Eiland van vervulling. Elize Mitchell

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Eiland van vervulling - Elize Mitchell страница

Eiland van vervulling - Elize Mitchell

Скачать книгу

      Eiland van vervulling

      Elize Mitchell

      Satyn

      1

      Karina Greyling vleg deur die druk oggendverkeer en sug. Sy is al só moeg om dag na dag van die een kliënt na die volgende te jaag. Dit maak haar sommer mistroostig. Sy is lankal nie meer gelukkig in haar werk nie, maar totdat iets anders opduik, moet sy vasbyt.

      Haar hand vlieg na die toeter toe ’n taxi doodluiters voor haar inswaai en op sy tyd aankruie. Sy hou haar hand daar totdat hy uiteindelik inderhaas wegswenk.

      “Dêmmit, jy’s nie al een op die pad nie!”

      En nou is daar nog die afspraak met die prokureur wat sy net eenvoudig vandag móét inpas. Sy wonder regtig waaroor dit gaan – dis nou al die derde brief wat sy van hulle kry. Sy voel skuldig dat sy nog nooit eens die moeite gedoen het om te bel en verskoning te maak nie, maar totdat die volgende geleentheid waarvan sy die koördineerder is, verby is, het sy nie ’n oomblik tyd vir haar eie dinge nie. Haar dae is propvol afsprake.

      Toevallig is sy egter vandag in hul geweste en kan sy gou by die prokureurs inglip. Maar nou sal sy wéér nie kan middagete neem en by haar geliefkoosde boetiek inloer om ’n rok vir die funksie te kry nie. As daar een ding is wat haar moreel altyd ’n hupstoot gee, is dit om iets nuuts vir haar klerekas te koop.

      Karina kyk na die voertuie om haar, en na die stroewe gesigte wat stip voor hulle uitstaar. Liewe hemel, is dit hoe ék ook lyk? dink sy geskok. Die verkeer is ’n nagmerrie en sy ís so siek van die dolle gejaag. Die verkeerslig slaan die soveelste keer oor en sy beweeg nie ’n enkele tree vooruit nie.

      Uiteindelik bereik sy die prokureurskantore en moet daar lank bontstaan vir ’n parkeerplek. Ná ’n gesukkel drafstap sy die trappe op en meld by ontvangs aan.

      “Goeiemôre, ek is Karina Greyling. Ek het ’n brief ontvang dat julle my wil sien.”

      Die ontvangsdame kyk ligweg verbaas op en blaai deur haar afspraakboek. “Karina Greyling … Het u ’n afspraak?”

      Karina se moed sak in haar skoene. “Nee, ek het nie gedink dis nodig nie.”

      “Ek sien. Het u enige dokumentasie saamgebring?”

      “Ja, hier’s die brief,” sê Karina.

      Die ontvangsdame se oë gaan vlugtig daaroor. “Ek sien u verwysing is meneer Bart Hanekom. Hy’s nogal besig vandag, maar sit gerus.”

      Karina kyk half benoud op haar horlosie. “Is dit regtig nodig dat ek hom persoonlik moet sien? Die verkeer was so erg dat ek reeds laat is vir ’n ander afspraak.” Mens kan net probeer!

      ’n Glimlaggie pluk aan die ontvangsdame se mondhoeke. “Dit sou beter gewees het as u ook vir hierdie onderhoud ’n afspraak gemaak het,” sê sy, “dan was dit nie nodig om u tyd te mors nie. Meneer Hanekom behoort nog so ’n halfuur besig te wees. Ek sal hoor of hy u daarna kan inpas; so nie sal u ’n afspraak móét maak.”

      Karina gaan sit op ’n gemakstoel en blaai futloos deur een van die glanstydskrifte wat netjies daar lê. Sy’s bewus daarvan dat die ontvangsdame haar dophou, geamuseer. Dít ook nog! Nie lank nie of ’n deur gaan agter Karina oop en sy spring verlig op. ’n Aantreklike man stap nader en sy flits haar innemende glimlag na hom. As daar dalk moeilikheid is, moet sy seker haar bes doen om vriendelik te wees.

      “Meneer Hanekom, aangename kennis. Ek is bly u kan my sien,” glip sy by die ontvangsdame verby en draai die sjarme wyd oop.

