Rodriguez. Piet van Rooyen

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Rodriguez - Piet van Rooyen страница 9

Автор:
Серия:
Издательство:
Rodriguez - Piet van Rooyen

Скачать книгу

al van voor hy gebore is. Vandag het daar ’n nuwe geslag van mense in die land regeer. Jong mans, skaars in die twintig. Of jonger. Vreesloos. Primitief. Tot die uiterste gebrei. In staat om vir onbepaalde tydperke direk uit die veld te leef. Hulle het g’n mens meer nodig gehad om te sorg nie. G’n huis. G’n moeders nie. Mans met ’n arrogansie wat gegrens het aan die bonatuurlike. Hulle was soos gode. Hulle het geen respek vir lewe meer gehad nie. Hulle het doodgemaak om die blote rede dat hulle geen kompetisie geduld het nie. Waar hulle vertrek het, het hulle rou vrees agtergelaat. Dit was hulle wat vir Gaspar uit sy slaap kom wakker skud het daardie nag.

      Al was hy klein en maer, was Gaspar ’n taai kalant. Op sy eie basiese manier het hy besef wat die reëls was wat hom aan die lewe sou hou. Hy het algaande, uit sy eie wil, klein takies vir die soldaat wat hom gevange geneem het, begin verrig. Hy kon die man se goedkeuring voel, en het daarin ontluik. Hy het homself as spesiaal uitgesoek begin sien. Hy het op die ander kinders begin skree as hulle te stadig was na sy sin. Sy bevele was blaffend en skerp.

      Naby Caia het twee van die ouer seuns probeer weghardloop, maar Gaspar het hard na sy soldaat geroep om hom te waarsku, en die soldaat het albei die seuns met ’n sarsie skote uit die heup platgeskiet. Hulle het net daar in die halfmas gras bly lê. Nie geroer nie.

      Gaspar het daardie selfde dag nog sy eie geweer gekry. ’n AK-47. ’n Kalashnikov, met ’n twaalfduim-loop. Dit was ’n mooi geweer met ’n kolf en pistoolgreep van donker hout, mooi glad gevorm. Die grendel en die loop was wel al hier en daar blink geskuur van die werk, maar ongeroes. Dit het koel en glad onder die vingerpunte gevoel wanneer Gaspar daaroor stryk. Met ’n ligte druk van die vinger kon dit dertig, veertig koeëls uitstrooi, in ’n enkele onafgebroke gestotter. Gaspar was baie bly om so ’n geweer te hê. Die soldate het gelag en vir hom gesê: “Dis ’n toorgeweer. Dit dra net sulke klein-klein koeëltjies, maar daardie koeëltjies groei vanself, en kan baie, baie mense doodmaak.”

      Gewere was volop. Daar was genoeg vir almal wat wou veg. Hy was nou self ’n ware Renamo-soldaat. Vir ’n mannetjie wat laas week nog verveeld agter ’n troppie sukkelbees aangeloop het, was dit ’n groot oomblik.’n Suksesverhaal.

      Die geweer was lig genoeg vir ’n kind om te dra. ’n Mens kan buitendien nie swaar goed dra in die bos nie.

      Drie dae later het hy sy eerste mens doodgeskiet, ’n ou man uit een van die dorpies wat hulle met ’n windmakerhouding binnegestap het. Die ou man is spesiaal deur die ouer soldate vir Gaspar uitgesoek, tussen die verskrikte groepie dorpenaars uit, om sy mannemoed mee te bewys. Dit was ’n maer ou man met ’n grys kop en ’n puntbaardjie. Sy gesig was onduidelik. Hy het nog vir Gaspar gevra: “Weet jou ma wat jy doen?”

      Gaspar het geantwoord: “Praat jy met my?”

      Toe die ou man “ja” sê, het Gaspar hom deur die maag geskiet. Gaspar het nie eers behoorlik na hom gekyk toe hy hom geskiet het nie. Hy sal hom vandag nie eers in ’n droom kan herken nie.

      Die eerste keer wat hy in ’n regte skermutseling was, was moeilik. Hy was bang, met die koeëls wat so om hom fluit, die koeëls wat die dun takkies van die bos met skerp klapgeluide breek, wat die blare laat ritsel het soos ’n hand wat daaroor vee. Hy was nie seker wat hy behoort te doen nie. Die ouer soldate het hom egter gehelp en gesis: “Moenie net daar lê met jou hande oor jou kop nie. Vat die geweer en skiet in die algemene rigting van die vyand. Skiet daar waar jy die takke sien roer.”

      Hy het dit gedoen, en was skielik nie meer bang nie. Die gestotter van die masjiengeweer in sy hande het die vrees weggeneem. Toe dit stil raak, het hulle versigtig vorentoe gegaan om te kyk, en die lyke van ses regeringsoldate in die bos gekry. Die bloed het uit hulle liggame gesypel en oor die blaremat uitgesprei. Gaspar kon die bloed ruik, ’n skerp soet reuk, gemeng met die muwwe houtagtige reuk van die blare. Dit was ’n reuk waaraan hy gewoond geword het, waarvan hy mettertyd leer hou het.

