Anna Atoom en die magnetiese meermin. Elizabeth Wasserman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Anna Atoom en die magnetiese meermin - Elizabeth Wasserman страница 2

Автор:
Серия:
Издательство:
Anna Atoom en die magnetiese meermin - Elizabeth Wasserman

Скачать книгу

weet dus dat lig noodsaaklik is vir sien: in die donker is ons almal blind.

      Maar wat anders as die donker kan dinge onsigbaar maak? Wat van iets wat deurskynend is? Indien ’n voorwerp geen ligstrale weerkaats nie, kan ’n mens dit nie raaksien nie. As die ligstrale van die wêreld daarom en daaragter boonop ongestoord deur so ’n “deurskynende voorwerp” kan gaan, word dit werklik onsigbaar.

      Dalk is dit hoe Brak se onsigbaarheidsprogram werk?

      Dit is beter dat dit ’n geheim bly!

      Met goeie rede, natuurlik: onsigbaarheid na willekeur sal baie probleme kan veroorsaak, nie waar nie?

      Om ’n soliede robothond soos Brak, gemaak uit metaal, plastiek, rubber en silikoonstroombane, heeltemal deurskynend te maak, is sekerlik nie kinderspeletjies nie. Die wetenskap is wonderliker as towerkuns.

box feature rule.jpg

      Anna haal die aanwysingsboek uit haar rugsak uit en blaai daardeur. Daar is dit! Dit lyk nie te moeilik nie: daar is ’n spesiale kode wat sy moet insleutel in die kontrolepaneel wat weggesteek is onder ’n klein metaalflappie op Brak se rug, net voor sy stert. Dan moet sy net die “aktiveer”-knoppie druk, en ditsem: haar hond is onsigbaar!

      Dit is minstens wat die boekie haar belowe.

      Anna is skepties. Sy het nog nooit iets gesien wat onsigbaar is nie.

      Sy grinnik. Natuurlik nie! Dit is mos die hele punt van onsigbaarheid.

      Die kode is uniek, en mens moet dit weer insleutel om Brak weer sigbaar te maak.

      “Fyn!” sê Anna. “Hierdie kode moet ons net nie verloor nie, outjie, of jy bly onsigbaar vir altyd.”

      Brak swaai net sy stert. Dan spring hy om en hardloop af na die rand van die water. Skielik spring hy hoog in die lug, hoër as wat enige gewone hond ooit sou kon spring. Hy slaan agteroor bollemakiesie voor hy weer netjies land om die vlak water in silwer boë om sy pote te laat spat.

      Anna lag.

      “Kom hier, simpel, dan leer ek jou nog ’n beter toertjie!”

      Brak hol soos blits terug na haar toe en slaan so vinnig rem aan dat die sand in alle rigtings spat. Hy plak hom reg voor Anna neer en die liggies agter die lense van sy oë blink sommer nog helderder. Sy rubberstert maak ’n waaierpatroon in die sand soos dit swaai.

      Anna se vingers vind maklik die flappie op sy rug, en sy klap dit oop met haar duimnael. Brak word onmiddellik gedeaktiveer: die outjie sit nou tjoepstil en sy ore hang. Sy oogliggies is dof. Anna kyk na die netjiese ry knoppies en die klein rekenaarskermpie van die kontrolepaneel op sy rug. Vinnig sleutel sy die wagwoord in wat haar toegang gee tot Brak se sagteware.

      Sy stryk die bladsye van die instruksieboek plat en sorgvuldig tik sy die agtsyferkode in. Dan druk sy die knoppie wat sê “aktiveer”.

      Brak verdwyn.

      Anna kan steeds die koue metaal van sy lyfie onder haar vingers voel. Sy vryf verwonderd oor die gladde niks, en per ongeluk stamp haar vingers die onsigbare flappie weer toe. Sy hoor dit sluit met ’n klikgeluid.

      Onmiddellik word Brak weer geaktiveer. Sy weet dit, want hy begin opgewonde blaf, iewers by haar linkeroor.

