Tik. Piet Steyn

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Tik - Piet Steyn страница 8

Автор:
Серия:
Издательство:
Tik - Piet Steyn

Скачать книгу

diefwering los gegrind laas Saterdag toe Ma-hulle by die klub was. Net kougom hou dit nou in plek.”

      “Magtig, Baby!” Boeries loer in die truspieël na Keppies se swartkopseun wat oopmond op die agterste sitplek lê en snork, ’n nat, suurstinkende kol op sy hemp. Cecil! Is dit sy naam? Dis die eerste keer dat hy iemand hom iets anders hoor noem as Keppies se oliekop-laaitie. “Wat het hom oorgekom?”

      Baby sit by die kantvenster en uitstaar, draai ’n haarlok om haar vinger voor sy afsydig antwoord. “Te veel gesuip … Daar was boom ook.”

      “Ja, en jy? Seker net gesit en kougom kou. Of het jy ook …”

      Sy hoor hom nie, kyk net afgetrokke na die rivier wanneer hulle oor die brug ry. Ná ’n ruk sê sy: “Hulle het goed wat soos kristalle lyk in ’n ou gloeilamp met ’n kersvlam warm gemaak en die dampe gesnuif.”

      Tik! Boeries kyk bekommerd na haar. “Het jy ook gesnuif?”

      “Hu-uh! Hulle wou my dwing, toe bel ek jou.”

      “En die dagga?” vra hy meedoënloos.

      Sy antwoord nie.

      “Baby, demmit …”

      Baby knik terwyl sy by die kantvenster uitstaar. “Net ’n paar trekke,” sê sy sag.

      Boeries skud sy kop. “Verdomp, Baby. Julle speel met vuur. Daardie kristalle is tik, dis hel op wiele. Jy moet wegbly van die goed, én die boom ook. Of ék foeter jou self!” Hy bly ’n ruk stil, tot hulle in hulle straat in Merriespruit opdraai. “En jy en die moegoe van jou hier agter sorg dat daardie diefwering weer vasgesweis word. Pa-hulle gaan volgende week op verlof en hulle dink die huis is beveilig met diefwering. Dis bleddie gevaarlik!” Hy bly ’n rukkie stil nadat hy stilgehou het, kyk dan na haar. “Ek dink jy moet nou maar eers weer deur die venster klim, anders gaan Ma jou hoor.”

      8

      Dit is nou stikdonker, die maan is weg. Boonop werk die ou bakkie se ligte nie en Charlie het nie ’n benul waar hy is nie. “Jy moet van die pad af kom, Charlie,” prewel hy by homself. “Wat jy nou doen, is gevaarlik, jy kan bokkerol sien.” Hy is bang hy ry van die pad af wat dofweg voor hom lê; wie weet watse gate en slote en rotse wag langsaan. Die skielike rukwinde wat ’n rukkie terug die storm se koms aangekondig het en die seil op die bak losgeruk en saam met rolbosse en droë mielieblare en stof die nag in laat verdwyn het, is nou stil.

      “Charlie, my maat,” bly hy homself moed inpraat, “jy moet jou joppies maar eerder in die stad doen. Daar waar jy die wêreld ken, hier vreet die leeus jou nog op.”

      Die wind het die wolkbank vinnig nader gebring. Minute gelede het dit nog flitsende wit aambeeldkoppe ver agter die horison uitgestoot; nou het dit voor die maan ingeskuif en die geluidlose elektriese storm van netnou is nou ’n kakofoniese, blitsende tirade.

      Charlie karring weer met die lig se skakelaar; dit flits momenteel aan en dan verdwyn die lig weer. “Kom nou, kom nou …” Hy karring ’n slag onder die paneelbord, vroetel aan ’n spul drade wat daar hang en gee die stuurstang ’n harde klap. “Demmit!” skree hy die nag in, en dan is daar lig.

      In die skielike helderte blink ’n trop skape se oë langs die tweespoor – altans, hy hoop dit is skape! Dit is dalk ’n trop bloeddorstige leeus, of honger krokodille of dalk selfs seemonsters. Hy wat Charlie is, het verdwaal, heeltemal en in sy moer in. Die pad waarop hy nou is, is niks meer as twee wit strepe deur die veld nie, en hoe hy daarop beland het, weet hy nie, want die ou Hilux se ligte het ’n lang ruk nie gewerk nie. Die bleddie dieseltenk is ook feitlik leeg, en dit is diep platteland hierdie.