      Later het hy geleer om ’n RPG-missiel te gebruik. Ook noodhulp en ander nuttige dinge.

      Gaspar het homself altyd later wysgemaak dat hy ’n soldaat geword het om wraak te neem. Dat hy sy mense se dood wou wreek. En ook ter wille van sy vaderland. Met sy vaderland het hy bedoel daardie stukkie bloedgrond waarop sy pa geskiet is.

      12

      Die Rooikruis-suster het vir Alda in Maputo in die hospitaal opgespoor. Sy was toe twaalf. Sy het op haar maag op die smal hospitaalmatras gelê. Haar hele onderlyf was met gaasdoek toegedraai. Die ontsteking het geel deur die doek gesypel. Sy kon nie sit of staan nie. Waar sy vandaan gekom het, kon sy nie sê nie. Sy het ’n woord geprewel, maar die naam was vir almal onbekend. ’n Frelimo-patrollie het haar iewers langs ’n tweespoorpad in die middel van die bos gevind. Sy was op haar hande en knieë verbete vorentoe aan die kruip. Vorentoe, net vorentoe. Waarnatoe wou sy nie sê nie. Heel moontlik net weg. So ver moontlik weg. Iemand, waarskynlik ’n Renamo-kommando, of dalk maar net ’n enkele, identiteitslose jong soldaat, het haar onderlyf met ’n panga beetgekry. Hulle het rye diep kepe in haar boude uitgekap. Reg tot op die been. Dit was ’n sinnelose daad. ’n Blote kind. Sonder rede. Redeloos.

      Die suster het Dhlakama se vrou geken, via die NGO-netwerk, gedog sy sou haar in goeie hande plaas. Sy het Alda aan haar oorgegee. Dhlakama wou sy goeie ingesteldheid bewys. Hy het hom oor die wesie ontferm, haar na die Massala-basis toe gebring. Haar hier onder Gaspar se beskerming geplaas.

      Sy het natuurlik geen spesiale voorregte gedra nie. Die soldate kon steeds met haar maak soos hulle wou. Dit was deel van die oorlog. Sy’t haar nie verset nie. Sy was lankal by verset verby. Sy’t nooit iets anders gedra as die wye pienk rok nie. Dit het die verminking goed genoeg weggesteek. Sy kon weer haar kop lig, normaal funksioneer. Maar steeds met die sagte, byna ontliggaamde, sangerige stem.

      Snags, as sy alleen was, het sy geleer om die koeëlpunte met haar tande uit die geweerpatrone uit te wikkel. Dan het sy haar neus toegeknyp en die bitter, swart kruit afgesluk. Sy het geglo dit sal haar help om nie swanger te word nie. Soggens het sy dan met rooi oë wakker geword en geglo dat die kruit haar skoongebrand het van binne. Dalk was dit regtig die geval, want sy het werklik nooit swanger geword nie.

      13

      Teen skemeraand op 24 April 1974 in ’n kantoor in die Rua António Maria Cardoso, weg van die raserige Lissabon-verkeer, sit twee mans en gesels. Tussen hulle staan twee glase en ’n bottel goeie Portugese port. Die kantoor behoort aan majoor Silva Pais, hoof van die gevreesde Portugese geheime polisie, beter bekend as die Internasionale Polisiediens vir die Verdediging van die Staat, PIDE is die Portugese afkorting. Ten spyte van die lang vlug van die vorige dag, is die besoeker wawyd wakker en vol energie. Dit is egter duidelik dat iets majoor Silva Pais pla. Hy bly afgetrokke en ingedagte met sy vinger oor die tafeldoek stryk. Die besoeker staan net bekend onder sy voorletters, KF, ook soms as “die Blom”. Hy is Ken Flower, hoof van die Rhodesiese Sentrale Intelligensie Organisasie, die CIO in Engels. Hy het pas ’n belangrike sekuriteitsooreenkoms met die Portugese gesluit, ’n ooreenkoms wat hy en sy regering al vyf jaar lank probeer finaliseer. Nou, uiteindelik, is die finale besonderhede uitgestryk, die dokumente geteken. Dis ’n ooreenkoms wat op klein skaal begin, maar wat die volgende dekades ’n ontsaglike impak op die hele Suider-Afrikaanse gemeenskap sou hê.

      Die besoeker sê beleefd nee dankie vir ’n vierde glasie port. Hy het genoeg gedoen om sy dankbaarheid te betuig. Hy voel tevrede met wat hy bereik het. Dis tyd om terug te gaan. Hy groet en vertrek. Buite staan ’n taxi reeds en wag om hom na die Lissabonse Portela-lughawe te neem. Hier stap hy aan boord van ’n Boeing 707 van die Portugese Lugtransport Maatskappy, bestemming huis toe. Dis die laaste vlug wat daardie nag toegelaat word om van die Portela-lughawe op te styg. Gedurende die transithalte in Luanda, Angola, word die passasiers aangesê om aan boord te bly. Dis eienaardig. Flower is glad

Скачать книгу