Tik. Piet Steyn

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Tik - Piet Steyn страница 13

Автор:
Серия:
Издательство:
Tik - Piet Steyn

Скачать книгу

nie eers raak nie; hy het die los rafel van die knoop afgetrek en vryf dit nou tussen duim en wysvinger in ’n bolletjie. In sy ander hand hou hy die knoop vas wat in die proses losgekom het.

      Pine grinnik. O, ellende op ellende! Speurder soek ’n vrou – dit sal ’n goeie TV-reeks maak.

      “Jy moet regtig iemand kry om jou knope beter aan te werk,” sê Annie met ’n stem wat drup van die vriendelikheid, maar die rafelbolletjie verg al die man se aandag. Annie kyk na Pine en knipoog in Kat se rigting.

      Pine wonder of Annie besef dat sy besig is om met die leeu se stert te speel. Ou Kat het ’n paar Cupido-pyle deur die hart, maar hy bly ’n gevaarlike man, word gou kwaad en die ontlading is gewoonlik gewelddadig. Maar nou ja, die liefde is …

      “Right!” Mkhize klap sy selfoon toe en kom teruggestap. “Let us start.” Hy gaan sit agter die lessenaar, teug aan die blou bottel en skuif gemakliker in die stoel in. “The drug of the Cape Flats, crystal meth or more commonly known as tik, is becoming more and more of a nuisance north of the Orange river. Even at universities like the Northwest University and Tukkies more students are using it. There is a noticeable increase also in the PWV area, and especially in the KOSH municipal area.”

      Die speurders kyk fronsend na mekaar. Die PWV gebied ken hulle, maar Kosj …?

      “Dit is die munisipale gebied van Klerksdorp, Orkney, Stilfontein en Hartebeesfontein,” verduidelik Annie snipperig.

      “So, the northern universities are having a combined campaign, together with various law enforcement agencies against the increase of drug abuse. They are holding a week-long conference at the Northwest University, die Puk, soos julle hom almal roep. The DEA of America will also be represented and will lecture as part of a worldwide drive to try and clamp down on the manufacturing and distribution of drugs. Julle weet dat ons ewe skielik die groot moeilikheid het saam met die tik en heroïne en ook van die coke.” Hy suig weer aan die bottel, terwyl sy oë van die een na die ander spring.

      Toe die generaal die hoof van die nuwe Valke-eenheid geword het, het hy van die lede van die ontbinde Skerpioene-eenheid in sy eenheid opgeneem, maar ook van die speurders wat voorheen onder hom gewerk het. Pine, Kat en Jerome Williams het besluit om by die Valke aan te sluit, want hulle het gevoel dit is ’n eenheid wat ’n verskil kan maak.

      “Daar sal van Narcotics se mense ook wees met speeches en daardie soort van ding. Elke afdeling is gevra om representatives te stuur. Annie, you are going to make a speech on the forensics of drug abuse and the consequences thereof in South Africa. I suppose you have been notified about it already?”

      Annie knik. “Ja, Generaal.”

      “Ek hoop net nie ek moet ook ’n donnerse speech maak nie,” brom Kat deur sy snor, vee die punte driftig uit sy mondhoeke.

      “Kat, enigste rede waarom jy gaan, is vir ondervinding. Somewhere, we think in southern Gauteng or the Free State, there is a hell of a big drug manufacturing plant and I’m sure that one of these days we will have to send somebody in as an undercover agent; somebody not so well known to the drug cartels, and then you must know what it’s all about.”

      “Sny net sy snor af, Generaal, en niemand sal hom ken nie,” karring Pine.

      “Ek stem saam, Generaal,” koer Mooi Annie met ’n sedige gesiggie.

      Kat brom iets onhoorbaars. Nou soek sy vir stront, jy karring nie aanhoudend aan ’n man se bleddie snor nie!

      “Daar is nog anderse lelike dinge wat jy moet bekyk daar naby, in die Vredefort Dome. Ken jy die plek? Sabotage of development projects, and a young woman drowned under very mysterious circumstances at one of these sites – she was an excellent swimmer … So, terwyl jy daar is, hou sommer jou oë oop, want die mannetjies van die Buffelshoek en Potchefstroom se stasies het nie ’n clue nie.”

      Kat skud sy kop. “Hoekom word die konferensie juis by die Puk gehou, Generaal?”

