Joe Speedboot. Tommy Wieringa
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Joe Speedboot - Tommy Wieringa страница 2
Sam begin twyfel. Maar nie Dirk nie. Hy’s nie ’n ou wat twyfel nie, daarvoor is hy te onnosel.
– Ons kan darem nie dit doen nie, sê Sam.
– Dis sy eie skuld. Ek gaan regtig nie met hom op die rondomtalie ry nie, as dit is wat sy gedink het.
Sy, dis nou Ma. Dirk het nie veel respek vir haar nie, maar sy het ’n magtige wapen: Pa se plathand. Sam se kop skuif weer tot binne my gesigsveld.
– Ons is nou-nou terug, Fransie, oor ’n uur of so.
Dan is hulle weg.
Fantasties, nè, eenkant toe gesmyt soos ’n spul afvalhout in ’n murasie. Dit kon mens ook van hulle verwag het. Dis nes ek gedink het, ek moes nog net bewyse kry. Feite is nie so erg soos vermoedens nie. Feit is dat ek gestrand sit in ’n donker huis wat in my nek af blaas. En dat my uitsig bestaan uit ’n vensterbank vol dooie brommers, spinnerakke en stofwolle. Maar elkeen van my vrese het ’n oop oog, een wat jy nie flous nie en wat wawyd wakker is. En daar is hulle nou: Soos een man sit hulle ’n keel op, en allesbehalwe strelend. Diere! Kindermolesteerders! Goeters! Kortom, paniek. Maar hoe lank kan mens bang wees sonder dat daar iets gebeur? Stadigaan raak die gevoel net ongemaklik, en as daar nog steeds niks aangaan nie, kry jy lag vir jouself. Maar dáár was beslis ’n geluid! Ek sweer, ’n deur wat toeklap, iets wat val. Ek draai my kop, wat soveel inspanning kos dat ek kreun soos ’n moroon. Asof ek ’n boom met my voorkop moet omstoot. Dáár, in die deur . . .
– Hallo, sê die gedaante.
’n Seunstem. Ek kyk reg in die lig wat uit die kombuis kom en sien net sy silhoeët in die deur. Hy kom nader. ’n Seun, goddank net ’n seun. Hy kom staan voor my en kyk my skaamteloos op en af. Sy blik gly na die klampe om my voete, na die blou sitplek – suiwer kunsleer, meneer – die silwer buise en die hefboom met die houthandvatsel aan my regterkant waarmee jy die swenkwieletjies voor draai en armkrag op die agterwiel sit, sodat jy jou met die gedoente vorentoe kan beweeg. Gekoop met groei in gedagte, soos hulle sê. Maar ’n eersteklas rolstoel, altyd binne gestaan, jy ken mos die storie. Hulle sê ek sal eendag self kan ry, maar soos dinge nou is, kan ek nie eers ’n vlieg van my voorkop af waai nie.
– Hallo, sê die seun nog ’n slag. Kan jy nie praat nie?
’n Donker vel met helder oë. Hare soos ’n pispot gesny. Hy draai om en kyk deur die venster. Hoving se tuin: rooi klawerbolle, brandnetels en papawers wat nie omgee as jy hulle bewonder nie, maar so beledig voel as jy hulle pluk dat hulle voor jou oë verlep.
– Hulle het jou hier kom los, nè? sê die seun terwyl hy uitkyk op Lomark.
Die hoogste karretjies van die groot kermiswiel steek bokant die huise uit. Hy knik.
– Ek het gehoor van jou. Jy’s een van die Hermanse, van die skrootbesigheid. Hulle sê Moeder Maria het ’n wonderwerk aan jou gedoen. Nie sodat mens dit sal agterkom nie, as ek mag sê. As dít ’n wonderwerk is, wil ek nie weet hoe straf lyk nie, verstaan jy?
Hy knik asof hy heeltemal met homself saamstem.
– My naam is Joe Speedboot, sê hy dan. Ek het nou die dag hier ingetrek. Ons woon in die Achterom, weet jy waar dit is?
Breë hande, kort vingers. Breë voete ook, waarop hy soos ’n samoerai geplant staan – waarvan ek toevallig iets weet, dis nou van die samoerai. Van die seppuku, die weg van sterfte om jou eer te red, waar jy ’n kort swaard in jou maag steek om dit van linksonder na regsbo oop te vlek. Aan die lengte van die snit kan mens sien hoe dapper iemand was. Maar dis nie nou ter sake nie.
Ek sien wat dit is wat Dirk nie kan vat nie, dit straal soos lig uit hom uit: Hy is nie bang nie. Joe Speedboot, bomplanter, moeilikheidmaker – met jou afgesnyde broek en belaglike, gehawende leersandale. Waar was jy al die tyd?
