Tuiskoms. Irma Joubert

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Tuiskoms - Irma Joubert страница

Tuiskoms - Irma Joubert

Скачать книгу

      

      Tuiskoms – stories oor die liefde

      Irma Joubert

      Tafelberg

      Vir Melanie

      Met liéfde

      van Irma

      Die liefde neem ’n duisend vorme aan

      – I.D. du Plessis

      Liewe leser

      Toe ek ná my aftrede begin skryf het, was my eerste skryfsels kortverhale vir verskillende tydskrifte. Later vind ek uit dis waar baie ander skrywers ook begin het – ’n kortverhaal voel vir die beginner mos net meer hanteerbaar as ’n dikke roman. Mettertyd besef ’n mens dat die skryf van ’n kortverhaal ’n moeiliker kuns is. Jy moet steeds die volle siklus van die spanningslyn, die hele ruimte waarbinne die verhaal afspeel en die karaktertekening binne 2 000 woorde inpas. Deesdae is dit regtig vir my makliker om ’n lekker vet boek te skryf, daarom verskyn daar selde nog kortverhale uit my pen.

      Tuiskoms is ’n bundel stories oor die liefde. Maar dan, soos I.D. du Plessis in die gedig “As ek my vreemde liefde” tereg gesê het: Die liefde neem ’n duisend vorme aan (toegegee, ietwat buite konteks aangehaal)! Hierdie is dus stories oor die liefde tussen man en vrou, maar ook oor al die ander liefdes in ons lewens, soos die liefde tussen ouers en kinders, tussen broers en susters – selfs die storie van die stoepswaeltjie wat gaan staan en verlief raak het op (familieskande!) ’n brúgswaeltjie. Ek meen nou maar, dis so . . . onbeskááf! Maar die hart laat hom mos hoeka nog nooit voorsê nie.

      Al die stories in Tuiskoms het die afgelope ses jaar reeds in tydskrifte soos Huisgenoot, Rooi Rose en Landbouweekblad verskyn. My heel eerste storie was “Rondom Jana” – ek het nou nog omtrent tien uitgawes van die Huisgenoot van Oktober 2004 met my naam piepklein gedruk by die storie – ag, wat ’n lekkerte!

      Ek hoop werklik dat my stories oor die liefde ook jou tone sal laat krul van lekkerte onder jou warm kombers. Want vir mý kan jy telkens met ’n slap riem vang met ’n mooi storie oor die liefde.

      ’n Aand om te onthou

      “Vittorio en Giovanni Venucci Prokureurs, Eusía wat praat,” antwoord sy so ordentlik as wat sy kan. Sy het nie besef sy gaan as deel van haar prokureursklerkskap ook telefoniste wees nie, dink sy mismoedig.

      “Ken someone speak Afrikaans dere?” teem ’n stem aan die ander kant.

      “Ek práát Afrikaans. Kan ek help?”

      Stilte.

      “Is u daar?” vra sy.

      “Wát het jy gesê is jou naam?”

      “Die naam van die firma is Vittorio en Giovanni Venucci’s, en my naam is Eusía. Hoe kan ek help?”

      “Eusía? Wat vir ’n naam is dit?”

      “Dis afgelei van Eufesia; my ouma se naam is Eufesia. Wil u met meneer Vittorio praat, of met sy kleinseun Giovanni?”

      Ek gáán ’n ander firma soek om my klerkskap by te doen, besluit sy finaal. Tussen hierdie humeurige Italiaanse baas en sy aantreklike Italiaanse kleinseun hou ek dit nooit. Oumie het van die begin af gesê ek moet eerder probeer om by ’n Afrikaanse firma in te kom.

      Én ek gaan my naam verander: Met ’n naam soos Eusía van der Spek gaan niemand my ooit ernstig opneem nie.

      Verbeel jou: “Wie hanteer jou saak?”

      “Eusía van der Spek.”

      “Watse goed?”

