Nooit is 'n lang, lang tyd. Anchien Troskie

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Nooit is 'n lang, lang tyd - Anchien Troskie страница 2

Автор:
Серия:
Издательство:
Nooit is 'n lang, lang tyd - Anchien Troskie

Скачать книгу

haar hart weet dat die besluit lankal in haar kop geneem is.

      Dis hartseer dat sy nie meer gereeld na haar hart luister nie. Dit maak haar hart seer. As die lewe net eenvoudig kon wees, sonder keuses. Darius sê dat God mense juis die grootste gawe gegee het: die gawe om te kan kies. Die gawe om te kan onderskei tussen reg en verkeerd, met jou hárt. Maar sy is nie Darius nie.

      “Dankie, Magrieta,” sê sy toe die ouer vrou die stomende koppie koffie voor haar neersit.

      “Jy’s diep ingedagte.”

      Magrieta sê dit nie nuuskierig nie, besef Daleen, dis bloot ’n opmerking terwyl sy ondersoekend na haar kyk.

      “Ja, ek is,” sug Daleen en kyk verskonend na haar.

      “Nou toe, drink jou koffie. Dit word nie verniet boeretroos genoem nie.” Sy gee Daleen se skouer ’n drukkie voor sy omdraai.

      Daleen roer twee teelepels suiker by haar koffie, stoot die melk eenkant toe. As haar lewe eenvoudiger was, sou sy Muller as lewensmaat gekies het. Maar sy het nie. Sy het haar keuse tóg met haar hart gemaak, en kyk in watter gemors het dit haar nou laat beland: ’n ultimatum.

      Haar kop het klaar ’n besluit geneem, maar dié keer weier haar hart om te luister. Daarom het sy inderhaas verlof geneem. Daarom wil sy wegkom vir ’n paar weke. Sodat sy haar hart kan oortuig om na haar goeie, gesonde verstand te luister.

      “Middag, Karien!” ruk Magrieta se uitroep haar terug na die werklikheid.

      Karien kom windverwaaid en dramaties die koffiewinkel binne.

      “Haai!” groet sy en neem ’n vinnige sluk van Daleen se koffie. “Selfde vir my, ou Grieta, maar sonder suiker. Ek is op ’n wrede dieet.”

      “A,” sê Daleen met ’n glimlag, “en nou gaan jy maar so bitter deur die lewe.”

      “Dit werk, hoor! Ek het al twee kilogram verloor.”

      Daleen staar openlik na Karien, Nana Mouskouri se ewebeeld. ’n Ietwat oorgewig Nana Mouskouri, moet sy toegee, maar nietemin. Karien se donker hare hang tot in haar middel, so reguit asof dit met behulp van ’n liniaal gesny is. Donker, gevoelvolle oë en ’n ligteraambril – die bril darem meer in die John Lennon-styl.

      Toe hulle jonger was, het Karien die koppe behoorlik laat draai. Sy is steeds mooi, op ’n misterieuse manier, nog steeds sexy, al dra sy ’n paar ekstra kilogramme. Dis jammer dat sy dit nie besef nie, dink Daleen. En Karien is dramaties. Haar klere, en die kleure daarvan, weerspieël dit. Vandag het sy ’n wye donkerpers romp aan wat tot op haar enkels swaai. Dis versier met klokkies wat vrolik klingel wanneer sy beweeg. ’n Swart kantbloes en ’n fluweelbaadjie in dieselfde pers as die romp rond haar uitrusting af.

      “Hou jy van my romp?” Karien tel die soom daarvan op sodat Daleen dit kan bewonder. “Amelia het die klokkies vir my aangewerk. Haar idee.”

      Magrieta bring Karien se koffie, en Karien verskuif haar bril na haar kop. “Anders wasem dit toe. Dankie, Grieta!”

      Sy neem ’n vinnige slukkie en trek haar gesig, kyk verskonend na Daleen. “Die eerste sluk is altyd die ergste. Daarna raak jy gewoond aan die bitter.”

      Daleen hou haar besig met haar eie koffie, maar hou Karien tog onderlangs dop. Sy het die kuns vervolmaak om haar vriendinne se buie te lees. Soos ’n boek met prentjies, mymer sy terwyl sy met deernis na Karien kyk. Haar vriendin met die kunstenaarsiel, gefrustreerde huisvrou wat graag sou wou skryf. Met te min vertroue in haarself.

