Kroes. Pat Stamatélos

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Kroes - Pat Stamatélos страница 3

Автор:
Серия:
Издательство:
Kroes - Pat Stamatélos

Скачать книгу

hy nat word, ruik dit effens. Dis te groot om maklik op te vou. Ek beny die ander kinders hul ligte plastiekreënjasse.

      Op ’n dag dra ek die jas en met die loop tussen die banke slaan ek ’n paar kinders se boeke van hul tafels af. Die rye is nou en die jas wyd; ek kan dit nie in my tas druk soos die ander kinders met hul plastiekjasse maak nie. Ek voel sleg oor die boeke op die vloer. Juffrou is kwaad.

      “Trek uit die jas!” sê sy hard.

      Dis ’n ongeluk, wil ek sê, ek is jammer, wil ek sê, maar die woorde bly in my keel vassit. Ek is bang vir die juffrou en die trane brand agter my ooglede.

      Ek voel kwaad en opstandig. As jy nie doodgegaan het nie, Mamma, dan was ek nie nou hier in die skool met die groot jas nie. Dan het die kinders nie nou vir my gelag nie.

      My verwyte is verniet. Daar is geen terugdraai nie. Ek weet dit nou. My dadda het my vir altyd weggegee. Ek word inkennig en begin later hakkel.

      Daardie dae het die skole nog twee sessies. Vir die uur se lunchtime gaan ek na Kitty by die winkel. Die bestuurder gee nie om nie. Hy hou van Kitty en is simpatiek oor die kind wat hulle nou moet grootmaak. Sy en Maggie is nie meer jonk nie, dit moet moeilik wees.

      Die maande word jare, maar die visit gaan aan. Soos ek groter word, word die verlange na my mamma al hoe sterker, maar ek sê niks vir die anties nie. Die anties praat baie, maar altyd oor die werk. Mamma se naam word nooit genoem nie. Hulle vra nie: “Hoe gaan dit by die skool, wat maak jy smiddae by die huis, wat dink jy?” nie. Hulle is albei moeg as hulle van die werk af kom, maar dis al waaroor hulle praat, werk. Tot vervelens toe. Hulle praat oor my kop en ek het niks om te sê nie.

      Dadda sal my onderhou, so was die belofte, maar na die tweede maand droog die geld op. Die anties kla baie daaroor, nie voor my nie, maar ek hoor hulle, die pondok is klein. Dadda is ook arm. Dis seker makliker om van ’n kind daar ver te vergeet as van dié in jou huis.

      Vakansies gaan ek terug huis toe, maar ook nie altyd nie. My broer en susters word soos vreemdelinge en soms voel ek soos ’n besoeker in my eie huis. Erika van oorkant die straat het nou nuwe maatjies, ons speel nie meer soos vroeër nie.

      Ek sien nie meer uit om huis toe te gaan nie. Die ergste is dat almal dink ek is so gelukkig. Die anties spoil my, en bly ek dan nie by die see nie? Hulle wens hulle was ek! Ek voel ek moet meer dankbaar wees.

      Soos met my verjaarsdae. Elke verjaarsdag is dit dieselfde. Ek kry ’n duur geskenk en my anties sing “Happy Birthday”. Dan kyk hulle my vas in die gesig om te sien hoe bly ek oor die geskenk is.

      “Djy wiet, Maggie het dit self uitgesoek en dit kos baie. Djy wiet sy koep nie cheap goete nie. Dis expensive. Laaik djy dit?”

      “Ja, ek laaik dit.” Hoe kan ’n mens nou nie van so ’n duur geskenk hou nie?

      Dan vra Maggie weer: “Laaik djy dit rêrig? Hy is very expensive. Djy moet mooi na djou present kyk.”

      “Ek sal, ek belowe.”

      “Hy lyk miskien nie expensive nie, maar as ek djou moet vertel hoeveel hy gekos het . . .” sê Kitty weer.

      Ek is dankbaar! Ek is dankbaar! Ek kan dit net nie in woorde uitdruk nie. Soms voel ek hulle moet liewer iets goedkoops koop, soos my mamma en dadda altyd gemaak het.

      “Daar’s iets in die papiersak vir jou, Pettie,” sê Mamma en daarmee is dit uit en gedaan. Jy speel met jou speelding en sy weet jy is bly. Finish en klaar. Watse dankbaar ook nog!

