Joe Speedboot. Tommy Wieringa

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Joe Speedboot - Tommy Wieringa страница

Автор:
Серия:
Издательство:
Joe Speedboot - Tommy Wieringa

Скачать книгу

cover.jpg

      TOMMY WIERINGA

      Joe Speedboot

      Uit die Nederlands vertaal deur Zandra Bezuidenhout

      QUEILLERIE

      Vir Rutger Boots

      Daar word gesê dat die samoerai ’n tweevoudige Weg volg,

      van die penseel en van die swaard.

      MIYAMOTO MUSASHI

      PENSEEL

      Hoofstuk 1

      Dis ’n warm lente. By die skool bid hulle vir my omdat ek al meer as tweehonderd dae buite weste is. My hele lyf is vol bedsere en ek lê met ’n kondoomkateter om my voël. Dis die coma vigil-stadium, verduidelik die dokter vir my ouers: Ek is weer effens ontvanklik vir my omgewing. Hy sê dis goeie nuus dat ek op pynprikkels en geluide reageer. Reaksie op pyn is ’n seker teken van lewe.

      Hulle hang gedurig om my bed rond; Pa, Ma, Dirk en Sam. Ek hoor hulle al as hulle by die hysbak uitkom – ’n swerm spreeus wat die lug verdonker. Hulle ruik na olie en flou tabak, maar het darem die moeite gedoen om hul oorpakke uit te trek. Hermans & Seun vir Alle Sloopwerk. Die Loodfamilie vir Skroot.

      Ons sloop motorwrakke, fabrieksinstallasies en nywerheidstoerusting, en af en toe ’n eetplek se binnekant as my broer Dirk die gier kry. Op Lomark is Dirk omtrent nêrens meer welkom nie. Westerveld is die enigste plek waar hy nog sy voete mag sit, by die kroeg waar hy ’n vryery met ’n meisie aan die gang het. As hy by die huis kom, ruik hy die ene gebottelde viooltjies. Arme meisiekind, dis al wat mens kan sê.

      Hulle praat gedurig oor die weer, altyd dieselle ou storie: Besigheid is sleg en dis die weer se skuld, maak nie saak watse weer nie. Dan trek hulle los met die vloekery; eers Pa, dan Dirk en Sam. Dirk snuif aanmekaar tot hy met ’n bol slym in die mond opgeskeep sit. Hy weet nie mooi wat om daarmee aan te vang nie, dan sluk hy dit maar af – en voor jy kan sê “snot” is als weg.

      Maar deesdae gons dit op Lomark oor meer as die weer. Vandat ek ’n tyd gelede weg-wêreld geraak het, het ’n meubelvervoerwa deur die Maandag-gesin se gewelhuis geploeg en van toe af skrik al wat leef hulle kort-kort boeglam vir ’n moerse ontploffing iewers. Blykbaar het dit te make met ’n ou met die naam Joe Speedboot. Hy’s nuut op Lomark en ek het hom nog nooit gesien nie.

      Ek spits my ore as hulle oor Joe Speedboot praat – hy klink na ’n lekker ou, as jy my vra, maar niemand vra my ooit iets nie. Hulle is doodseker dis Speedboot wat die bomme maak. Nie dat iemand hom al met so iets betrap het nie, maar voor hy hier opgedaag het, was daar nooit ontploffings op Lomark nie. Nou gebeur dit skielik. Nou ja. Die mense is behoorlik omgekrap daaroor, glo my. Partykeer sê Ma “bly tog stil, netnou hoor onse Fransie julle”, maar niemand steur hulle aan haar nie.

      – Gou ’n dampie maak, sê Pa.

      Hier binne is rook verbode.

      – Is sy van regtig Speedboot? vra Sam, my broer wat twee jaar ouer is as ek.

      Sam sukkel nooit met my nie.

      – Niemand se van is sommer net Speedboot nie, sê Dirk. Met sy groot bek.

      Dirk, die oudste. ’n Bliksem. Oor hom kan ek julle baie stories vertel.

      – Foeitog, die kind se pa is nou die dag dood. Los hom tog uit, sê Ma.

      Dirk snuif nog ’n slag.

      – Speedboot . . . simpel . . .

      Dit gee my die jeukens, daai regte help-my-krap-jeuk. Joe Speedboot; verbeel jou.

