Die rolbalspeler. Zain Eckleton
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die rolbalspeler - Zain Eckleton страница 5
Nagblindheid, waarmee hy al sy lewe lank te make het: om so uit die helder lig na binne of in skadu’s in te kyk. ’n Nagmerrie-ervaring.
Soos tonnelvisie: om net een ding op ’n slag te kan waarneem weens sy beperkte sentrale visie. Hou hy iemand in die oog wat in sy rigting by ’n paal verbyloop, loop hy in die paal vas, of omgekeerd.
Ten spyte van die wasigheid voor hom is hy egter van een ding seker: hier is baie mense. Blindes. Hulle gesels soos blindes – luidrugtig.
Erika stuur hom na ’n tafel, stel hom aan ’n paar mense voor, onder andere Melvin Petersen en Graham Stevens. Hans drink stil sy koffie, luister geamuseerd na almal se stories.
Melvin beweer dat daar teen hom gediskrimineer word omdat hy bruin is.
“Ek’s van die begin af hier. Part van die furniture, maar ek weet nie hoe dit voel om in ’n Springbokbaadjie te klim nie. Is dit fair, Hans? Is dit?”
Graham kan nie uitgepraat raak oor sy rolbalprestasies nie. Klubkampioen. SA kampioen. Wêreldkampioen.
“Jy het dit of jy het dit nie. Hulle noem dit die X-faktor. Jy word daarmee gebore. Maar ek’s bly jy kom ons join, Hans. Ek soek ’n challenge. Hier is nie ’n challenge vir my nie.”
Van die afkondigings maak Hans g’n kop of stert uit nie. Tog luister hy aandagtig. Hy hou van die formele aanslag. Waardeer die noem van sy naam aan die einde om hom te verwelkom.
“Good bowling,” sluit die voorsitter af, waarna almal na die rolbalbaan verskuif.
Met sy hand in hare stel Erika Hans aan die baan bekend.
’n Breedvoerige uitleg oor alles: die baan is in ses speelbane verdeel sodat ses wedstryde op dieselfde tyd kan plaasvind. Die middeltou oor die lengte van elke speelbaan as hulpmiddel vir die spelers om hulleself te oriënteer wanneer hulle gereed maak om ’n bal te rol. Dit help ook die afrigters om die kietie, die kleiner bal waarna jy rol, te sentreer, en om die gras, die rigting wat die bal moet rol, te bepaal.
Sy praat oor die ditch, ’n vlak slootjie aan die kant van die baan, en die bank, die grasperkwal rondom die baan, sowat ’n halwe meter hoër as die speeloppervlak. Dan verduidelik sy die spel.
“Jy bowl van die mat af. Reguit arm. Voete in die rigting van die gras. En follow through.” Sy demonstreer dit deur ’n bal te rol.
Die groot lyf buig sierlik, sien Hans. Sweef as ’t ware vorentoe, een voet van die mat af. Dan skiet die bowlhand uit en stuur die bal met ’n reguit arm weg soos dit vir hom lyk. Met sy oë wyd oop sien hy hoe die arm geleidelik terugswaai terwyl die geboë lyf effens orent kom en nog ’n raps vorentoe mik asof dit spoed optel om die bal te volg.
So grasieus soos sy begin het, kom Erika orent, haar oë op die bal tot dit naby die kietie tot stilstand kom. Dan kyk sy na Hans.
“Het jy mooi gekyk?”
“Ja.”
“Mooi. Dis hoe dit gedoen word.”
Voorts praat sy oor rondes en koppe.
Aan die einde van ’n ronde, wanneer elke speler sy kwota balle gerol het, word die kop, die balle rondom die kietie, bekyk om te bepaal aan wie die skoot of skote behoort. Dan word die volgende ronde van die oorkant af teruggespeel.
Hans probeer alles inneem. Alles waarneem. Bevoel alles. Die kietie. Die rolbal wat so swaar in sy hand lê. Sy hand is steeds in Erika s’n soos sy hom oor die baan rondlei. Net wanneer hy moet tas en iets vat, laat los sy. Dan het sy hom weer beet.
Hy begin al meer ongemaklik raak daaroor noudat hy weet hoe dinge werk. Boonop is dit helder lig met die son wat op hulle neerbak. En die onophoudelike gepraat oor dit wat so eenvoudig voorkom – om ’n bal te rol soos hy om hom sien – begin hom irriteer. Maar hy is steeds gefassineer deur haar en daarom verduur hy dit.
Hy kyk weer na die spel wat op die aangrensende baan plaasvind. Hy sien ’n bal rol, dan verdwyn dit uit sy gesigsveld. Dan is daar nog een, en nog een wat wegraak. En almal gesels en gaan tekere. Allerlei krete wat opklink, kompleet asof hulle dit geniet. En dit onder hierdie warm son.
Om met ’n bal voor jou voete of onder jou arm te hol, sal darem meer exciting wees. Dit sal nou iets wees om oor te gil en alles. Só sal hy nie tekere gaan nie, maar nou wil hy ’n slag aan die gang kom, al is hy nie werklik hier oor die game nie.
Hy kyk terug na Erika. Die vlegsel val hom op, al swaaiende soos sy met haar lyf en kop gesels en verduidelik.
Sy waai met haar hand voor haar gesig. Hy het agtergekom dat die son haar pla. En tog het sy nie einde nie. Gaan aan oor hierdie stupid game asof haar lewe daarvan afhang. Hoe lank loop hulle al rond? ’n Uur? Langer? Voel na ’n uur en ’n half.
Sy oog vang nog ’n bal. Swart bal oor die wit baan, al weet hy die baan is nie werklik wit nie. Groen, natuurlik. En waarskynlik is die balle ook nie swart nie. Dalk bruin of groen, of ’n ander donker kleur.
Vir hom is alles wit of swart.
Uiteindelik hou Erika op met die verduidelikings. “Tyd vir tee,” sê sy. “My keel is droog gepraat en die son keil my op.”
Binne die klubhuis is dit heerlik koel.
Erika kies ’n tafel naby die groot vensters. Weens die sonlig in sy oë help dit Hans egter glad nie om iets te sien nie. Hulle sit swygend oorkant mekaar terwyl hy angstig wag dat sy oë aan die binnelig gewoond raak.
Dit gebeur geleidelik. Soos dagbreek. Eers die ligdonkerte. Dan die ligskynsel. Dan lig.
Die vrou wat die tafels bedien sit tee en eetgoed voor hulle neer.
“Hoe drink jy jou tee?” vra Erika.
“Melk en twee suiker, asseblief.”
Erika skink uit die teepot, roer melk en suiker by, skuif ’n bordjie met ’n mosbolletjie op langs die koppie voor Hans.
“Geniet dit,” sê sy.
Hy knik sy kop, verlig dat hy sy sig terughet.
Hy drink ’n mondjie tee en kry die koekie beet. Dit maak sy hande taai, jig!
“Gebruik die lepel,” stel Erika voor.
Hy doen dit, ongemaklik bewus van haar oë op hom. Donker oë in die wit gesig.
Uit die kroeg aan die agterkant van die saal klink die geluid van glasskerwe op. Die kroegman wat ’n glas van die toonbank afgestamp het.
Buite klink die uitbundige krete steeds op. Hulle sal binnekort inkom vir tee, sê Erika, waarna hulle hulle wedstryde sal hervat.
Ná ’n rukkie, met die stilte tussen hulle wat voortduur, kyk Hans vlugtig op.
Erika