      Karien is nie vandag haarself nie, besef Daleen. Sy kan dit sien aan die manier waarop haar vriendin haar hande beweeg, te véél beweeg, die senuagtige terugdruk van haar hare agter haar ore. Die vinnige knip van haar oë.

      “Wat is fout?” vra sy sag en plaas haar hand op Karien se regterhand.

      Karien kyk op, haar oë wasig agter die bril wat sy weer oor haar oë laat sak het, haar mooi mond wanhopig vertrek.

      “Middag, Magrieta!” roep Amelia van die deur af.

      Sy kom gee beide haar vriendinne ’n skuins soen op die wang. Karien skud haar kop byna ongemerk, en Daleen besef dat die oomblik verby is.

      “Dis so koud soos die hel daar buite.” Amelia gaan sit en haal terselfdertyd haar sigarette en aansteker uit haar handsak.

      “So koud soos die hél?” sê Karien verstom. “Die hel is warm!”

      Die wasigheid in haar oë is weg, merk Daleen, daar het niks oorgebly nie. ’n Niks.

      “Hélwarm,” voeg sy lakoniek by.

      “Julle weet wat ek bedoel,” sê Amelia rustig en steek ’n sigaret aan.

      Ongelukkig het die verbod op rook in openbare plekke nog nie op Sandfontein posgevat nie, dink Daleen gelate.

      “So, wat is nuus?” vra Amelia terwyl sy die spyskaart bestudeer.

      Daleen moet haarself keer om nie na Amelia te staar nie – haar ontwerpersklere is soms so kleurvol dat dit aan perversie grens. Jy kan Amelia enige tyd deur ’n ring trek, selfs wanneer jy onverwags op die plaas opdaag. Dis een van haar krukke, weet Daleen, saam met die alewige sigaret. Altyd perfek gegrimeer, en haar hare kort-kort ’n ander kleur, asof sy nie kan besluit wie sy is nie. Dié week spog Amelia met donkerrooi hare en ’n outfit in swart, oranje en pienk.

      As Daleen dit moes dra, sou sy heel moontlik soos ’n hanswors lyk. Sy kyk af na haar denimbroek en T-hemp, haar denimbaadjie oor die rugleuning. Ten spyte van die designer labels voel sy skielik selfbewus oor haar ietwat verkreukelde voorkoms, in teenstelling met Karien se sigeunerklere en Amelia se openlike elegansie. Ten minste het sy vanoggend haar ou, smerige draftekkies vir designer loafers verruil!

      Daleen en Amelia bestel albei die lamsbredie en Karien ’n slaai.

      “Ek weet dis te koud vir slaai, maar dis wat my dieet voorskryf,” sê Karien skouerophalend en draai na Daleen. “Hoe gaan dit met die praktyk?”

      “Ek is so gatvol vir snotneuse dat ek kan gil. Die hoeveelheid griepgevalle neem elke winter toe, so voel dit vir my.”

      “Ek het self ’n effense keelseer.” Amelia vryf oor haar keel.

      “Dis van al die rook, nie griep nie,” sê Karien sonder simpatie.

      “Ek rook nie só baie nie,” sê Amelia terwyl sy nog ’n sigaret uit die pakkie skud.

      Karien rol haar oë dramaties, sodat Daleen moet lag.

      “Ek kan nie wag vir my verlof nie,” sê sy vinnig voor hulle in ’n debat oor rook betrokke kan raak.

      “Gaan jy met verlof? Wanneer? Hoekom weet ek van niks?” vra Amelia. “Ek is skoon jaloers. As jy boer, is vakansie ’n luukse. Jy kan eenvoudig nie weggaan nie, dan kom die hele boerdery tot stilstand – of so glo Gert.”

      “Ek kan self nie onthou wanneer óns laas weg was nie,” sê Karien.

      “My verlof begin vandag oor ’n week. Ek is nogal tempted om so kuslangs te ry tot in Jeffreysbaai. Maar dis nie lekker om alleen weg te gaan nie.”

Скачать книгу