Die rolbalspeler. Zain Eckleton

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die rolbalspeler - Zain Eckleton страница

Автор:
Серия:
Издательство:
Die rolbalspeler - Zain Eckleton

Скачать книгу

      

      Titelblad

      ZAIN ECKLETON

      Die

      rolbalspeler

      KWELA BOEKE

      Opdrag

      OPGEDRA AAN:

      Almal wat my, en gestremdes in die algemeen, onvoorwaardelik aanvaar, respekteer en ’n plekkie in die son gun. Julle’s great. Maar veral die hartlike hulpverlening sonder om ons te pamperlang, te oorheers, ons lewens oor te neem, is vir my ’n riem onder die hart, ’n lus vir die lewe.

      Motto

      Glo in jouself, jou vermoëns.

      Wees getrou aan jouself, jou beginsels.

      Ignoreer hulle wat dit probeer skend,

      laat hulle begaan, hulle’s dwaas.

      “It is impossible to defeat

      an ignorant man in argument.”

      – William G McAdoo

      Rolbalterme

      1. Gras: die rigting (koers) wat die bal rol. (Wyd, soveel gras. Wyer, meer gras.)

      2. Kietie: die teikenbal waarom die kop gebou word.

      3. Kop: die balle in die onmiddellike omgewing van die kietie soos die spelers dit gerol het.

      4. Ronde: ’n wedstryd bestaan uit ’n aantal rondes, wat om die beurt na die oorkant van die baan en dan weer terug gespeel word. Aan die einde van elke ronde, wanneer die spelers hul kwota balle gerol het, bv. vier elk in enkels, word bepaal aan wie die skoot of skote behoort. Aan die einde van die wedstryd word die skote in elke ronde getel om die wenner te bepaal.

      5. Skoot: die bal/balle naaste aan die kietie.

      6. Chop-’n-lie: Met jou bal tik/stamp jy die opponent se bal liggies weg en neem sy plek.

      7. Draw: jy beheer die spoed van die bal.

      8. Dryf/Drive/Run: jy rol aggressief/baie hard.

      9. Heavy/Swaar: bal rol verby die teiken.

      10. Short/Kort: bal het nie genoeg gewig/spoed nie.

      11. Voorhulp: die afrigter staan voor die speler om hom te oriënteer/seker te maak die bal word korrek gerol.

      12. Agterhulp: die afrigter staan agter die speler om hom te oriënteer/ die bal korrek weg te kry.

      Een

      ’n Glimlag speel om Hans se mond toe hy die jaarthek oopstoot. Hy staan ’n oomblik, oriënteer hom eers voor hy koers kry na die sinkplaathuis in die verste hoek, skuins agter die groot huis.

      Hy glimlag vir homself, want, dink hy, hy moet sy kop laat lees. Hy is nie ’n vrouejagter nie, hy is vrousku, sou mens kon sê – ’n vrou moet hóm nader voor hy lewe kry. En dan, wanneer sy in sy kop is, kry hy haar nie maklik uit nie. Maar nie bloot oor haar geslag nie, oor haar menslikheid.

      So was dit met die skoolmeisies, die enkeles wat oor sy pad gekom het.

      En so was dit met Magrieta Cornelius, sy eerste vaste meisie. Magrieta wat hom alles van die liefde geleer het. Wat by hom aangepas het sonder dat hy enigiets moes doen om homself aanvaarbaar te maak. Want dis mos waaroor dit eintlik gaan? Aanvaarding.

      En nou hierdie vrou wat hy vanoggend ontmoet het, en met wie hy ’n afspraak eerskomende Saterdag het. Hy kry haar nie uit sy gedagtes nie. Dink voortdurend aan haar, van die oomblik toe hulle uitmekaar is. By die werk die hele dag. Op pad huis toe.

      Dis so stupid. Alles. Die ontmoeting. Sy simpel plannetjie. Die afspraak. So onwerklik. Soos ’n droom waaruit jy amper wakker is. Hoe meer jy daaroor dink om alles te onthou, hoe meer dink jy.

      Hy en sy sin vir onafhanklikheid. Die eksperimente en sentimente rondom passief wees versus homself laat geld. Hy wat homself ná jare weer gevind het en dit ten alle koste beskerm. Want noudat hy sy selfrespek herwin het, voel dit of daar weer lewe in hom is.

      Tydens die wegkwynjare het dit gevoel of hy dood is. ’n Lewende dooie.

      Dís waarteen hy stry: om effens te lewe in plaas van amper dood te wees.

      Dis wat hom vanoggend afgespeel het toe hy die vrou ontmoet het.

      Hoe kon sy ná alles so liefies met hom wees? Ja, blind is hy wel. Halfblind. Méér as halfblind. Amper blind.

      Dit het sy voordele. Simpatie, en soms empatie. Jammerkry en ag siestog. Maar nogtans. Sy moet háár kop laat lees. As hy in haar skoene was, het hy hom na sy peetjie gestuur!

      Hy het ingedagte op die sypaadjie gestaan toe hy van iets voor hom bewus word. Eers die aangename geure van ’n vrou. Toe die vae beeld. Toe hoor hy die vriendelike stem.

      “Môre, môre! Jy wil seker oorgaan? Kom.”

      Voor hy ’n woord kon uitkry, het sy hom aan die hand beet en loop met hom oor die besige hoofweg. Voortrekkerweg, Vasco. Beheer as ’t ware sy bewegings met haar ferm optrede.

      Hy het struikelend oor sy voete van die sypaadjie af getrap-trap. Sou seker platgetuimel het as sy hom nie so stewig vasgehou het nie. Toe skop hy boonop teen die randsteen vas. Maar pleks daarvan dat hy halt roep, loop hy doelbewus saam, ’n skalkse gedagte in sy kop.

      Aan die oorkant, met die sonlig wat op haar skyn, sy oë wyd oopgesper, het hy iets van haar te sien gekry. Wit gesig. Ligte hare. Groot lyf.

      Meer kon hy nie sien nie.

      Dit het hom vies gemaak. Ergerlik. Soos dikwels tevore wanneer hy iets meer wou sien as wat sy beperkte sig hom toelaat.

      Bliksemse oë! Dan sien julle iets. Dan niks. Dan help die sonlig. Dan is dit te skerp. Bliksems!

      Sy oogtoestand is wyd bekend: retinitis pigmentosa. Oorerflik. Ongeneeslik. ’n Nagmerriewêreld tussen blind en amper blind, met ’n sigpersentasie van ongeveer twee persent onder gunstige omstandighede, soos in sonlig. Tegnies blind, en as sodanig gesertifiseer. Algemene simptome: nagblindheid, tonnelvisie, beperkte sentrale visie.

      Aan die oorkant van die hoofweg het die vrou hom ewe vriendelik aangespreek. Selfvoldaan, het dit vir hom geklink.

      “Nou toe, daar’s jy, veilig oor die pad.”

      Hy het sy stem reggekry om sy plan af te rond. Bedaard, met ’n tikkie ergernis, sonder om ongeskik te klink. ’n Soort beleefde afjak.

      “Dankie, maar dit was nie nodig nie.”

      “Ag, dis niks. Bly ek kon help.”

      “Soos ek sê, dit was nie nodig nie. Vat my terug, asseblief.”

      Dít

Скачать книгу