      My anties werk en ek moet self sien en kom klaar. Hulle wil nie die voordeursleutel vir my gee nie. “Jy gaan dit verloor,” sê hulle, “Rachmat moet die sleutel hou en vir jou kom oopsluit.”

      Rachmat Ralouin is ons landlady se niggie, jonk en Slams. Sy sluit elke dag oop en maak vir my ’n broodjie; dis nou wanneer die tweede sessie by die skool end gekry het. Ek is elke dag dieselfde tyd by die huis, maar Rachmat is nooit daar as ek tuis kom nie. Ek sit eers ’n ruk op my tas en wag, besluit dan om haar te gaan soek. Haar huis is ver van ons s’n. “Is dit al só laat?” vra sy laggend as sy haar deur vir my oopmaak.

      Op sulke dae wil die trane rol. Ek sukkel om die veranderinge in my lewe te verwerk en met die verloop van tyd word dit erger, nie makliker nie. Honderd maal moet ek verduidelik hoekom ek by my anties bly. Hoekom bly jy dan nie by jou dadda-hulle nie? Gaan kuier jy? Stuur hy geld?

      Die trane het gevloei, maar net saans, in die donker.

      Die jaar is 1960 en Kitty lees voor uit die Argus wat sy van die werk af saamgebring het. “Verwoerd is in die gesig geskiet,” sê sy, “nogal by die showgrounds, can you imagine! Maar hulle sê hy is olraait.”

      “In die gesig!” roep Maggie verbaas uit. “Nei, die man se aim was te hoog. ’n Bullet in die hart sou die job gedoen het.”

      Hulle praat asof die dood niks is nie en ek voel skielik bang vir hulle skerp woorde. Ek sit op die harde kombuisstoel, my knieë teen my bors en my arms om my bene gevou. Van êrens diep in my snik ek saggies: “Ek wil my ma hê. Ek wens sy was nie dood nie.”

      Die anties is stom geskok, die koerantberig nou vergete. Hulle staar my stil maar beskuldigend aan. Hulle oë sê: Is jy nou nog nie oor jou mamma se dood nie!

      Ek dink baie aan die dood en ek wil ook dood wees, dan sal ek by my mamma wees. Maar ek weet nie hoe om dood te gaan nie.

      Hoofstuk 3

      Dis in standerd ses dat ek en Lorrain bevriend raak. Sy is alles wat ek wil wees maar nooit kan wees nie. Sy is beeldskoon. Lang reguit hare, mooi oë en pragtige, perfekte tande. Sy is slim, vriendelik en gewild. En sy lyk wit.

      Hoekom Lorrain juis vir my kies om maats mee te wees, weet ek nie. In vergelyking met haar is ek lelik en inkennig. Kitty en Maggie sê die rede dat sy so lief is om by my te boer en oor te slaap is omdat haar ma die een man na die ander aanhou. Hulle trek gedurig van plek tot plek. Daar is geen standvastigheid in haar lewe nie, ook min liefde. Die aandag en stabiliteit waarna sy smag, kry sy by ons, in ons pondok.

      Lorrain het net een fout, miskien twee: sy het lang vingers en ag, is sy tog lief vir die kêrels! En die kêrels vir haar. Sy maak my baie dinge wys, dinge wat die anties my nie sal vertel nie.

      Op ’n dag word ek “grootmeisie”, soos die anties dit noem.

      Kitty sê ek moet nou oppas, ek kan nou bybies kry, ek moenie my voete onder ’n klong se kombers insteek nie.

      Lorrain kraai van die lag met die aanhoor van dié storie.

      “Jy is somma stupid om dit te glo! Jy moet mos eers iets doen. Ek meen, dis nie só easy nie.”

      Ons is albei dertien en nuuskierig. Lorrain oorreed my om Vrydagaand by haar oor te slaap. Eers is ek huiwerig, maar aan Lorrain is daar geen keer as sy eers op ’n ding besluit het nie. Tuis vra ek baie mooi of ek by Lorrain kan oorslaap. Die anties dink lank en stem toe ’n bietjie teësinnig in.

      Die middag is ek daar weg met my tassie, my pyjamas en tandeborsel ingepak. Dis eers na die middagbroodjie dat Lorrain my die ding mooi vertel.

      “Pettie, ek het gesien hoe die mense elke aand daar anderkant die jetty op die strand games speel. Dis vroteier, aan-aan en nog ander goed. Daar is baie hoërskoolkinners. Wil jy saamgaan?”

Скачать книгу