Dokter van ver. Malene Breytenbach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Dokter van ver - Malene Breytenbach страница 8

Dokter van ver - Malene Breytenbach

Скачать книгу

sê Jacopo. “Kom ek skink vir ons wyn. Dit sal ons goed doen.”

      Aan tafel heers die intimiteit van ’n hegte gesin in ’n verdrukking wat hulle saam moet deurleef. Aldo smul aan sy ma se heerlike kos, maar dit lyk tog vir Rafaella asof hy dit ’n bietjie oordryf om Rachel te troos.

      “Ek het reeds alles met Justus Havenga gereël,” sê hy toe hulle by die tiramisu-nagereg trek. “Môreoggend om tienuur het ek en Mamma ’n afspraak by hom. Hy het sy spreekkamer by die kliniek en die biopsie word sommer daar gedoen. Hy’t vir ons ’n chirurg gekry, een van die bestes, Erik Taljaard.”

      “Ek kom saam,” sê Jacopo. “Dis vakansie, die eksamens is verby. Ek is heeltyd tot jou ma se beskikking.”

      “As Papà wil.”

      Rafaella sou ook graag wou gaan, maar al vier van hulle is darem te veel. Sy sal eerder gaan werk.

      Rafaella kom by die huis en tref haar mense met koffie in die sitkamer aan. Sy staal haar om die uitslag van die toetse te hoor. Haar ma lyk heeltemal verwese, haar pa probeer verbete dapper wees en Aldo het ’n sombere saaklikheid.

      “Kom sit, sus,” sê Aldo.

      Haar ma vra sag of sy wil koffie hê en skink vir haar. Sy neem die koppie en sluk dit so vinnig af dat dit haar keel brand. Sy sit die koppie en piering rinkelend neer, en kyk gespanne na Aldo.

      “Mamma het ’n fillodetumor in haar linkerbors,” sê Aldo in sy dokterstem. Rafaella haat dit! “Dit is ’n snelgroeiende massa wat in die periduktale stromale selle van die bors vorm en minder as een persent van bors-neoplasma uitmaak. Dit kán niekwaadaardig wees, maar in dié geval is dit grensgeval-kwaadaardig. Alle vorme van fillodetumors word as kanker beskou, want selfs die niekwaadaardige soort het kwaadaardige potensiaal. Dit groei baie vinnig en moet dadelik verwyder word.”

      “En die beste behandeling daarná is …?” vra Rafaella deur lippe wat styf geword het van skrik.

      “Chemoterapie en bestraling word nie as effektief beskou nie, dus is chirurgie die enigste behandeling,” sê Aldo. Hy kyk na sy hande, en weer op na Rafaella. “Justus en ek is dit eens dat ’n volledige mastektomie meer effektief sal wees as gedeeltelike verwydering.”

      Rafaella kyk vlugtig na haar ma, wat styf teen haar pa sit en net een keer saggies snuif. Hulle lyk albei asof hulle trane inhou.

      “Volledig?” vra sy. Hoe moet haar arme ma, enige vrou, voel by die vooruitsig dat haar hele bors afgesit moet word?

      Aldo se oë blink verdag en sy sien hy sluk. Klinies korrek kan hy nie wees as sy ma die een is wat met die gevreesde siekte moet worstel nie.

      “Wye chirurgiese eksisie verseker nie dat daar vrye rande sal oorbly nie. Mastektomie is veiliger.” Aldo druk-druk aan een oog.

      Rafaella staan op en gaan druk haar ma, voel hoe sy ingehou bewe. Sy voel self heeltemal wankelrig toe sy weer gaan sit.

      “Dan moet ek maar die bors verloor,” sê Rachel dapper. “Al lyk dit hoe sleg.”

      “Dit gaan geen verskil maak nie,” sê Jacopo vurig. ” Jy sal nog net so mooi wees soos altyd, cara.”

      “Net ’n bietjie windskeef,” spot Rachel, maar haar stem breek.

      Rafaella wissel ’n blik met haar broer en vee haar oë en neus met ’n snesie af. “Mamma kan die bors mos laat heropbou,” troos sy. “Die mediese wetenskap skrik nie meer hiervoor nie.”

      “Jy sal kry net wat jy wil hê, cara, net wat jy dink is nodig en die heel beste,” troos Jacopo en soen Rachel se wang.