      Hy kyk verras na haar, dan na die vrou by ontvangs. “Annelie, ek het nie geweet ek het nog ’n afspraak nie?”

      “Jy het nie, Theuns,” keer sy, “die dame is jou pa se kliënt en ons sukkel al geruime tyd om haar hier te kry. Nie waar nie, me Greyling?” sê sy met nadruk.

      Karina voel nou sommer baie skuldig. “Ja … wel, ek ís nou hier, ek kan netsowel wag,” gee sy gedwee toe. Maar Annelie antwoord die foon en Theuns Hanekom neem sy kans waar.

      “Ek kan altyd vra dat jou lêer na my toe oorgeplaas word, maar dit hang af van hoekom die grootbaas jou persoonlik wil sien. Dit moet ’n gewigtige saak wees,” skerts hy met Karina.

      “Me Greyling, meneer Hanekom wag nou vir jou,” steek Annelie ’n stokkie voor Theuns se plan, en stap vooruit. Karina volg haar, maar in die verbygaan glimlag sy met Theuns. Hy kyk haar geïnteresseerd agterna, sy kan dit voel. Sy sou veel eerder met dié mooie man sake wou doen!

      “Meneer Hanekom, hier is Karina Greyling eindelik. U onthou mos, ons sukkel al lank om haar hier te kry. Vandag daag sy uit die bloute op, sonder ’n afspraak,” sê Annelie droogweg.

      Die gryskopman agter die blink lessenaar kyk op en beskou Karina so intens dat sy ongemaklik raak. Hy staan stadig op en steek sy hand uit. “Aangename kennis, Karina. Sit gerus. Jy gee nie om dat ek jou op jou naam noem nie?”

      “Glad nie.”

      Bart Hanekom vryf oor sy ken terwyl hy gaan sit, ’n veraf uitdrukking in sy oë. Karina kyk doelbewus vlugtig op haar horlosie, en dan na hom.

      “Meneer Hanekom, verskoon tog, maar waaroor moet u met my praat? Ek hoop nie ek het iewers verbrou waarvan ek nie weet nie,” sê sy.

      Die ouer man lyk hartseer, begin stadig blaai deur ’n dik lêer wat hy uit ’n laai gehaal het. “Het jy dan geen idee waarom jy hier is nie, Karina?”

      “Nie in die minste nie, meneer Hanekom, so ek sal bly wees as ons tot die punt kan kom. Ek het ongelukkig ’n besige skedule vandag.”

      “Ek is jammer, vir ’n oomblik was ek weggevoer. Noem my Bart, asseblief.” Hy vryf sy brillense skoon. “Hoekom het jy tot dusver ons skrywes geïgnoreer?” vra hy dan fronsend. “Dis al ons derde brief aan jou.”

      Karina skuif ongemaklik rond. “Ek weet, ek’s jammer, maar ek werk aan ’n projek wat regtig al my tyd opvreet. Ek is dikwels in hierdie omgewing en elke keer het ek gedink daar sal tyd wees om hier aan te doen, maar as ek my kom kry, is die dag om.”

      “Dis jammer dat jy nie net gebel het nie, dan kon ek jou inlig, hoewel mens nie sulke sake oor die foon bespreek nie. Maar wag, kom ons begin liewer voor.”

      “Asseblief – dit sal seker nie lank neem nie?”

      “Jy onthou natuurlik jou tante, Katriena Susanna Malan?”

      “Ja, my ma se suster.”

      Sy raak kriewelrig onder Bart se deurdringende oë.

      “Dit lyk my jy het haar nie baie goed geken nie, Karina?”

      Die verlede tyd dan? “Nee, nie regtig nie. Al wat ek van haar onthou, is die kere wanneer sy op die plaas kom kuier het en die baie presente wat sy saamgebring het.”

      “Wat van haar, Bart?” vra sy bedees toe hy niks sê nie.

      “Ek is al vir baie jare haar prokureur en behartig al haar sake. ’n Paar maande gelede het sy my opdrag gegee om jou in die hande te kry, sonder om haar suster in kennis te stel. Sy wou nie uitwei nie, maar het laat blyk dit het iets te doen met jou vyf-en-twintigste verjaardag oor ’n paar maande.”

      “Ek was seker sy het nie eens

Скачать книгу