Tik. Piet Steyn

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Tik - Piet Steyn страница 9

Автор:
Серия:
Издательство:
Tik - Piet Steyn

Скачать книгу

wegkom, maar die pyn in sy heup maak dit nie maklik nie. Hy hink-hink gebukkend; elke asemteug soos ’n warm yster in sy bors. Hy vermoed die stuurwiel het van sy ribbe gebreek, of sy borsbeen gekneus.

      ’n Doringtak krap deur sy gesig, ’n paar kiewiete vlieg skellend onder sy voete uit, vlieg om hom, duik op sy kop af – hopelik verdoof die lawaai van die helikopter die geskree van die voëls. Sy asem jaag en sy hart klop in sy ore, maar hy hoor tog die uitroepe agter hom – hulle moet die bakkie gekry het.

      Charlie kan voel die grond word steiler onder sy voete, hy moet nou teen die helling wees van die groot rant wat hy teen die gesigseinder kon sien lê voordat die reën om die Hilux toegesak en hy in die sloot ingeneuk het. As hy opkyk, kan hy teen die wegdrywende wolke waarin die weerlig nog af en toe flikker die donkerder profiel van die rant sien.

      Die helling word skielik baie steiler, en los klippe wat hy raak trap, rol teen die skuinste af; hy begin hande-viervoet kruip. Naby die kruin gly sy voete op die ronde los klippe; hy probeer met sy hande keer, maar beland met sy seer heup op ’n skerp klip. ’n Verlammende pyn skiet deur sy heup en die hele linkerkant van sy lyf, maak dit vir hom onmoontlik om op te staan. Agter hom raas die helikopter; dit is nou by die Hilux, sien hy, die soeklig swiep deur die veld.

      Charlie weet hy sal van die skuinste moet afkom. As hulle die helikopter se motor stop en net luister, sal hulle hom gou hoor – die rollende klippe en die lawaai van die kiewiete sal sy posisie verklap. Hy probeer opstaan, kry dit nie reg nie, daar is geen krag in sy been nie. Sy soekende hande kry ’n wortel van ’n bos beet en hy trek hom boontoe. Met sy laaste bietjie krag kruip hy oor ’n rotsrif tot bo-op ’n plato. ’n Ruk lê hy op sy rug om sy asem terug te kry en om sy heup en been kans te gee om weer lewe te kry, as dit ooit weer sal. Hy sien hoe lae wit wolke vinnig onder die donker reënwolke verbygejaag. Fok, hy’s nie hiervoor aanmekaargesit nie!

      Onder by die pad kan hy in die soeklig se lig figure om en op die Hilux sien rondsoek. Hy sukkel regop en begin strompelend oor die plato hardloop, weg van die lawaai wat die spul daaronder maak. In die halflig sien hy ’n groot klomp rotse en klippe tussen die gras. Hy sal ’n plek moet kry om weg te kruip, ten minste totdat dit lig genoeg is om te sien waarheen hy op pad is, anders gaan hy in ’n gat neuk of homself flenters hardloop teen ’n rots of ’n ding wat hy nie kan sien nie, of dalk aan die ander kant van die plato afneuk. Hy is nou naby die rotsagtige oorkantse rand van die plato; in die ooste begin die lug reeds rooi verkleur.

      In die grou lig sukkel hy aan op die platorand. Hy moet ’n plek kry om af te klim, maar hier val die rotsrand meer as vyftien meter loodreg na onder. Rimrock country, noem die cowboys dit in die gehawende Louis L’Amour-boeke wat hy in die tronk gelees het. In daardie boeke was daar altyd ’n plek waar selfs ’n man te perd kon afgaan, hy moet net soek.

      Dan kry Charlie ’n skeur in die rotsrand en hy syg op die grond neer. Met elke asemteug raas sy bors. Die pyn in sy heup en die miltsteek in sy sy is ondraaglik. As ’n man ses jaar in die tronk gesit het, is jou lyf nou wragtag nie juis in ’n toestand om in die nag aan veldwedlope oor berge en dale en oor klippe en rotse deel te neem nie.

      Die skeur bied wel ’n moontlikheid om van die plato af te kom. Die helling in die skeur af is skuins en loop soos ’n glybaan tot waar ’n doringboom jare terug wortelgeskiet het. Deur die jare moes voëls allerlei sade vanuit die takke laat val het, want dit het weer wortelgeskiet en nou is die doringboom se stam omring deur doringagtige bessiestruike. Dit is waarom Charlie nie verder ondertoe as net tot by die boom kan sien nie.

      Die son het intussen sy rooi gesig bo die oosterkim begin uitsteek, en die grassade en kruine van die hoër rante na die weste is in ’n oranje gloed gehul. Hy moet hier wegkom! Agter hom hoor hy die toere van die helikopter se motor versnel, hulle styg seker weer op. Daar is nou geen ander uitweg nie, hy sal net in die skeur móét af, op hierdie kaal plato staan hy uit soos ’n puisie op ’n vark se agterent.