      Weke later lê ek en die wêreld nog albei plat op die rug, ek as gevolg van die ongeluk en die wêreld omdat dit so warm is. En Ma huil. Van geluk, dié keer.

      – Ag, nou’s my mannetjie mos weer mens, sommer weer een van ons.

      Sy het elke dag vir my ’n kersie aangesteek en glo regtig dat dit gehelp het. Die klas dink weer dit was aan hulle te danke, met al daardie gebede. Tot die skynheilige Quincy Hansen het saamgebid, asof ek in ’n gebed van hom iets te soek gehad het. Dis nie asof ek al uit die bed mag opstaan of kan huis toe gaan nie. Ek sou dit nie eers kon regkry nie. Hulle moet nog my rugwerwels ondersoek, want sover kan ek nog net my regterarm beweeg.

      – Net genoeg om draad te trek, sê Dirk.

      Van praat kan ek ook voorlopig vergeet.

      – Daar het in elk geval nooit veel uitgekom nie, sê Sam.

      Hy kyk of Dirk lag, maar Dirk lag net vir sy eie grappe. Hy moet ook maar, want niemand anders doen dit nie.

      – Toe nou, julle! waarsku Ma.

      Dit is soos sake nou staan: ek, Fransie Hermans, een arm wat werk en veertig kilo slap vleis wat daaraan vassit. Daar was ’n tyd toe ek beter daaraan toe was. Maar Ma is sielsgelukkig; sy sou vir een oor ook dankbaar gewees het – mits hy na haar luister, natuurlik.

      Ek moet so gou moontlik hier wegkom. Hulle maak my gek met hierdie rondhangery om my bed en die gesanik oor die besigheid en die weer. Wat traak dit my? Bid jou aan.

      Hoofstuk 2

      Ek het ’n jaar ouer geword terwyl ek bewusteloos was; hulle het my verjaardag in die hospitaal gevier. Ma vertel van ’n koek met veertien kersies wat hulle om my bed verorber het. Ek het 220 dae aanmekaar geslaap, en as jy die begin van die rehabilitasie bytel, was dit omtrent tien maande voordat hulle my laat huis toe gaan het.

      Dis nou middel Junie. Die wonder van my wederopstanding – soos Ma dit wil hê – maak dinge moeilik vir ons gesinslewe. Ek moet gevoer, gewas en omgedraai word. Dankie, julle almal, maar dít kry ek nog nie uit nie.

      Eendag neem my broers my saam kermis toe, omdat Ma so sê. Sam stoot die rolstoel en die buitelug verwelkom my met ope arms soos ’n ou vriend. Die wêreld lyk anders vandat ek terug is. Alles sprankel, asof die pous op besoek kom of so iets. Sam stoot my teen ’n stink spoed deur die strate; hy wil nie hê die mense moet ons stop met allerhande vrae oor my toestand nie. Ek kan al die kermis in die verte hoor. Die gejil, die bekpraatjies van die kermismense, die klokkies wat lui as jy iets raakskiet – die lawaai sê alles. Dis een helse hoera vir die kermis.

      Dirk loop ’n ent voor ons uit, sy rug vooroor soos iemand wat skaam kry. Hy draai by Zonstraat in en hou by die café De Zon verby. Sam kom met my agterna. Die kermisklanke word dowwer; klanke wat styg en daal is al wat jy nog hoor. So, dan gaan ons seker nie kermis toe nie. Sam stoot my haastig verder straataf. Dan kom ons by Hoving se vervalle plasie aan die rand van die dorp. Ons stop eers, maar Dirk is al deur die tuinhek. Ek was lanklaas hier.

      – Help ’n bietjie! roep Sam.

      Die rolstoel se wiele sukkel deur die hoë gras vol surings en papawers. Dirk kom sit hand by en hulle dwing die rolstoel deur die tuin van oorlede Rinus Hoving. Sy plasie is verlate, en solank die erfgename stry oor wat daarvan moet word, gebeur daar ook niks. Hulle tel my deur die spensdeur tot binne-in die huis. Die rooi vloerteëls is toe onder ’n dik laag stof. Ek sien dat daar voetspore lê. Hulle stoot my deur die kombuis en met die gang af tot in die groot woonkamer, dan los hulle my agter die glasskuifdeure van ’n effens hoër syvertrek.

      –

Скачать книгу