Eiland van vervulling. Elize Mitchell

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Eiland van vervulling - Elize Mitchell страница 3

Eiland van vervulling - Elize Mitchell

Скачать книгу

Kan ek Annelie vra om solank die nodige inligting te kry?”

      “Dit sal baie help, dankie.”

      “Gaan geniet dit. Jy is dalk baie aangenaam verras as jy eers daar is. Daarna kan jy finaal besluit.”

      “Baie dankie, Bart. Hoe vinnig moet jy ’n antwoord hê?”

      “Hoe gouer, hoe beter, dan kan die boedel afgehandel word.” Hy staan op en druk haar hand innig. “Ek wens ons het meer tyd gehad, maar ek moet ongelukkig gaan. Ek is bly ons het ontmoet, Karina, en onthou tog om ’n opvolgafspraak te maak.”

      Karina huppel byna by sy kantoor uit en wil sommer die groot nuus aan die koerantverkoper in die straat uitblaker. Sy voel kompleet soos ’n Rockefeller-erfgenaam!

      2

      Toe Karina eindelik haar woonstelvoordeur agter haar toemaak, sug sy verlig. Net eers koffie in haar lyf kry, dink sy terwyl sy tam die ketel aanskakel. Daarna krul sy haar op in haar geliefkoosde leunstoel en neem klein teugies koffie terwyl sy elke stukkie van die wonderlike nuus oor en oor deurdink. Sy is die erfgenaam van ’n eiland! Miskien kan sy selfs haar werk bedank! Stadig, Karina, maan sy haarself dan, die boedel is sekerlik nie so groot dat sy soos ’n celeb heeldag op die strand of in die winkels kan rondlê nie. Het sy nie dalk die prokureur verkeerd verstaan nie?

      En wat die vreemdste is, hoekom het haar ma haar nie laat weet van Katriena se dood nie? Sy moet haar ma sommer nóú bel, dink sy, en staan op. Die telefoon lui lank en net toe sy dink haar ouers is nie tuis nie, antwoord haar ma. Karina glimlag vir haar uitasem-stem.

      “Hallo, Mams, seker weer in die tuin gewerskaf?” vra sy gewoonweg, om eers die nuus ’n bietjie te vertroetel. “Gaan dit goed daar?”

      Daar is ’n stiltetjie en dan haar ma se bekommerde stem. “Karina? Hoekom bel jy in die middel van die week? Is iets verkeerd?”

      Karina glimlag. Haar ouers kan so gou op hol raak. Net omdat sy gewoonlik naweke bel, neem haar ma sommer aan daar moet fout wees. Maar hoekom sê haar ma steeds niks oor Katriena nie?

      “Nee, Mamma, bedaar. Ek het wonderlike nuus. Maar het Ma niks om my te vertel nie?”

      “Jy’s verlief of jy wil geld leen,” sug haar ma verlig. “Dis al rede hoekom jy nou skielik bel.” Sy ignoreer skynbaar Karina se vraag.

      “Verkeerd geraai, dis groter nuus.”

      “Praat, Karina, jy maak my bang. Met jou weet mens nooit wat om te verwag nie.”

      “Sê my eers, Mams, hoekom het niemand my dan vertel dat tant Katriena oorlede is nie? Mamma het tog … o gats, Mamma hét geweet daarvan?”

      Sy hoor hoe haar ma haar asem intrek. “Ja, maar ek het ook maar pas daarvan gehoor. Ek het ’n paar maal probeer bel, maar dis so moeilik om jou in die hande te kry, jy weet mos ek haat selfone. Hoe weet jy tog daarvan, kind?”

      “Omdat ’n prokureur my vandag vertel het. Blykbaar het sy al vir ’n lang tyd na my gesoek, maar sy’t nie vir julle gevra nie, ek weet nie hoekom nie. En weet Ma wat? Ek is haar erfgenaam!” blaker sy dit uit en skaterlag dan van opgekropte lekkerkry. “Sy het al haar besittings aan my nagelaat. Wat sê Ma daarvan?” giggel sy opgewonde. “Ek is skatryk, Mams sal nóóit raai wat ek alles erf nie.”

