Tuiskoms. Irma Joubert

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Tuiskoms - Irma Joubert страница 3

Tuiskoms - Irma Joubert

Скачать книгу

tafeltjie kom, staan hy op. Sy swart leerbaadjie pas breed oor sy skouers.

      Hy buig effens in Oumie se rigting. “Aangenaam,” sê hy. “Ek veronderstel u is mevrou Naudé?”

      Oumie draai effens verward na Eusía, maar dan sien sy vir Vittorio Venucci. Sy verstar.

      Vittorio Venucci kom stadig regop: ’n groot, donker man met donker oë en dik, grys hare. Ongeloof spoel oor sy gesig. “Eufesia?” sê hy.

      Sy kom eerste tot verhaal. Sy glimlag mooi. “Goeie-naand, Vitto.” Sy draai na Eusía. “Ek dog ek het uitdruklik gesê . . .”

      “Eufesia?” sê Vittorio weer. “Jy het waaragtig net so beeldskoon gebly.”

      En toe kry Eufesia ’n effense rooi kleurtjie en sy kyk af – mmm, nie baie sterk nie, dink Eusía.

      Vittorio trek die stoel langs hom uit. “Jammer, ek vergeet my maniere. Kom sit. Dis net . . . jy is so pragtig, soos ’n droom.” Hy praat net met Eufesia. “Of . . . is julle op pad na ’n ander tafel?”

      “Nee, hulle sit by ons,” sê Giovanni.

      Vittorio besef daar is ander mense in die vertrek, op die aardbol. “O,” sê hy, “dis goed. Eufesia, ek kan nie glo dis jy nie.” Dan draai hy weer na Giovanni. “Ek dog dan jy het gesê ek moet jou nuwe vriendin kom ontmoet? Is Eusía . . .”

      “Nee, nee,” keer Giovanni en lag. “Ek wou Oupa maar net hier kry. Eusía, stap saam, ons gaan haal vir ons elkeen ’n drankie.”

      Daardie “nee, nee” en daardie lag laat die samesyn vir Eusía versplinter – hy vind die idee dat sý sy nuwe vriendin kan wees, dus heeltemal belaglik. Sy voel hoe haar rug vanself reguit en sterk word.

      “Kom,” sê hy ferm en neem haar aan die elmboog.

      “Ek is nie lus om saam te stap na die kroegie nie,” sê sy toe hulle buite hoorafstand is. “Hoekom bestel jy nie net drankies nie?”

      Hy kyk haar verbaas aan. “Want hulle moet mos ’n rukkie alleen wees. Waar’s jou romantiese streep nou?”

      By die venster uit saam met jou lag, dink sy opstandig.

      Die blonde bom wat aan die kroegtoonbank hang, laat die aand finaal in skerwe op die vloer lê. Sy sien vir Giovanni voordat hy háár sien. Sy pyl op hom af.

      “Gio! Ek dog jy is uit op ’n date?”

      “Goeienaand, Claudia. Kan ek jou voorstel aan die nuwe liefde in my lewe? Dit is nou Eusía. Maar julle het seker al ontmoet?”

      Eusía se mond val oop. Gelukkig Claudia s’n ook, en Eusía s’n gaan eerste toe. “Goeienaand,” sê sy.

      Toe hulle terugstap, betig sy hom: “Jy het gejok. Dis nie reg nie.”

      “En jy het ook gejok, die hele aand al, selfs vir jou ouma!” Sy oë terg heeltyd. “Nou sal jy maar verder moet saamspeel.”

      “Maar dis nie reg nie,” sê sy streng.

      “Jy’s reg,” kom dit gemaak ernstig. “Kom ons geniet dit nogtans.”

      “Maar wat van Claudia?”

      “Hoe gouer Claudia besef ek stel nie belang nie, hoe beter vir albei van ons,” sê hy.

      Dit word ’n vreemde aand – ’n aand waarop Oumie byna nooit met haar praat nie, net blinkoog na die groot Italianer langs haar luister. Dit word ’n aand waarop haar humeurige baas vermurwe voor haar ouma se sagte glimlag en hy teer herinneringe opdiep. Dit word ’n aand waarop hulle baie wyn drink en eksotiese kosse eet – en ’n aand waarop sy met Giovanni dans, in sy arms dans.

      Sy voel die hele aand Giovanni se hand op haar kaal rug. Sy is in die waai van sy arm, sy ander hand toegevou om hare. Sy volg die bewegings van sy lyf, sy voel die ritme van die musiek deur haar pols, sy volg hom waar hy lei. Hulle deel grappies, probeer saam verspotte bewegings, lag saam voordat hy haar vinnig in die rondte swaai en haar dan weer styf teen sy lang lyf vasdruk. Hulle dans totdat hul lywe een word.

      Teen elfuur staan Vittorio Venucci op. “Giovanni, jy ry saam met Eusía, sy kan jou by jou woonstel gaan aflaai. Ek neem vir Eufesia terug met jou motor.”

      Giovanni se oë glinster. “Het ek en Eusía ’n sê?”

      Sy oupa kyk hom verbaas aan. “Nee,” sê hy.

      Toe hulle later – baie, baie later – na sy woonstel ry, sê Giovanni: “Dit was regtig ’n aand om te onthou.”

      “Ja,” antwoord sy tevrede, “ek dink nie my Oumie gaan meer eensaam wees nie.” Sy hou voor sy woonstelblok stil.

      Hy draai na haar en sy gesig is ernstig. “Ek praat nie net van húlle nie, Eusía.”

      Sy sit doodstil.

      “Dit was vir my ook ’n . . . baie besonderse aand.”

      Sy sit doodstil.

      “Dink jy ons kan nog sulke aande hê, ek en jy?”

      Sy sit doodstil.

      “Hoekom praat jy nie?”

      “Ek is bang die seepbel bars,” sê sy met haar mooiste glimlag.

      En toe sy mond op hare sluit, weet sy hy was reg: Dié aand sal almal van ons baie lank onthou.

      Petronel se dilemma

      Petronel het ’n moeilikheid, soos in ’n groot moeilikheid. Nou nie in die klas van “wat gaan ek volgende civvy-dag aantrek” of “hoe raak ’n mens binne vyf minute van hierdie karbonkel op jou neus ontslae” nie. Moeilikheid soos in wat haar broer sal noem ’n dilemma, of wat haar Afrikaans-meneer sal noem ’n tameletjie. Sy verkies “tameletjie” bo “dilemma”, want dit is ’n taai spul, eintlik nog ’n erger spul as dít.

      Sy moet baie, baie dringend iets omtrent haar moeilikheid doen. Dis al Woensdag. Miskien moet sy dit eers met haar broer bespreek.

      “Lourens, ek het ’n dilemma.”

      Haar broer lyk beïndruk. “Ja?”

      “Eintlik ’n tameletjie.”

      Hy lyk nog meer beïndruk. “Ja?”

      “ ’n Taai tameletjie.”

      Hy begin geïrriteerd lyk. “Ja?”

      “Grant het my gevra om die naweek wat kom saam met hulle strandhuis toe te gaan.”

      Hy lyk verveeld. “En?”

      “En dit val nog op Vadersdag ook.”

      “En?”

      “En ek weet nie of Pa my sal laat gaan nie.”

      Hy kyk weer na die rekenaarskerm

Скачать книгу