      Nee, dit sal nooit deug nie. My van kan miskien mettertyd verander, dink sy, hoewel ek dit deesdae ook betwyfel. Aan my naam sal ek self iets moet doen.

      Maar toe sy laatmiddag na haar ouma se huis ry om gou dag te sê, weet sy: Dit sal ek nooit aan Oumie kan doen nie. Nie ná alles wat sy vir my gedoen het nie.

      Oupa Herman en ouma Eufesia en hul mooi huis het haar wêreld geword nadat haar ouers verongeluk het. Hulle het ’n stukkende dogtertjie van nege geneem en haar toegevou in liefde totdat sy weer self begin asemhaal het. Hulle het agter musieklesse aangery en oorslaappartytjies met tien ander dogtertjies getrotseer en by skoolkonserte heel voor gesit.

      Tot Oupa siek geword het en sy en Oumie alleen agtergebly het.

      Sy was sestien, in die hart van haar eerste liefdesteleurstelling. En toe word Oupa siek – Oupa met wie sy so lekker kon gesels. En sy en Oumie is elke aand alleen.

      “En behalwe dat my hart seer is oor Oupa, is ek nog seer oor Deon ook, Oumie. Ek was vreeslik lief vir hom – ek dink regtig nie ek sal ooit weer so lief kan wees vir iemand nie.”

      Oumie het stil geglimlag. “Ja,” het sy gesê, “jy sal weer lief word vir iemand anders, en weer en weer, tót die regte een opdaag.”

      Oumie het haar geleer hoe om sterk te wees, want sy het ’n te sagte kern gehad. “Dis goed om sag te wees, Eusía,” het Oumie gesê. “Daarsonder is ’n vrou nie vróú nie. Maar jy moet ook sterk wees, soos nou. Môre gaan jy skool toe met jou kop hoog en jou gelukkigste glimlag op jou mooi gesiggie. Die hartseer los ons vir binne die mure van ons huisie.”

      “Dis hoe Oumie dit regkry, vandat Oupa weg is?”

      “Ja, Eusía. Ek onthou altyd die woorde: All my memories are happy, tonight – I had a love of my own.”

      Daardie aand het sy haar aan die slaap gehuil – oor die mooi aanhaling.

      Nee, besluit sy toe sy haar motortjie sluit en in die paadjie na haar ouma se huis opstap, Eusía sal seker maar moet bly. Miskien moet sy begin werk aan die Van der Spek – dalk deur die kilo of twee ekstra spekkies weg te kry.

      Maar Oumie het aandete gemaak, met souskluitjies, wat ook nie help om die Van der Spek na Maerskalk te verander nie.

      Die volgende oggend stap die drop dead-aantreklike Giovanni by haar kantoortjie in en neem met sy drop dead-aantreklike sitvlak op die hoek van haar lessenaar plaas. In sy drop dead-aantreklike stem sê hy: “As ek mag vra, hoekom beantwoord jy die telefoon en liasseer dokumente as jy ’n LL.B. het?”

      “Ek wonder self,” sê sy so ferm moontlik. “Vra jou oupa.” Sy kyk nie op na sy drop dead-aantreklike oë nie – sy vermoed sy is verlief. En sy sien gereeld hoe die langbeenblonde bom ná werk buite vir hom wag. Verlief is net seerkry se maat.

      Hy lag. “Jy moet hom maar verskoon. Hy is nog van die ouer garde. Hy sukkel met die gedagte dat ’n vrou die manswêreld betree.”

      “Hoekom kry hy dan nie vir hom ’n mansklerk nie?”

      Hy lag weer, ’n drop– . . . Nee, sy gaan haar nié laat vang nie. “Hulle hou nie,” sê hy. “Jy behoort teen hierdie tyd al te weet waarom nie. Jy’s nogal verbasend sterk, hoor.”

      Daardie aand vertel sy vir haar ouma: “ ’n Drop dead-aantreklike man het vandag vir my gesê ek is nogal verbasend sterk.”

      “Mmm. Kas opgetel of arm gedruk?”

      “Nee,

Скачать книгу