– Net gou iets kry, sê hy.
Hy verdwyn uit my gesigsveld en ek hoor hom iewers in die huis by die trappe opgaan, tot sy voetstappe bokant my kop klink. Is dit waar sy werkplek is? Vir bomme en sulke goed? Speedboot se beheerkamer? Toe hy weer onder kom, het hy ’n wasmasjienhorlosie en twee batterye in sy hande. Hy gaan sit op die vensterbank en frons diep terwyl hy die batterypole verbind. Dan monteer hy ’n pennetjie op die horlosie en stel dit op nul. Skielik kyk hy op.
– Ons het teëspoed gehad met die trek, sê hy ernstig. ’n Ongeluk. My pa is daarin dood.
Dan buk hy weer oor sy werk.
Die eerste keer dat Lomark van Joe en sy mense gehoor het, was toe ’n Scania-trok deur die Maandag-gesin se deftige trapgewelhuis in Brugstraat gebars het. Byna tot met sy agterent in die sitkamer, waar die Maandags se seun Christof voor die televisie met ’n videospeletjie doenig was. Hy het doodstil bly sit toe dit gebeur het. Die eerste ding wat hy sekondes later sou sien, was ’n koplamp wat soos ’n bose oog deur die stofwalms en puin steek. Mettertyd het dit tot hom deurgedring dat daar ’n trok in hulle voorhuis beland het. Die hele tyd kon jy nog hoor hoe ’n videoballetjie toeink-toeink oor die skerm spring.
’n Man se bolyf het oor die rooster van die Scania gehang, sy arms slap ondertoe soos ’n voëlverskrikker wat uit die hemel geval het. Sy onderlyf was in die stuurkajuit vasgepen en hy was dood, dit kon jy sien. Maar boontoe was daar nog lewe: Die regterkantste deur het stadig oopgegaan en Christof het ’n seun van so twaalf, dertien jaar sien uitklim. Hulle was seker omtrent ewe oud. Hy het ’n goudkleurige hemp aangehad, met ’n pofbroek en sandale daarby. Sy klere het mens laat wonder of sy ouers reg wys was. Hy het doodluiters in die kamer rondgekyk terwyl die kalk om sy kop en lyf gedwarrel het.
– Hallo, het Christof gesê, met die joystick nog in sy hand.
Die ander seun het net sy kop geskud, soos een wat iets snaaks dink.
– Wie’s jy? was al wat Christof kon uitkry.
– Joe, het die seun geantwoord, Joe Speedboot.
Joe het ons dorp soos ’n meteoriet getref. ’n Dorp met ’n rivier wat in die winter sy walle oorstroom, ’n vaste netwerk waarlangs stories versprei, en ’n haan op die dorpswapen, dieselfde haan wat omtrent duisend jaar gelede ’n bende Vikings voor die poorte van Lomark verjaag het terwyl ons voorouers in die kerk gesit en bid het, verbeel jou. “Dis die haan wat bly staan” is ons leuse hier rond. ’n Ding wat iets anders buite hou, dis ons simbool. Maar Joe het met soveel geweld hier ingeval dat niks hom sou stuit nie.
Hy was as gevolg van die ongeluk halfpad wees, want die man wat deur die voorruit van die trok gehang het, was sy pa. Sy ma het bewusteloos in die stuurkajuit gelê; sy jonger sussie India het teen haar pa se skoensole vasgekyk. Christof en Joe het mekaar aangestaar soos wesens uit verskillende sterrestelsels – Joe gestrand met sy ruimteskip en Christof wat sy hand uitsteek om kennis te maak. Hier was iets wat hom sou bevry uit die neerdrukkende doodsheid van hierdie dorp waar die haan vir ewig bly staan, daardie ellendige klein gedierte waarin jy jou orals vasloop: op die deure van brandweerwaens, op die gewel van die stadsaal en in brons op die markplein. Die haan word met karnavaloptogte op ’n sierwa rondgetrek en hy kraai vir jou langs tientalle voordeure van versierde dakteëls af; tot by die bakkery kry die haantjie lyf (’n simpel krummelkoekie met mueslivlokkies). Op elke buffet, kaggelrak en vensterbank sien jy hane van glas, hane van keramiek en gebrandskilderde hane, en hane wat in olieverf aan die mure pryk. Ons kreatiwiteit is eindeloos as dit by hierdie haan kom.
Joe het hom verkyk aan die huis waarin die noodlot (lees: ’n stuurfout gekombineer met ’n oorskryding