Die rolbalspeler. Zain Eckleton
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die rolbalspeler - Zain Eckleton страница 4
“Biscuits en tea? Hoe lyk dit, Ma, iets vir my? Ek is uit die maag uit.”
Maria verstik aan haar beskuit, gluur haar jongste aan.
“Jy’t ’n fine cheek! Nou wat als klaar is, kom jy hier aangesit en soek eetgoed. Loop heeldag rond en niks doen nie. Doen jy iets, moet ek of Hans betaal. Hans het hom amper doodgewerk en môre moet hy weer vroeg op workshop toe.”
Willem steur hom nie, bekyk die koerantplaksels teen die mure, begin lag.
“Hans, hoe werk jy dan?”
“Hoe bedoel jy?”
“Die articles . . . Een skuins. Een dwars. Een onderstebo. ’n Man se nek sal styftrek as jy als klaar gelees het.”
Hans glimlag skeef om te wys dat hy vir homself kan lag. “Dis die hele idéé: om so kruis en dwars en onderstebo te lees. Dis nie enige ou wat dit kan doen nie.”
“Ék kan.”
Met een oog op sy ma begin Willem sy lyf na alle kante toe draai, met sy kop wat elke keer na die ander kant toe saamdraai. Diékant toe, daai kant toe, onderstebo. Lees hardop, komieklike Kaaps en hoogdrawende Engels.
Tot Maria se kwaai gesig versag en sy begin lag.
“Willem, weet jy, jy’s nie goed nie. As jy só perform, is jy dik gerook. Steek die primus op en maak vir jou tee. Daar’s biscuits in die blik. Was jou hande voor jy aan iets vat.”
Soos met die plakwerk traak dit Hans nie hoe die eerste laag verf daar uitsien nie. Wat saak maak, is dat dit gedoen word.
Die tweede laag wend hy met groot omsigtigheid aan. Kers in die een hand, verfkwas in die ander. Sy oë naby die muur, kop byna teen die verfplek.
Hy verf stelselmatig. In vierkantblokke. Tydsaam. Oor en oor op dieselfde plek, in dieselfde blok.
En hy dink skielik: Al dié suffering vir ’n wit mens?
“Hans, pasop vir jou gesig, pasop vir jou hare,” waarsku sy ma. “Die kers is amper in jou gesig. En pasop vir jou kop teen die muur. Paint kom nie maklik uit jou hare nie.”
“Ja, Ma.”
Skuins voor twaalfuur die nag is hy klaar, pootuit weens die inspanning en intense konsentrasie.
“Mooi,” prys sy ma, “nou’s dit sommer skoon vir Krismis en Nuwejaar. Jy’t jou pa se hande. Hy sou ’n ander mens gewees het as hy jou verstand gehad het. Willem kan baie by jou leer as hy die dag wil kopgee.”
Twee
Erika lyk heeltemal anders as die vrou wat hy Maandag ontmoet het, merk Hans toe hy langs haar in die motor klim. Breërandhoed op die kop. Vlegsel in plaas van die los hare. Wit rok aan die groot lyf.
Sy gesels vriendelik met hom, oor die heerlike somerweer hier aan die begin van die jaar. Oor sy skoene, dat hy onthou het om platsoolskoene aan te trek. Sê iets oor toeval. Sy wat daar verbyry op pad na ’n kliënt toe, hom op die sypaadjie opmerk, en hier is hulle nou op pad vir rolbalsake.
En daar was ietwat van ’n kontroversie oor hom, vertel sy. Maar eintlik oor haar, korrigeer sy haarself. Phillip Abrahams, voorste afrigter en die een wat deur die komitee aangewys is om nuwe spelers touwys te maak, is ongelukkig omdat sy gesê het sy wil Hans Meintjies onder haar vlerk neem. Die voorsitter, John Wright, asook Derek Barnes wat die klub agter die skerms bestuur, ondersteun haar daarin.
Elkeen weens sy eie redes, skinder sy ’n bietjie. John omdat hy en Phillip gedurig haaks is oor wie die beste afrigter is. Derek omdat hy ’n politieke agenda het, en omdat hy haar goedgesind is aangesien hy ook haar baas is.
Daar is ’n geskarrel na nuwe talent. Swart spelers wat vir die nasionale span ontwikkel moet word. Transformasie. Hy weet mos van die politiek belaaide debat rondom sport? En terloops, swart verwys na swartes sowel as bruines. Almal wat nie wit is nie.
’n Onsinnige kwessie, want sedert 27 April 1994 is almal mos Suid-Afrikaners, dan nie? In elk geval, dis haar siening. Mense soos Phillip Abrahams en Derek Barnes sien dit anders, en sy kan dit verstaan. Die rassekwessie kom ’n ver pad; dis naïef om te dink dat dit sommerso sal verdwyn.
Hy haal diep asem, kry sy vraag in.
Of sy ’n goeie afrigter is? Sy dink so, maar voorste afrigters soos Phillip en John dink nie so nie. Sy wil hulle verkeerd bewys deur van Hans ’n kampioen te maak. Of die volgende nuwe speler wat oor haar pad kom. Tot dusver het sy haar toegespits op die swakker spelers wat deur afrigters soos John en Phillip geïgnoreer word. Maar ’n afrigter word gemeet aan die prestasies van die speler wat hy afrig, dit het sy eers onlangs besef.
Dan, terwyl hulle rustig saam met die verkeer in Voortrekkerweg vloei op pad na die rolbalbane in Mowbray, vra sy: “Het jy lank gewag?”
“Nie te lank nie.”
“Ek het gewonder of jy hier gaan wees.”
“Hoekom?”
“Ná Maandag.”
“O, dit?” Hy gee ’n kort laggie.
“ ’n Mens weet nooit . . .”
Hy is nie seker wat om daarop te sê nie, bly liewer stil.
“Die spelers is sweet. Jy kan met hulle toor, die meeste van hulle. Maar daar is ’n paar wat geneig is om dwars te trek. Ek steur my nie aan hulle nie. Sit my voet neer. Maar genoeg oor my, ek praat ook sonder ophou.”
“Dis okay, ek is nie een vir praat nie. My ma sê ek is van dink aanmekaargesit.”
“En waaraan dink jy nou?”
“Maandag,” jok hy.
“Toe ek jou oor die pad ontvoer het?”
Hy lag verleë.
“Was dom van my,” lag sy ook. “Maar jy’t my lekker afgejak, jy.”
Hy glimlag by die venster aan sy kant uit. Nie net vir die waarheid uit Erika se mond nie, maar ook vir haar wat so gemaklik met hom is. So asof sy nie wit is nie maar bruin soos hy.
Sy skakel die radio aan. KFM, ’n mooi ballade.
Hulle luister in stilte tot hulle by die rolbalklub aankom.
Met sy hand in hare, terwyl Erika hom van die parkeerterrein oor die plaveipaadjie na die klubhuis lei, kyk Hans rond.
Motors waarom hulle moet vleg. Verder weg bome rondom die baan, of donker goed wat soos bome lyk. Nog verder, hoër op, kompleet of hulle bo-op die boomtoppe rus, huise met blink vensters soos die son daarop glim. Alles vaag en dof, maar darem sigbaar danksy die helder sonlig.
Trappies.
Hy skop teen die grondtrap en lig sy voet.
Een. Twee. Drie.
Hulle