      “Die mense van Amerika het gevra vir ’n … ’n tranquil plek. Hulle sê die drugs-ding is depressing genoeg. Die mense van Potchefstroom se university het ’n plaas, Nooitgedacht, in die Dome, op die rivier se walle. Daar is bungalows, a conference sentrum en al die modern facilities – daar is ander kampe ook in die omgewing vir blyplek. Dit is baie central ook. The NWU snapped up the opportunity to be the host. Daar is natuurlik ander sponsors ook wat van die drugs-ding ontslae wil raak.”

      “En ek, Generaal?” Pine sien al ’n week van rustigheid, snags deurslaap sonder ’n skreeuende kleintjie, vuil doeke en bottels wat gesteriliseer moet word. Hy kan al die sing van ’n Penn 49A-katrol hoor as daardie pappie van alle geelvisse hom vat en stroomop hardloop.

      “Sorry, Pine, but I need you here, perhaps some other time. As brigadier van die Hawks is jou rough en tumble dae bietjie nou klaar.”

      Ag tog! Miskien is dit maar beter so. Hy sal hom in elk geval vrek verlang het na Tiaan en Ann.

      12

      Toe Charlie sy oë oopmaak, het hy ’n babelas wat soos ’n vrot nat vadoek oor hom lê. Niks is seer nie, maar niks voel ook reg nie; niks is vasgemaak nie, maar niks wil ook beweeg nie. ’n Lam, lui, koorsagtige doodsheid het hom soos griep beet en laat hom stil lê. As die hamerhoue tussen sy oë te erg raak, maak hy hulle maar eerder weer toe – loer deur skrefies in die kamer rond.

      Waar de hel is hy, en waar kom dié koning van ’n babelas vandaan? Hy’t wragtag nie gesuip nie – of het hy en net daarvan vergeet? Dan begin die gebeure van die vorige nag stadig deur die newels na hom kom: die witkop met die groen katoë, die helikopter, die maer man met die Mosesjas, die inspuiting … Dit moet die inspuiting wees wat hom so binnestebuite laat voel. Wat se stront was dit? Batterysuur?

      Hy draai sy oë en loer in die kamer rond sonder om sy nek te verroer. Die dak is van gras en daar is ’n paar lelike spinnerakke in die nok bokant ’n gloeilamp met ’n plastiekskerm wat aan ’n draad van een van die teerpaalbalke afhang. Dit moet ’n soort rondawel wees, die mure is gerond, en daar hang ’n sterk chemiese reuk in die lug.

      Charlie raak bewus van nog iemand in die kamer, en hy draai sy nek stadig na regs. Teen die muur is ’n bed en daarop sit ’n man, kruisbeen en met net ’n onderbroek aan, sy bolyf kaal. Hy sit op ’n grys kombers en is besig om die glasstulp van ’n gloeilamp bokant ’n kersvlam rond te draai. Met geslote oë trek hy die wit rook wat uit die gloeilamp se oop nek borrel met ’n strooitjie diep in sy longe in.

      Hel, die vent sit so wragtig en tik rook! Hy het dit in die tronk leer ken, daar het die manne dit soms ook lolly genoem. In C-Max het so ’n bleek bliksem van die universiteit vir hulle kom sta’ en vertel hoe sleg tik en ander drugs soos heroïen en crack-kokaïen vir jou is.

      Een van die perde met die swart uniforms kom in en die man op die bed se oë vlieg oop. Die man in uniform gryp die gloeilamp. “Jy’s klaar,” sê hy bot en stap weer uit. Die man op die bed – hy’s nog jongerig, sien Charlie – leun terug tot teen die muur, stamp-stamp met sy agterkop daarteen, sy oë toe en ’n geluksalige uitdrukking op sy gesig. Sy oë gaan luierig oop en hy staar nikssiende na die dak, dan val sy ken plotseling op sy bors en hy knip sy oë ’n paar keer vinnig. Charlie kan sien hoe hy begin fokus en hom opmerk.

      “Yes, my ou pel,” sê die man met ’n tevrede sug en vryf oor sy een kaal skouer. “Ek’s broer Deon, en jy?” Sy mond vertrek in ’n breë glimlag, hy pak behoorlik tande uit.

      Dis tik-vriendelikheid

Скачать книгу