      “Hoe werk so ’n heropbou dan?” vra Rachel, en Rafaella sien hoop ná die vrees in haar oë flikker. Haar ma was nog altyd ’n optimis, dink sy deernisvol, en voel beter as sopas.

      Aldo verduidelik. “Dit word deur ’n plastiese chirurg gedoen. Die bors kan opgebou word om dieselfde vorm en grootte van die … e … verwyderde bors te hê. Dis met ’n inplanting, ’n silikoondop gevul met soutwater of ’n spesiale jel. Dit kan selfs saam met die mastektomie gedoen word, Mamma, oftewel, direk daarna. Ons kan dit alles met Justus en Erik Taljaard bespreek. Moenie wanhoop nie, Mamma. Alles gaan regkom.”

      “En ek is in die beste en liefdevolste hande,” sug Rachel. Sy glimlag bewerig.

      Aldo staan op. “Ek en Jwana het aandete gemaak. Julle kan kom aansit. Sy het tafel gedek voordat sy ge-tjaila het.”

      “En jy kán so lekker kook,” grap Rafaella. “Ek gaan maak my net weer fris, vars en mooi, dan kom kyk ek of jy nog my komplimente verdien.”

      Sy glimlag vir haar ouers wat styf teen mekaar op die rusbank sit, en haas uit, sodat hulle nie haar trane moet sien nie.

      Hopelik kry sy ook eendag ’n man so liefdevol en ondersteunend soos haar pa. So slim en betroubaar soos hy en haar broer.

      Rafaella neem die dag van haar ma se operasie af. Sy weet sy sal nie op haar werk kan konsentreer as sy so bekommerd is nie, al is Aldo daar. Hulle gaan almal saam na die kliniek. In die motor is hulle tjoepstil. Aldo het vooraf die prosedures verduidelik, maar Rafaella weet dat haar ma haar vrees wegsteek. Sy is nie vertroud met hospitale nie, want in haar lewe is ’n kleintydse mangel-operasie al wat sy ervaar het. Sy het ook maklik haar babas gekry. Rafaella kan haar egter die hele verloop in al sy fases voorstel, van die narkose tot by die bykom met die operasie agter die rug en die gevolge duidelik aan die lyf te voel. Haar ma gaan pyn hê, maar daarvoor is daar medisyne. Dis die geestelike aanpassing by haar vroulike liggaam wat vermink moet word, wat vir Rachel die ergste sal wees. Die littekens op die siel neem lank om te verdwyn. Die eerste jaar gaan swaar wees.

      By die kliniek neem hulle Rachel op, Jacopo vul vorms in en help met administrasie. Aldo stel Rafaella aan dokter Justus Havenga en die chirurg, dokter Erik Taljaard, voor. Aldo gaan bystaan. Rafaella het vir hom gesê dit is baie dapper van hom, maar sy sien nie vir so iets kans nie. Haar ma is nie bloot ’n pasiënt nie. Sy sal liewer haar pa bystaan. Hoe kan sy haar ma nou so sien lê op die operasietafel!

      “Ek check net op dat die ouens alles reg doen daar binne,” het Aldo gegrap, maar sy weet dit is regtig so. Hy sal waak oor hulle ma, kom wat wil.

      Voordat haar ma narkose kry, druk Rafaella haar hande vir oulaas styf vas. Haar ma lyk so vreeslik kwesbaar in die hospitaaljurk, haar kop so klein op die wit kussing.

      “Moenie bang wees nie, liewe Mamma,” troos sy. “Aldo is heeltyd by.”

      Sy kyk hoe haar pa haar ma soen voordat die verpleegsters die trollie wegstoot na die operasiesaal. Haar pa lyk verwese en sy sit haar arm knus deur syne.

      “Kom ons gaan drink iets in die kafeteria,” stel sy voor. “Dit help nie ons sit hier rond en verknies ons nie.”

      Ná die vele ure van die operasie en haar pa se ongedurigheid ten spyte van ’n kalmeermiddel, kan hulle gaan na die privaat kamer waar haar ma lê. Soos Rafaella verwag het, is sy steeds aan die slaap, gekoppel aan allerlei pypies en ’n drup, haar gesig bleek en doodstil. Vol verbande om die bolyf. Jacopo gaan sit langs sy vrou en staar na haar gesig asof hy dink sy gaan enige oomblik wakker word.

      Aldo kom in. Hy lyk moeg maar tevrede.

      “Dit het goed gegaan. Ons kan

Скачать книгу