Bybelboodskappe. Jan Hulme
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Bybelboodskappe - Jan Hulme страница 4
6 Johannes 19:29–30: “Dit is volbring.” Jesus het die lydensweg van die kruis afgehandel toe Hy sy bloed vir ons gestort het, sodat ons nooit meer hoef te ly onder die straf vir ons sonde nie. Selfs al sterf ons wat in Hom glo hier op aarde, sal ons in alle ewigheid nie sterwe nie, maar ewig lewe (Joh 11:25–26). Hierdie wonder herdenk ons met die sakrament van die nagmaal.
7 Lukas 23:45–46: “Vader, in u hande gee ek my Gees oor.” Toe Jesus sy laaste asem uitblaas, het die voorhangsel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur. Waar mense in die Ou Testament deur priesters diere moes offer vir vergiffenis van sondes, het Hy in sy eie liggaam vir ons sondes geboet (Rom 8:3). So het Jesus vir ons die direkte lyn van aanbidding daargestel deur die voorhangsel wat ons van God geskei het, simbolies weg te neem. Ons het nou vrye toegang tot Hom en ons kan nou in Hom bly en Hy in ons.
8 Johannes 15:4. Ons sondige natuur is nou in Christus dood vir hierdie wettiese, sondige, wêreldse bestaan en ons lewe nou in Hom (vgl Rom 6:6–8; 8:3; Kol 2:20). Boonop sê Matteus 22:32 dat God nie ’n God van dooies is nie.
Die opstanding van Jesus
1 Op die Sabbatdag, die derde dag ná sy dood, het Maria Magdalena en Maria by die bewaakte graf gekom om sy liggaam te balsem. Die swaar klip voor die opening van die graf was egter weggerol en die graf was leeg! Net die doeke wat om sy dooie liggaam gedraai was, het daar gelê. Toe verskyn daar ’n engel aan hulle en deel hulle mee dat Jesus opgestaan het, soos Hy voorspel het. Baie mense het Hom daarna lewend gesien. Hy het by verskeie geleenthede aan sy dissipels verskyn en die laaste keer aan hulle opdragte gegee en hulle geseën: “Gaan dan na al die nasies en maak die mense my dissipels. Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (Matt 28:19–20).
2 Omdat Jesus in ons plek die straf vir al ons sonde gedra het, kon Paulus in Romeine 8:1 skryf: “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.” En in die volgende vers: “Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood” (Rom 8:2).
3 Veertig dae ná sy opstanding het Christus Jesus voor die oë van sy dissipels opgevaar na God die Vader in die hemel. Hy moes dit doen om vir ons plek te gaan voorberei in sy koninkryk.
Deel 3
Die Trooster
1 Voordat Jesus die aarde verlaat het om tot met sy wederkoms by sy Vader te wees, het Hy vir ons sy Heilige Gees as Trooster gegee. Hy het sy Gees uitgestort op sy dissipels en doen dit tot vandag toe nog vir almal wat Hom aangeneem het en maak daarmee ’n einde aan ons sondige praktyke (Rom 8:11–33). Deur die Heilige Gees wat in ons woon, behoort ons nou aan Jesus Christus en sal ons die ware lewe smaak. Johannes 16:5–15 dui vir ons die werking van die Heilige Gees aan en soos vers 13 aandui, ontvang Hy sy opdragte van Jesus, en sal Hy ons ook “in die volle waarheid lei”. Johannes 6:63 bevestig dat dit hierdie Gees is wat ons lewend maak, die mens self kan dit nie doen nie.
2 Dit was op die dag van die Pinksterfees dat Jesus se gelowige volgelinge met die Heilige Gees vervul is (Hand 2:1–4). En steeds hou baie kerke nog elke jaar ’n “Pinksterweek” van dienste en bidure om deur die Gees in ons geloof vernuwe te word.
