Bybelboodskappe. Jan Hulme
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Bybelboodskappe - Jan Hulme страница 9
4 Nog ’n rigtingwyser vir geredde mense is dat ons nie “die dood” oor alles en almal wil uitspreek nie. As ons byvoorbeeld gedurig vir ons kind sê: “Jy is dom, jy is onnosel, jy is vir niks goed nie, jy sal nêrens kom in die lewe nie,” gaan daardie kind dit mos uiteindelik glo en daarvolgens begin optree. Moet ook nie jou siektes gedurig met almal bespreek nie, dit laat jou net sieker voel. Moenie onnodig mismoedig word oor dinge wat verkeerd loop in ons land nie. Daar is ook baie wonderlike dinge wat gebeur en waarvoor ons God kan loof. Moenie deel wees van geselskappe wat ’n negatiewe invloed het op dié wat dit aanhoor nie.
5 Spreek “lewe”! Wees positief. Ons is in Jesus se hande; ons het niks om te vrees nie.
6 Voor ons beloftes aan God en ook aan mense maak, moet ons baie mooi dink oor wat ons belowe. Moenie belowe as jy ’n vermoede het dat jy dit nie sal kan nakom nie. Ons maak byvoorbeeld beloftes aan God by ons troue, by ons aanneming tot lidmate van Christus se gemeente; wanneer ons ons kinders laat doop; wanneer ons inwillig om op die kerkraad dien, wanneer ons die Here vra om onsself of ’n geliefde van ’n ernstige siekte te genees; wanneer die Here ons seën; en wanneer ons te kenne gee dat ons iemand in nood sal help. Maar gou vergeet ons ons beloftes. As ons as Christene beloftes maak aan mense en ons voer dit nie uit nie, dan is ons nie soos Christus nie. So kan ons gedrag mense weghou of wegdryf van die Here af, want – soos ons reeds gesê het – hou ongelowiges ons doen en late noukeurig dop om te sien of ons leef volgens wat ons sê ons glo.
Bely jou sondes
1 Volgens 1 Johannes 1:9 kan ons die vrymoedigheid hê om ons sondes voor God te bely, Hy sal dit ter wille van Christus se offer vir ons vergewe. God is getrou en regverdig en reinig ons van alle ongeregtighede. Die daaropvolgende vers waarsku ons egter om nie voor te gee dat ons nie sonde het nie, want dan maak ons God tot leuenaar en is sy Woord nie in ons nie.
2 Sondes van die verlede wat ons reeds bely het, hoef ons nie weer te bely nie, hoe groot of hoe klein dit ook al was. Jesus het dit in die dieptes van die see gewerp of so ver van ons af verwyder as wat die ooste van die weste af is – twee uiteindes wat nooit bymekaar kan uitkom nie. Jesus het aan die kruis selfs ’n misdadiger vergewe wat erken het dat hy gesondig het en regverdig gestraf word.
3 Nie een van die mense wat die vrou wat owerspel gepleeg het, kom aankla het, kon haar met ’n klip gooi toe Jesus hulle uitdaag dat die een wat geen sonde het nie die eerste klip moes gooi om haar te stenig nie. Die rede? Daar was niemand sonder sonde nie en dus kon nie een ’n oordeel oor háár voltrek nie. Jesus het haar ook nie geoordeel nie, maar haar wel daarop gewys dat sy nie verder moes sondig nie (Joh 8:1–12).
4 Ons moet gereeld ons nuwe sondes en selfs dié waaraan ons onwetend skuldig was, bely. Kolossense 2:11–14 en 20 troos ons met die wete dat ons sondige menslike natuur saam met Christus gekruisig is en dat ons in beginsel saam met Hom opgestaan het (vgl Kol 3:1–2). As wedergebore mense verloor ons mettertyd die begeerte om met die mond of die tong of op watter manier ook al te wil sondig. Ons moet egter bid vir die Gees se beskerming teen versoekings, want ons leef in ’n sondige wêreld.
5 Romeine 8:38–39 sê: “Geen dood of lewe of engele of bose magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”
Wees ’n mondstuk vir Jesus
1 As ons self oortuig is van, en aangeraak is deur God se boodskap van verlossing en genade, behoort ons dié boodskap verder te verkondig. Die Skrif is deur God geïnspireer (2 Tim 3:16–17). Ons geloof het immers gekom deur die prediking en getuienis wat óns gehoor het (Rom10:17). Maar ons getuienis en verkondiging moet gesond en nie-aanvegbaar wees, soos Titus 2:7–8 aandui. God sal jou dié vermoë gee deur die werking van sy Heilige Gees, wat sy Woord vir ons sal oopmaak, soos Efesiërs 4:11 belowe. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid en dank God vir sy reddende genade (Kol 3:16).
2 Wees ’n mondstuk vir Jesus in al jou daaglikse doen en late: “En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom” (Kol 3:17).
3 As God met ons praat en ons sy stem hoor, moet ons nie hardkoppig wees nie, maar glo, ons bekeer en ingaan in sy rus (Heb 4:6–11; 2 Kor 6:2). Paulus het die volgende gebed vir die Efesiërs gebid. Dit is ook God se wens vir ons en vir hulle aan wie ons die Goeie Nuus van God se redding in Christus bring: “Mag julle (Christus se) liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God” (Ef 3:19).
Slotgedagte: Moenie toelaat dat jou mond jou laat sondig nie; moenie God kwaad maak met wat jy sê nie (Pred 5:3–5). Laat jou ja ja wees en jou nee nee (Matt 5:37).
|
Boodskap 6 Twee poorte |
Skrifgedeelte
Johannes 10:1–15, 27–28
1“Dít verseker Ek julle: Wie nie deur die hek in die skaapkraal ingaan nie maar van ’n ander kant af inklim, is ’n dief en ’n rower. 2Maar hy wat deur die hek ingaan, is die skape se herder; 3vir hom maak die hekwagter oop. Die skape luister na die herder se stem. Hy roep sy skape op hulle name en lei hulle uit. 4Wanneer hy al sy skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit, en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken. 5Hulle sal nooit ’n vreemde volg nie maar van hom af weghardloop, omdat hulle nie die stem van vreemdes ken nie.”
6Deur hierdie beeld het Jesus met hulle gepraat, maar hulle het nie verstaan wat dit was wat Hy vir hulle wou sê nie.
7Toe het Jesus verder gesê: “Dít verseker Ek julle: Ek is die ingang vir die skape. 8Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie na hulle geluister nie. 9Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry. 10’n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.
11“Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape. 12’n Huurling is geen herder nie, en dit is nie sy eie skape nie. As hy ’n wolf sien kom, los hy die skape en hardloop weg, en die wolf vang die skape en jaag die trop uitmekaar. 13Hy is ’n huurling en bekommer hom nie oor die skape nie.
14“Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My, 15net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken; en Ek lê my lewe af vir die skape …
27My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My. 28Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.
Preekskema
1 Die Bybel oftewel die Skrif, die Woord van God, is deur God self geïnspireer (2 Tim 3:16–17). Reg deur die Bybel loop ’n goue draad wat vir elke mens wat geleef het, wat nou leef en wat nog sal lewe, die lewensweg na die ewigheid aandui. Hierdie pad eindig op by ’n punt waar dit in twee weë vertak, met twee poorte, een breed en een smal (Matt 7:13–14).
2 Die Bybel sê die pad na die nou poort is smal en min mense gaan dit kry. Hierdie pad lei na die koninkryk van die lig, waar Jesus in God se heerlikheid is. God is die Skepper en die heerser oor hierdie koninkryk. Dit is die pad vir gelowige Christene. Geen mens kan in dié