Joe Speedboot. Tommy Wieringa

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Joe Speedboot - Tommy Wieringa страница 7

Автор:
Серия:
Издательство:
Joe Speedboot - Tommy Wieringa

Скачать книгу

      – Hy agtervolg ons, hoor ek vir Christof sê.

      – Haai, Fransie, sê Joe toe hulle voor my staan. Het jy heeltemal alleen gekom?

      – Kyk net, sê Christof, nes ’n perd met al daai skuim om sy mond.

      Hy lag. Joe kom nader en vat aan my arm. Met sy linkerhand, want die regterhand is nog steeds te aaklig om te aanskou, en dit oor daai bom.

      – Wat kom maak jy hier, Fransie?

      Dan rek sy oë.

      – Liewe donner, voel net hier.

      Christof voel aan my arm.

      – Het hy beton of iets daar ingepomp? vra hy.

      Christof trek sy wenkbroue hoog op, wat hom soos ’n uil laat lyk. Die ophef wat hulle maak, is vir my ’n bietjie oordadig. So besonders is dit mos nie. Ek bloos.

      – Kyk hoe bloos hy, sê Christof.

      – Mag ek? vra Joe.

      Hy rol my mou op tot bokant my biseps en fluit saggies deur sy tande.

      – Wat ’n monster.

      Christof kyk hom snaaks aan; hy weet niks van sulke goed nie. Ek het self nog nie juis agtergekom hoe groot hierdie arm geword het nie.

      – Veral as jy na daai lyfie kyk, sê Christof.

      Hy’s reg, want dit lyk of al my groei die laaste paar maande in hierdie arm gegaan het; dit lyk soos die arm van ’n volwasse man, met knoppe en are wat oral bult. ’n Moerse arm, al moet ek dit self sê. Joe begin lag en hy roep soos ’n sirkusbaas: “Dames en here, hierrr isss . . . Frans die Arrem!”

      Frans die Arm! Ja! Christof trek sy skouers op; vir hom lê die nederlaag van sy naamsverandering nog vars in die geheue. Sonlig flits op die raam van sy brilletjie en hy knyp sy oë effens toe. Soos wie lyk hy tog? Ek kan net nie dink nie. Miskien iemand uit ’n geskiedenisboek, maar ek het die laaste tyd so baie gelees dat ek nie meer weet wie dit kan wees nie. Ek moet dit gaan naslaan.

      – Ek dink tog hy agtervolg ons, sê Christof.

      Asof ek nie mag gaan waar ek wil nie.

      – Hy kan gaan waar hy wil, sê Joe.

      – Agtervolg jy ons, Fransie? vra Christof.

      Ek skud my kop heftig.

      – Sien, sê Joe, niks fout nie. Baai, Fransie.

      Hulle gaan terug na hulle visstokke en kyk nie weer om nie. Hulle gooi hul lyne uit en sit dan weer doodstil op die klip. Ek brand van nuuskierigheid om te weet waaroor hulle praat. Of sit en tuur hulle sommer oor die water sonder om ’n woord te sê? Dis wat ek wil weet, dié soort goed. Dis eensaam hier.

      Hoofstuk 7

      ’n Dier laat jou minder eensaam voel. Maar nie alle diere nie. Konyne, byvoorbeeld, beteken niks, hulle is heeltemal te dof. Honde kan my ook vreeslik irriteer. ’n Voëltjie is wat ek wil hê; so ’n klein kerkkraaitjie met ’n silwer nekkie en melkblou oë. Kerkkraaitjies is oulik, en anders as ’n gewone kraai of ’n raaf, klink hulle soos ’n mens wat praat. Veral saans wanneer daar ’n hele kolonie neerstryk in die kastaiings langs die Bleiburg, waar hulle met mekaar gesels tot dit donker word en jy soms ’n harde “ka” hoor as een van sy tak afval. Daarby is hulle baie skoon voëltjies. Partykeer sien jy hoe hulle by ’n vlak poel in die weiland kort-kort vooroor buig om die water oor hulle rug en vlerke te spoel tot hulle skoon is.

      Ek het geweet waar hulle hou. Elke lente maak hulle nes in ’n paar halfdooie bome rondom ’n spoeldam, ’n klein meertjie wat agtergebly het nadat die dyk lank gelede daar deurgebreek het. Dit was vroeër ’n verskriklike ramp, so ’n dyk wat breek, met massas mense wat verdrink. Op die plek van die deurbraak het die water binnetoe gekolk en ’n diep gat agter die dyk gespoel. Die nuwe dyk is later om so ’n spoeldam aangelê, en dis waarom ou dyke dikwels sulke skerp kinkels het.

