Joe Speedboot. Tommy Wieringa

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Joe Speedboot - Tommy Wieringa страница 4

Автор:
Серия:
Издательство:
Joe Speedboot - Tommy Wieringa

Скачать книгу

olie en water. Ons stoot aan na die oorkant waar ’n motor sy ligte flits. Duisternis val uit die wilgertakke oor die koeie wat daaronder lê. Koeie is dom; hulle staan altyd en droom oor niks. Nee, gee my maar liewer perde; as hulle stilstaan, lyk dit ten minste of hulle oor iets dink, regtig diep nadink oor een of ander perdeprobleem, terwyl koeie kyk soos die hemel na ons kyk: groot en swart en leeg.

      Party mense is vrek bang op hierdie ou pontjie wat so slinger en stamp. Soms spoel daar water oor die dek, maar daaroor hoef mens jou nie te bekommer nie. Dis omdat hy al van 1928 af vaar en eintlik gebou is vir ’n rustige kanaal, nie vir ’n rivier met allerhande nukke nie. Pa sê mos: “Daardie ding is ’n openbare gevaar. Hy moes lankal by Hermans en Seun gewees het.” Asof openbare gevaar hom kan skeel, tensy hy ’n paar pitte daaruit verdien. Maar Piet hou sy pont aan die gang al kos dit wat, en al is dit skaars meer as ’n stuurkajuit met ’n metaalplaat waarop ses motors net-net pas.

      As jy hom uitvra, vertel Piet dat dit ’n kabelpont was wat gemotoriseer is toe die binnevaartskepe al hoe vinniger geword het. Dit het te gevaarlik geword om net saam met die stroom oor te steek. Want dis wat ’n kabelpont eintlik doen. Hy is vas aan drie ou sloepe wat stroomop lê en as boeie dien. ’n Enorme anker hou die laaste een aan die bodem vas. Aan die verste ent van die slinger is die pont. Hy maak ’n heen-en-weerbeweging oor die water soos die slinger van ’n staanhorlosie met ’n metaal-dennebol aan die punt. As jy een kabelintrek en die ander laat los, neem die systroom die pont tot aan die oorkant, maar deesdae gebruik Piet ook die enjin om uit die bullebakke van die binnevaart se pad te bly. Soms ly Piet skade as skepe teen die kabels tussen die ankerbote beland. Dan kan hy ’n dag lank nie vaar nie omdat hy eers herstelwerk moet doen.

      Piet kom uit sy stuurkajuit.

      – Mooi aand, nè, mannetjie.

      Die kwyl stroom uit my mond toe ek opkyk na hom. Ek kwyl by die liter. Genoeg om goudvisse in aan te hou. ’n Binnevaartskip, belaai met berge sand, vaar ons tegemoet.

      – As ons maar net die landingsplek ’n bietjie kon opknap, sug Piet. Soos dit destyds was, met ’n mooi wagkamertjie waar die mense koffie en koek gekry het terwyl hulle wag. As dit koud was, het hulle om die stofieverwarmer gestaan tot ek kom. Met die brug en die snelweg het alles verander. Kyk hoe lyk dit nou. Maar wag maar tot die paaie te vol raak, dan sal ons hulle wys wie se verbinding is die vinnigste hier rond.

      Deesdae lyk hy ’n bietjie bekaf. Die binnevaartskip sny by ons verby. Die dekluike staan oop en berge sand toring uit die ruim soos kartels op ’n draak se rug. ’n Drywende heuwellandskap vir Duitsland. G’n wonder hierdie land is so plat nie; al ons heuwels word uitgevoer.

      ’n Enkele wolk in die vorm van ’n voet hang in die lug. Iemand daar? wonder ek. Iemand. Jy weet?

      Hoofstuk 4

      Joe het vir niemand gesê wat sy regte naam is nie, nie eers vir Christof wat intussen sy beste vriend geword het nie. Ons het geweet sy van was eintlik Ratzinger, maar sy voornaam was ’n geheim.

      As mens jou naam kry, het jy gewoonlik vrede daarmee; dis nou eenmaal wat jou naam is, en dit help nie om te kla nie. Jy het niks daaroor te sê nie, jy is jou naam, jou naam is jy, die twee van julle is een. Ná jou dood leef jou naam nog ’n rukkie voort in ’n paar mense se koppe, dit vervaag op jou grafsteen en dis die einde van die storie. Maar Joe was ontevrede oor sy naam. Nou praat ons van die tyd voordat hy op Lomark kom woon het. Hy het geweet dat hy met sy regte naam nooit kon word wat hy wou wees nie. Met so ’n naam kon jy nooit iets of iemand anders word nie. Jy kon net so goed ’n siekte hê wat maak dat jy byvoorbeeld nie uit die huis kan gaan nie. Daar was ’n misverstand: Hy is met die verkeerde naam gebore. Hy was so tien jaar oud toe hy besluit het om van hierdie naam, wat hom soos ’n horrelpoot gehinder het, ontslae te raak. Hy sou Speedboot word. Waar hy daaraan gekom het, het hy self nie geweet nie, maar Speedboot het hom soos ’n handskoen gepas. ’n Voornaam het hy nog nie gehad nie, maar hy het hom nie daaroor bekommer nie. Dit sou vanself kom, solank mens net eers die regte van beet het.