      Steeds sien sy niks van hom nie. Skielik verskyn daar driehoekige Brak-spore in die los sand rondom haar soos die onsigbare robothond opgewonde in sirkels rondom haar spring.

      Maar Brak is ONSIGBAAR!

      Anna gil van plesier. Sy het dit reggekry!

      “Brak, jou wonderlike, ongelooflike snaakse ding!” lag sy. Sy spring op en hol af water toe, gevolg deur die wilde geblaf van haar onsigbare troetel-robotbrak.

      Dit is sowaar pret! Sy kan vir Brak hoor, maar al wat sy van hom kan sien, is die ry spore wat in en uit die vlak branders vleg, en nou en dan die sand en water in boë laat spat soos wat sy onsigbare pote woel. Hulle jaag mekaar rond en speel aan-aan. Brak is nog moeiliker om te vang as gewoonlik, want hy het nou ’n groot voorsprong. Hy leer gou dat Anna hom glad nie kan kry as hy net doodstil bly staan nie.

      Na ’n rukkie is Anna warm en uitgeput. Sy roep vir Brak en hulle keer terug na hul piekniekplek toe. Sy vroetel in haar rugsak rond en kry ’n louwarm bottel Coke. Sy knak die doppie oop en teug diep aan die gasserige soetigheid.

      “Genoeg nou, kêrel!” sug sy. “Kom ons kry jou weer reg.”

      Sy kyk om haar rond, op soek na die aanwysingsboekie wat sy weer in die plastieksak gebêre het.

      Dit is nêrens te sien nie. Sy soek oral: in haar rugsak, onder haar handdoek, in die bosse rondom die palmboom waaronder sy gesit het. Al wat sy kry, is ’n paar reuseslakke en krapgate. Het Ton dalk na haar kom soek en die boek saam met hom gevat? Hy is immers gewoond daaraan om altyd alles te bêre wat sy laat rondlê. Maar daar is geen duidelike voetspore in die sand te bespeur nie, en sover sy weet was daar vandag nog niemand behalwe sy en Brak op hierdie strand nie.

      Die instruksieboek is skoonveld. Die onsigbare Brak help ook nie veel nie, selfs toe sy hom beveel om sy vernuftige neus in te span. Hy is steeds laf van opgewondenheid en skop net sand rond met al sy kaperjolle.

      “Raak rustig, jou aap!” maan sy hom, “dis ’n ernstige saak dié. Ons kan jou nie só los nie!”

      Maar dit lyk asof sy geen ander keuse het nie. Sonder die aanwysings kan sy nie die onsigbaarheidsprogram afskakel nie, en dit lyk sowaar asof sy nou permanent met ’n onsigbare brak gaan sit.

      Uiteindelik moet sy die soektog staak. Dit help tog niks! Sy sal moet gaan hulp soek. Ton of haar ma – hulle sal weet hoe om hierdie situasie te hanteer.

      Sy hoop maar so.

      Anna swaai haar rugsak oor haar skouers en stap terug huis toe, eers al langs die rand van die baai en dan draai sy weg van die see af. Sy volg die sanderige voetpad wat tussen die palmbome deur kronkel, in die rigting van die huis wat gebou is naby die hoogste punt van hulle klein eiland. Die tropiese son sak vinnig en dit word donker.

      Die skraal donkerkopmeisie lyk op die oog af alleen, maar kort op haar hakke verskyn daar ’n stel driehoekige voetspore in die sand, asof ’n vreemde towerspel haar agtervolg.

      ***

      Vanuit die bosse agter haar kyk ’n paar groen oë hoe sy wegstap. Die rooikopseun glimlag breed en blaai vinnig deur die boek wat hy gebuit het. Noudat hy alleen op die strand is, fluit hy ’n toonlose deuntjie tussen sy tande deur. Die gefluitery is ’n ou gewoonte van hom.

      Slim brakkie! Wat sal hy nog alles kan doen?

Die blouwalvis.jpg

      Die blouwalvis se reis

      In ’n see ver weg van Anna s’n swem ’n blouwalviswyfie.

      Die afgelope somer was die koue water rondom Antarktika haar tuiste.

Скачать книгу