucinda skraap haar keel sodat sy nie emosioneel en skor moet klink nie. “Hy het Plasmodium falciparum. Ek moet u ongelukkig waarsku dat dit een van die ergste vorms van die siekte is.”

      Sy sien hoe sy soel gelaat verbleek. “Liewe hemel,” hoor sy hom prewel. “Hoe op aarde kon dit gebeur het?”

      “Malariaparasiete word deur die vroulike anofelesmuskiet versprei en –”

      “Ja, dit weet ek darem. Ek het sy ma – my eksvrou – gewaarsku dat hy vooraf iets moet neem, want al is dit nog vroeë lente, bestaan die gevaar van besmetting. Dit wil vir my voorkom asof hy niks geneem het nie.” Lucinda sien dat hy so hard op sy tande kners dat die spiere in sy kakebeen beweeg en ’n aartjie op sy voorkop begin klop.

      “Eers het dit gelyk asof Erik griep onder lede het,” sug hy.

      “Die simptome kan soos griep wees: kortasem, naarheid, kouekoors. Mense besef nie altyd dadelik dat dit malaria kan wees nie.”

      Werner Huber kreun. “Wat is die ergste scenario? Koma, die … dood?”

      Dit ruk haar aan die hart dat hy so ontsteld is. “Ja, maar ons kan dit hopelik keer. U het hom betyds gebring.”

      Hy laat sak sy kop in sy hande en sy kyk hoe die lang vingers deur sy hare vee asof hy die aaklige nuus wil wegvee.

      “Meneer Huber, malaria-infeksie word met middels soos kinien en artemisinin behandel en al kom middelweerstandigheid dikwels voor, moet u asseblief nie moed verloor nie. U kind is jonk en hy was waarskynlik gesond en nie ondervoed nie.”

      Hy kyk na haar met oë vol pyn. “Erik is my enigste kind. Al wat ek het. As ek hom moet verloor

Скачать книгу