      Die kerkkraaie maak nes in die splete en holtes van die bome rondom die spoeldam, en een Woensdagmiddag het ek vir Sam gevra om vir my ’n kuikentjie daar te gaan uithaal.

      – Oukei, het Sam gesê.

      Hy het agter my geloop met een hand op die rolstoel, en eenstryk allerhande tipiese Sam-onsin kwytgeraak. Ek dink soms hy het breinskade.

      Ek het uitgekyk oor die oewerveld tussen die dyke waar die rivierwater weer agter die somerdyk teruggetrek het. Aan die donker kringe onderom die boomstamme kon mens sien hoe hoog die water in die winter gestyg het. Bo in die bome het die swart stippels gesit. Ek was skoon opgewonde. Ek wou ook ’n kerkkraaitjie hê omdat hulle so getrou is; dié soort kraaitjies bly altyd by mekaar, en as jy enetjie van kleins af grootmaak, raak hy net so geheg aan jou. Maar mens moet betyds begin.

      – Moet ek dáárin klim? het Sam gevra toe ons by die bome kom.

      Hy het vir ’n rukkie teëgestribbel, maar is uiteindelik hande-viervoet teen die dyk af. By ’n boom met takke wat laag oorhang het hy eers ’n rukkie gestaan en opkyk tot hy ’n kraaitjie sien wat nes toe vlieg. Toe begin hy klim. In die boomtoppe het die voëls onrustig rondgefladder, want hulle het lankal agtergekom daar is moeilikheid. Ek het koud gekry; die winter het nog tussen die warmer luglae van die lente ingedring. Dit was al skemer en dit was moeilik om in die verte iets raak te sien. Die bome rondom die spoeldam het gelyk asof hulle vergiftig was. Hulle was so goed soos dood en party het al stadigaan hul bas begin afgooi, wat hulle kaal en koud laat lyk het. Sam het tot by ’n tak op omtrent ’n derde van die boom se hoogte geklim en dit taamlik stokkerig verder gewaag. Hy het beslis nie voor in die ry gestaan toe intelligensie en soepelheid uitgedeel is nie. Om die waarheid te sê, hy het net een eienskap gehad, en dit was dat hy nogal ’n gawe outjie was. Dis te sê as gaafheid ’n eienskap is en nie ’n afwyking nie, omdat jy nie daardie wreedheid in jou omdra waarmee iemand soos Dirk homself handhaaf nie.

      Sam was net ’n meter van die nes af toe hy skielik ophou beweeg. Ek het my oë op skrefies getrek, maar kon nie uitmaak wat aan die gang was nie. Ná ’n rukkie het ek hom hoor skree, moerskont en sulke goed. Hy het begin paniekerig raak. Dit was ’n baie slegte plek om paniekerig te raak. So iets maak my heeltemal rasend. Daar hang hy bewegingloos tussen hemel en aarde, en ek sit vasgekluister aan my rolstoel langs die pad. My enigste uitweg was om terug te ry dorp toe, hulp te kry en te hoop dat hy dit daar bo in die takke uithou. Ek het gery so al wat ek kon. Lank daarna sou ek nog die noodkrete van die kraaitjies hoor wat om die arme Sam sirkel.

      Ek het die dorp langs die Achterom binnegery. Joe het in die eerste huis gewoon. Die ligte het binne gebrand en die huis het gestraal soos ’n ligbak. Ek het met my vuis hard teen die voordeur geslaan; India het oopgemaak. Sy was duidelik verbaas om my te sien. Ek het nog nooit kans gehad om haar goed te bekyk nie en het nou eers ontdek hoe mooi sy vir my was, al was sy nog baie jonk. Ek het gesien dat sy op ’n sekere ouderdom besonder aantreklik sou wees, en dat mans tot dan ongeduldig na haar sou kyk, soos ’n boer in die lente die teer groen sprietjies van sy gesaaides betrag wat nog skaars bokant die grond uitsteek. India was anders gebou as haar broer, veel fyner, maar sy het daardie selfde helder kyk in haar oë gehad.

      – Waarmee kan ek help? het sy eindelik gevra.

      Ek het die dik slym weggesluk wat met die gejaag dorp toe in my mond saamgepak het, en my kop opgelig.

      –

Скачать книгу