      Met behulp van die weerlig wat onophoudelik flits en soms die omgewing helder verlig, kruie hy voort op die tweespoor, bewus van donker, hoë rante en heuwels weerskant. Wat kan hy nou anders doen as om aan te hou ry? Waar hy vandaan kom, het lankal verdwyn in die donkerte van die nag, en waarheen hy op pad is, weet die hel alleen. Vir al wat hy weet, neuk hy nog in die see in as hy ver genoeg oos ry, of ten minste teen die kranse van die Drakensberge af. Die wolke het ook die Suiderkruis laat verdwyn en hy het nie ’n idee van die rigting waarin hy beweeg nie, nou ry hy maar tot die diesel opraak. Dit is beter as om stil te sit en te wag vir iets om te gebeur, en hoe verder hy van die brandende plaashuis af kom, hoe beter.

      Die onweer flits en rammel onophoudelik, word net soms onderbreek deur ’n harde slag en ’n weerligstraal wat blou vonke uit die rotsagtige rante langs die pad slaan. Groot druppels begin plof op die ou bakkie se voorruit, en dan verdwyn alles plotseling om hom in die stortreën. Hy klap ’n hefboom teen die stuurwiel af, die ruitveërs begin sonder veel sukses klap-klap en skree oor die voorruit, want daar is nie meer veel rubber aan hulle nie.

      Die Hilux se linkervoorwiel stamp deur ’n diep slaggat, die ou voertuig swaai na links uit die twee spore, die stuur ruk uit Charlie se hande en hulpeloos voel hy hoe die bakkie in die donker deur die lang gras teen ’n skuinste af stamp, deur ’n sloot bokspring en dan met ’n harde slag teen ’n groot rots tot stilstand kom. Die enjinkap spring oop, ’n pyn skiet deur Charlie se borsbeen – daar is nie ’n veiligheidsgordel wat kon keer dat sy bolyf teen die stuurwiel vasgestamp word nie. Die vrag op die bak ruk los en slaan teen die stuurkajuit vas, ’n televisie vlieg oor die dak en teen die oop enjinkap vas.

      Die bakkie se enjin het gevrek, stoom borrel onder die kap uit en die warm metaal tik soos dit afkoel onder die reëndruppels. Weerlig dans op die rante; Charlie sien hoe dit sy hande bleekblou verlig en hy laat sak sy kop op die stuurwiel.

      Fok.

      Hier sit hy, die gevreesde Twostep Charlie, op ’n onbekende en faktap pad iewers in Suid-Afrika in ’n opgefokte skorro-skorro van ’n bakkie, met die weerlig wat dooierus vat op enigiets wat beweeg, of nie beweeg nie.

      Die witkop sit seker nou met ’n langsteelglas en verlekker haar oor die dom donner wat ’n kontrak gevat het vir ’n sluipmoord wat sy in any case self klaar gedoen het; hy moet net sonder betaling die blaam kom vat.

      Charlie maak sy oë toe. Sy skuld hom, maar daar’s niks wat hy nou in dié reën kan doen nie. Hy hoop die seun is by haar, of waar ook al, solank hy net veilig is. Die outoppies met die swart jasse en die wattekadotjies op die kop hou nie van skarminkels wat kinders aan die brand steek nie. Afgesien daarvan, hy wat Charlie is hou nogal van kinders, hy kom goed met hulle klaar. Kinders vra nie of jy in die tronk was en waar jy grootgeword het nie, as hulle van jou hou dan maak sulke dinge nie saak nie.

      9

      Charlie word met ’n ruk wakker … Dis ’n helikopter wat so lawaai! Hy kyk vervaard om hom rond. Die reën het opgehou, maar dit is nog bewolk; die nag is donker sonder enige teken van sterre. Dan sien hy dit: in die kantspieëls die flitsende ligte van die helikopter wat bokant die tweespoorpad hang, met ’n soeklig wat soos ’n blink naald in die veld rondpriem. As hulle spore soek, mors hulle hulle tyd, die reën het daarvoor gesorg.

      Charlie hou die bewegings in die truspieëls dop. Dit kan net die pote wees. Hoe de hel het hulle so vinnig op sy spoor gekom? Die spul hier in die diep platteland is veronderstel om nog met perde en motorfietse te ry, nie bleddie helikopters nie. Hy moet wegkom!

      Die deur aan sy kant is gebuig deur die stamp teen die rots; die een aan die passasierskant het weer nie ’n handvatsel nie. Hy draai die venster oop en seil deur die opening, lê ’n ruk stil in die nat gras voordat hy opspring en gebukkend deur die lang nat tamboekiegras die nag in hardloop, weg van die pad en die ou Hilux en die geklop van die helikopter se

Скачать книгу