      Sy voornaam het nie lank op hom laat wag nie. Toe hy eendag langs ’n boustellasie verbyloop, die soort met die lang slurp waardeur rommel in ’n houer gestort word, kry Joe – wat op daardie oomblik nog nie Joe was nie – boustof in sy oë en gaan staan hy om dit uit te vryf. Op die steier was daar ’n radio vol gruis en verfspatsels, en dit was uit daardie radio, op daardie einste oomblik, dat sy naam opgeklink het. So bly soos ’n kind wat sy ma in ’n skare herken, het hy die eerste keer sy voornaam gehoor: Joe. In die liedjie “Hey Joe” van Jimi Hendrix: “Hey Joe, where you going with that gun in your hand / Hey Joe, I said where ya going with that gun in your hand / I’m going down to shoot my old lady now / You know I caught her messing ’round with another man.”

      Joe sou dit wees. Joe Speedboot. Met so ’n naam kon jy die wêreld aandurf.

      In die klein voortuintjie van hulle huis in die Achterom het Joe van sy roeping bewus geraak. Dit was vroeglente ná hul eerste winter op Lomark. Ek was toe nog in die hospitaal aan die bykom. Joe het dooie blare in die tuin bymekaargehark; skerp, koue lig het oor die bedorwe reste van die seisoene geval. Onder die blare het geelbruin gras te voorskyn gekom, en deurskynende slakdoppe. Uit die rigting van Westerveld het daar ’n geluid aangeswel – soos iets wat skeur, iets wat seer maak. Dit het in golwe gekom en vinnig sterker geword. ’n Jong populier het senuweeagtig geritsel. Joe het die hark teen sy bors vasgeklem en gestaan en wag in daardie klassieke rusposisie van die munisipale werker.

      Toe sien hy hulle: sewe glansende Opel Mantas, swart soos die nag en met uitlaatpype wat vuur en rook braak. Agter elke stuurwiel was ’n jongman met ’n nors, ingeteelde gesig en hare op die handpalms. Sigaretrook het deur die oop vensters getrek, een arm het ongeërg by die bestuurskant uitgehang; Joe het verbysterd toegekyk hoe die prosessie soos stadige onweer verbytrek. Hy het die hark laat val en sy ore toegedruk. Die uitlaatpype het geglim soos trompette en dit was asof die wêreld vergaan in ’n allesvernietigende lawaai as die ouens die petrolpedaal intrap terwyl hulle die koppelaar inhou, net om te wys dat hulle bestaan en om seker te maak dat niémand daaraan twyfel nie, want wat nie weergalm nie, bestaan nie.

      Dit was Joe se eerste les in kinetika, in die skoonheid van beweging wat deur ’n binnebrandenjin aangedryf word.

      Die motorstoet het ’n lugbel van stilte agtergelaat, en in hierdie stilte het Joe sy ma se stem deur die oop venster gehoor: “Robbies!”

      Regina Ratzinger (enigeen wat haar per abuis “mevrou Speedboot” genoem het, is vriendelik maar beslis reggehelp) het soggens haar rug gedaan gewerk as huishoudster by die Tabak-gesin, en smiddae haar elmboë in ’n seningontsteking gebrei om die hele dorp van woltruie te voorsien. Hierdie truie was van uitsonderlike gehalte – iets wat uiteindelik teen haar gedraai het, want omdat daar geen einde aan die truie was nie het haar mark ’n versadigingspunt bereik en het sy later skaars iets verkoop. Die kortstondige sukses van haar truie was ook te danke aan die lewensgetroue haantjies op die bors, wat sy met fyn garing opgetower het.

      Die huis het vol gestaan met mandjies wol, wat motte gelok het. Op strategiese plekke het sy lokaas gehang om hulle te vang, taai kartonstroke wat ruik na motteseks. Soms kon jy Regina Ratzinger “Mot! Mot!” hoor skree, gevolg deur ’n dawerende hou, India wat “Ag, siestog” sê, en Joe wat grinnik.

      Christof kon rasend word omdat hy nie geweet het wat Joe se regte naam is nie. Tot hy eendag afgesit het na Regina Ratzinger toe.

      – Mevrou Speed . . . jammer, mevrou Ratzinger, wat is Joe se naam nou régtig?

      – Dit mag ek nie sê nie, Christof.

      – Maar hóékom nie? Ek sal vir niemand vertel nie . . .

      – Omdat

Скачать книгу