Erfgename en mede-erfgename
1 Ons weet nou dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is nie langer slawe van die sonde nie, ons lewe nou as erfgename van God en is een met Jesus (Rom 6:6–11). Ons moet dus ook nie toelaat dat die sonde langer heerskappy oor ons voer nie, want ons staan nie onder die Wet van Moses nie, maar onder die genade van God (Rom 6:12–14).
Bid vir die Joodse volk
1 Die volk van Israel het, vreemd genoeg, vir die mensdom ’n guns bewys toe hulle Jesus met behulp van die Romeinse owerheid laat kruisig het. Deur die bloed wat Jesus gestort het, is ons nou geheilig, vrygekoop uit die slawerny van die sonde en vrygespreek van ons sondeskuld (1 Kor 6:9–11).
2 Die Israeliete het die Ou Testament as hulle heilige boek beskou, veral die eerste vyf boeke van die Bybel, bekend as die Tora. Dit bevat immers Israel se geskiedenis en die wette van Moses waarvolgens hulle gelewe het. Maar dit het ook baie mensgemaakte voorskrifte ingesluit. Hulle het geglo dat hulle, deur die wette te onderhou, God verheerlik het en dat hulle dus God se vryspraak sou ontvang. Toe Jesus op die toneel verskyn, het hulle Hom net as ’n profeet beskou. So ook die moderne Jode wat steeds volgens die Ou Testament leef. Die Nuwe Testament is egter baie duidelik daaromtrent dat die verlossingsweg na God en God se koninkryk alleen deur geloof in Jesus Christus kom. Volgens Efesiërs 2:13–18 is Jode en nie–Jode egter in Christus één gemaak en het ons almal deur die een Gees vrye toegang tot die Vader.
3 Bid dus vir die Joodse volk dat hulle oë sal oopgaan en hulle Christus as Verlosser sal aanvaar, want volgens Johannes 9:27 sal “net ’n handjie vol oorblywendes” in Christus gered word.
Vervulling van die Ou Testament
Baie gedeeltes en voorspellings in die Ou Testament het in die Nuwe Testament in vervulling gegaan, veral wat betref Jesus se koms as die Verlosser van sonde en die Lig vir die wêreld. Sy geboorte, kruisiging en redding van die mensdom is enkele voorbeelde:
1 Psalm 130:8: Hy alleen sal Israel verlos van al hulle sondes.
2 Jesaja 9:5–6: Vir ons is ’n Seun gebore.
3 Jesaja 51:5: Jesus bring verlossing en regeer oor die nasies.
4 Jesaja 53:5: Ter wille van óns oortredinge en sondes is Hý deurboor.
5 Jesaja 53:12: Jesus is as misdadiger beskou en is gekruisig om ons sondes te dra.
6 Daniël 9:25: Jesus (“die regeerder wat deur God uitverkies is”) se koms.
7 Joël 2:28–29: Uitstorting van die Heilige Gees.
8 Miga 5:1–7: Jesus het gekom om tot in uithoeke van die aarde te regeer.
9 Sagaria 3:8–9 teenoor Johannes 19:28–30: Sonde word op een enkele dag weggeneem.
10 Sagaria 11:12–13 teenoor Matteus 27:3–7: Judas verraai Jesus vir dertig stukke silwer.
|
Boodskap 2 Hemelvaart en wederkoms |
Skrifgedeelte
Johannes 17:1–26
1Nadat Jesus dit gesê het, het Hy na die hemel toe opgekyk en gesê: “Vader, die tyd het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik. 2U het Hom immers die volmag oor die hele mensdom gegee om aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe te gee. 3En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is. 4Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te volbring wat U My gegee het om te doen. 5Verheerlik U My nou ook by U, Vader, met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld bestaan het.
6“Ek het u Naam bekend gemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord ter harte geneem. 7Nou weet hulle dat alles wat U My gegee het, van U kom; 8want die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee. Hulle het dit aangeneem en tot die oortuiging gekom