      Charlie klim versigtig in die skeur in, verloor sy balans op die los klippe en gruis wat deur die jare hier moes ingespoel het. Sy voete gly onder hom uit en die eerste paar tree af na die boom se stam toe gly hy op sy sitvlak in ’n stroom van klippe en dassiemis en dooie doringtakke teen die steil helling af. Dan kry die klippe momentum en dit word ’n rotsstorting in die kleine. Charlie gryp die stam van die boom krampagtig met albei arms vas, skop met sy voos tekkies teen die rotse tussen die bessiebosse vas om te keer dat hy saam met die gemors oor die afgrond onder die boom aftuimel. ’n Groot voël wat bo in die boom sit en slaap het, flap sy vlerke en verdwyn in die dieptes af. Onderkant die stam is daar ’n vertikale val van tien meter wat Charlie van bo af nie kon sien nie. Hy loer terug na van waar hy op sy agterent afgekom het. Sonder ’n tou en hulp van bo gaan hy nie weer dáár uitkom nie, en ondertoe nog minder – tensy hy vinnig leer vlieg of bereid is om hom vrek te val op die rotse daar onder.

      Hy hoor die helikopter naderkom, dink daaraan om die pistool uit sy belt te haal, maar dan moet hy die boomstam los. Die geluid word ál harder totdat dit stadig oor die skeur beweeg. Dit is nie ’n polisiehelikopter nie – hulle vlieg nie met rooi helikopters sonder polisiekentekens nie. Dalk van die boere in die omgewing wat van die ongeluk met die bakkie gehoor het en kom help? Maar hoe het hulle daarvan geweet? Dalk ’n beeswagter wat gesien het wat gebeur het?

      Dit sal beter wees om van die pistool ontslae te raak; almal weet ’n man met ’n pistool in sy broek is ’n skarminkel. Terwyl hy met die een hand aan die boom se onderste tak vasklou, trek hy die skietding uit sy belt. Hy wil die .22 verby die boomstam in die dieptes afgooi, maar bedink hom. Dit gaan teen sy grein in om ’n goeie, bruikbare vuurwapen sommer net weg te gooi, ’n mens weet nooit, dalk eendag … So onmoontlik en simpel as wat dit klink.

      Reg voor Charlie is daar ’n gat of skeur in die rotswand waar daar lank terug ’n stuk rots moes uitgebreek het. Die spiere in die skouer waaraan hy hang, wil uitskeur as hy oorleun. Hy knyp die skurwe boomstam met die knieë vas – sy heup skree om genade! – trek die ou reënbaadjie wat hy in die Hilux gekry het uit, draai die pistool daarin toe en druk dit so diep moontlik in die gat in.

      Die helikopter hang nou reg bokant die skeur. Charlie kyk op; sien ’n man met swart klere wat met ’n megafoon voor sy mond by die deur uithang. “Sit fokken doodstil,” kom ’n stem blikkerig deur die rotors se lawaai. “As jy jou gat roer, gaan jy jou fokken nek breek.”

      Die taal is nou ook nie juis dit wat ’n man van ’n poot verwag nie, in elk geval nie as hy aan diens is en met ’n slagoffer in nood kommunikeer nie. Die boere wat hý ken, praat ook nie so nie, behalwe die boere in die tronk, maar hulle was tronkbewaarders en het nie koeie gemelk nie …

      “Sit net stil,” kraak die blikstem weer, “ons is nou terug. Moet nie beweeg nie.”

      Simpel bliksem! Waarheen dink die vent kan hy nou gaan; hy klou soos ’n neet aan ’n boomstam tussen niks en nêrens met ’n moerse afgrond onder hom.

      Charlie hoor hoe die helikopter op die plato land, hoe die toere van die motor afneem.

      Ná ’n ruk val ’n tou met ’n lus vooraan langs hom in die skeur af. ’n Paar los klippe kom saam met die tou, verdwyn oor die afgrond en Charlie hoor hoe dit ondertoe op die rotse kletter. “Maak die ding om jou lyf vas!” roep die stem.

      Dit is nie só maklik nie! Charlie vat die lus met die een hand vas terwyl hy met die ander arm aan die stam vasklou en teen die rotse vasskop. Toe die lus oor sy kop en onder sy arms vas is, skreeu hy boontoe: “Is die ding vas daar bo?” Daar is nie ’n manier dat hy alles net so los, met niks onder hom en net ’n maer babelaas polisiemannetjie aan die ander kant nie.

      “Ja!” weergalm die megafoon se blikstem in die skeur af.

      Fok, dink die bliksem hy is doof? Die chopper

Скачать книгу