      Sy wag vir ’n opgewonde reaksie, maar dis doodstil op die lyn. “Mamma? Is jy nog daar?”

      “Ja, Karina.”

      Hoekom klink haar ma dan so afgehaal? “Is Ma nie eens ’n bietjie bly vir my nie?”

      “Natuurlik is ek, my kind. Wat het die prokureur gesê?”

      “Dat ek ook haar verblyfreg op ’n eiland erf, waar sy gebly het. Ons kan almal daar gaan vakansie hou! Het Ma geweet daarvan?”

      “Ja, maar sy het nooit baie oor haar privaat lewe gepraat nie. In die laaste tyd was dit asof sy haar nog meer onttrek het en ons het min gepraat. Ek het gedink dis hoe sy dit verkies.”

      Karina hoor hoe haar ma sug en sy voel skuldig dat sy so uit haar vel wil bars. Hulle was immers susters.

      “Wat gebeur nou, Karina?”

      “Ek moet so gou moontlik besluit of ek dit aanvaar, anders verbeur ek alle regte daar en gaan dit na die eilandbewoners toe. Maar nie die res van die boedel nie. Ek wou juis hoor – ek wil vir so twee weke gaan kyk hoe dit daar lyk, waarmee tant Katriena alles doenig was. Dink Ma dis die regte ding?”

      Hoekom is haar ma skielik so terughoudend, sonder die opwinding wat sy verwag het om te hoor?

      “Ja, Karina, jy moet gaan. Dis die regte ding.” Daar is ’n snik in haar ma se stem.

      “Huil Mamma? Ek weet sy was Mamma se suster, maar julle het mekaar so min gesien. Ek is jammer, Mamma.”

      Haar ma blaas haar neus. “Ja, sy was maar ’n alleenmens. Ons het mekaar hopeloos te min gesien. Sien ons jou voordat jy gaan?”

      “Ek glo nie. Ek wil so gou as moontlik daar kom en hier is hope goed wat ek eers moet afhandel. Wil Mamma nie saamkom nie?”

      “Ai, nie nou met die parsery nie, kind. Ek kan Pa nie alleen los nie. Wie anders het jy in gedagte?”

      “Hopelik Liesl, maar sy weet nog van niks. Wanneer ek terug is, kom ek kuier en dan gesels ons ’n week lank aanmekaar, Mams! Dink net al die nuus wat ek sal hê.”

      “Dis goed so, ons gaan baie hê om oor te praat. Belowe my, Karina?”

      “Natuurlik, Mams! Ek mis julle al klaar. Sê liefde vir Pappa.”

      “Pas jou op, my kind.”

      Karina sit die foon neer en frons, haar geesdrif effens gedemp. Sy moet meer gaan kuier, haar ma klink glad nie lekker nie.

      Liesl kom met ’n groot lawaai in en gooi haar handsak dat dit daar trek.

      “Hoe ek nog nie ’n aar gebars het met ou Jeremia se ewige gekla nie, weet ek nie. Eendag is eendag, dan …” Liesl se gesig is die ene ergernis. “Jy luister nie eens nie.”

      Karina neem inderdaad skaars notisie. Sy ken teen hierdie tyd Liesl se tirades oor Jeremia se klaery, soos sy bynaam aandui.

      Karina spring op en begin met uitgestrekte arms en rollende heupe soos ’n wafferse Hawaise meisie ronddans. Liesl staar haar aan asof sy die kluts heeltemal kwyt is.

      “Jy sal nooit raai wat vandag met my gebeur het nie, Liesl! Ek is skatryk! Is jy nie lus om saam met my op ’n tropiese eiland te gaan kuier nie?”

      Liesl is nog besig om ’n skoen uit te trek, maar begin opgewonde op die ander voet trippel. “Is jy ernstig? Het jy uiteindelik geld op die Lotto gewen?” Haar opgewondenheid droog vinnig op toe iets anders haar byval en sy frons. “Sê my eers, wat was die storie met die prokureurs? Ek worry al heeldag oor jou.”

      “Om my te vertel van die testament, dis hoekom hulle so dringend na my gesoek het! Ek het ’n stuk van ’n eiland geërf, Liesl, met ’n huis

Скачать книгу