Heler van skade. Malene Breytenbach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Heler van skade - Malene Breytenbach страница 5

Heler van skade - Malene Breytenbach

Скачать книгу

dosering daarvan moeilik is om heeltemal korrek vas te stel. Sy kry vloeistofmedikasie, wat duur is, en ons moet dit natuurlik verkoel. Ek probeer die regte dosis volgens gewig toedien, maar soos jy seker weet, reageer kinders nie altyd so goed soos volwassenes nie.”

      Lucinda luister in stilte en dink dat Nanette met sulke behandeling dalk jare lank sal lewe, maar niemand kan seker wees nie. Sy knipper skielike trane weg.

      Edwin se kind. Blonde, vrolike Edwin wat nie kon wag om weg te gaan en die lewe met albei hande aan te gryp nie. Sy het op die nuus gesien en gelees hoe hy aan die Grand Prix in verskillende lande deelneem, en selfs hoe hy wen.

      Het hy die losbandige lewe begin aanhang toe hy ryk en beroemd geword het? Die soort lewe waar mense met MIV besmet kan word? Sy voel siek as sy daaraan dink.

      Waar is al die ander familie, die ma se mense? Of het hulle haar verwerp omdat sy vigs gekry het?

      Ek sal jou tragedie vir jou probeer versag, klein meisie, dink sy en buk oor Nanette. “Ek kom weer vir jou kuier, hoor.”

      “Ja.” Die fluistering is so sag dat Lucinda dit skaars hoor.

      Werner Huber kyk na die jong pediater toe sy inkom en merk dadelik op dat sy lyk asof sy ontsteld is, maar dit probeer wegsteek. Sou dit wees omdat sy vrees dat hulle nie vir Erik gaan deurtrek nie? Hy kry ’n gevoel van onrus soos ’n klip in sy maag.

      Daar buk sy weer oor sy seun en ondersoek hom. Hy het lanklaas so ’n deernisvolle gesig gesien. Dat sy omgee en dat haar hart in haar werk is, kan niemand betwyfel nie. Daarby het sy ’n sonderlinge skoonheid, waarvan sy skaars bewus lyk. Iemand so mooi kon ydel gewees het, maar sy is dit skynbaar nie.

      “Een van my skranderste studente, en deurgaans ’n presteerder, seker omdat sy met beurse en lenings moes studeer,” het Jens vroeër vertel toe hy oor haar uitgevra het. ’n Weeskind uit ’n baie troebel agtergrond. Dis seker daarom dat sy so simpatiek voorkom: sy ken swaarkry en sukkel.

      Daar is net een probleem, dink hy: sy lyk so jonk. Haar loopbaan as pediater was nog maar kort. Hy wonder of sy ooit genoeg weet, ten spyte van die vertroue wat Jens in haar stel. Gelukkig is hier darem ’n ouer pediater by om haar te ondersteun. Jens en Marita se belangstelling in Erik is ook persoonlik.

      “Pappa.”

      Hy skrik toe hy Erik se stem duidelik hoor en vlieg op. Die dokter steek haar hand uit en streel liggies oor Erik se wang. Dis so ’n teer gebaar dat die asem in Werner se keel vasslaan.

      Sy kyk op. “Hy is ’n bietjie deurmekaar, maar ons verwag dit.”

      Werner kyk diep in die pragtige blou oë tussen swart wimpers. Hy besef dat hy staar en dat sy bloos, asof sy verleë is.

      Sy kyk af en hou haar besig, en op sy beurt hou hy haar diskreet dop. Al weet sy dalk nog nie genoeg nie weens ’n tekort aan ondervinding, het sy ’n wonderlike bedside manner, dink hy. Hy kan glo dat kinders vir haar lief kan word.

      Onwillekeurig sug hy.

      “U moet baie moeg wees,” hoor hy haar sê. “Wil u nie gaan eet en stort nie? U kan mos weer terugkom. U doen nie uself óf Erik ’n guns as u uitgeput raak nie. U moet ook u kragte bewaar.”

      “Jy bedoel julle wil nie twee pasiënte hê nie?”

      “Ja. Ek dink u moet vir my luister. U sal sommer baie beter voel. Anna kook aandete en ek het vir haar gesê sy moet na u omsien.”

      Styf-styf staan hy op. “Nou goed dan, maar ek is netnou weer terug.”

      Toe hy uit is, hoor Lucinda agter haar ’n stem sê: “Haai, bly hy tog nie by dokter in die huis nie?”

      Sy draai om. “Ja, want daar is baie ruimte. Dis óf daar óf by die Krauses.”

      Verpleegster Jenny het ’n uitdrukking van afkeer, en ook iets soos nyd.

      Lucinda onderdruk ’n sug. Mense moet nou net nie iets lees in haar aanbod dat Werner Huber onder haar dak kan vertoef nie. Sy kry hom jammer, dis al. Sy probeer net medemenslik wees.

      3

      Toe Lucinda by die huis aankom, tref sy Werner Huber in die eetkamer aan, besig om te eet. Hy lyk pas gestort, met klam hare en gemaklike klere.

      “Ek sien Anna het vir u kos gegee.”

      “Ek dwing myself om te eet, maar soos jy sien, luister ek vir jou.”

      As hy so gemaklik en informeel is en nie vir haar u sê nie, moet sy seker daarby aanpas, anders kom sy te styf voor.

      “Is jou kamer na wense?”

      “Ek is baie gemaklik, dankie, en jou huishulp is ’n juweel. Gaan jy saameet?”

      “Wel, ek kan. Ek gaan haal sommer vir myself.”

      Anna staan en tert bak. “O, is dokter terug? Ek dag ek maak sommer iets lekkers, want daardie arme man lyk vir my so voos.”

      “Ek dink hy is. Sy seun is baie siek. Ek skep sommer vir myself op, dan gaan sit ek by hom.”

      Met haar bord kos gaan neem sy aan tafel plaas, en sy sien dat hy vir haar gewag het. Sy mes en vurk is neergesit en hy sit penregop.

      “Ek hoop jou kos het nie koud geword nie. Jy kon gerus maar voortgegaan het.”

      Hy glimlag net en begin weer eet. Hulle eet in stilte en sy is vreeslik bewus van hom. Dit voel asof hy die vertrek met sy persoonlikheid vul. Dis seker die kenmerk van ’n dinamiese mens, iemand aan wie baie ander onderdanig is en van wie hulle afhanklik is. Hy het eenvoudig ’n aura van beheer. Behalwe as hy by sy seun is. Dan lyk hy so hulpeloos en kwesbaar dat dit haar juis raak omdat dit so ongewoon is.

      Hy kyk meteens op en betrap haar dat sy vir hom kyk. Vervaard slaan sy haar blik neer.

      “Het jy baie projekte in Afrika?” vra sy om die gespanne stilte te verbreek.

      “Ek het op ’n tyd drie gehad, want oral is infrastruktuur nodig of aan die vergaan. Maar as ek hierdie laaste een afgehandel het, kom ek terug Suid-Afrika toe om net hier te werk. Die lewe wat ek tot dusver gelei het, het my huwelik laat skipbreuk ly en gemaak dat ek my kind te min gesien het. Ek kon byna ses maande lank nie na hom toe gaan nie, toe kom kuier hy vir my. En kyk wat het gebeur.”

      “Jy kon dit tog nie verhelp nie. Hy is baie gelukkig om ’n pa te hê wat so omgee.”

      Hy kyk ondersoekend, deurpriemend na haar en sy kyk braaf terug.

      “Ek verneem jy was … is … ’n weeskind.”

      Het die Krauses dit tog nie vir hom vertel nie? dink sy. Waarom sou hulle haar met hom bespreek het?

      “Ja, my ouers is dood toe ek ongeveer drie jaar oud was. Ek is na pleegouers vir ’n jaar en daarna na die weeshuis.”

      Sy sê dit met finaliteit in haar stem wat te kenne moet gee dat sy nie uitgevra wil word nie. Hy doen dit ook nie, maak net in stilte sy ete klaar.

      “Ek gaan sommer dadelik weer terug,” kondig hy aan. “Sal jy my

Скачать книгу