In God se teenwoordigheid. Johan Smit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit страница 2

Автор:
Серия:
Издательство:
In God se teenwoordigheid - Johan Smit

Скачать книгу

U is nie net met ’n kleed van lig omhul nie, maar is Self die Lig wat vir ons lewe gee. Amen.

      5 Januarie

      En dit was goed!

      Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. Genesis 1:31

      En so sit God toe sy skeppingsprogram voort – die een na die ander word die legkaartstukke op hulle plek geplaas om ’n skepping daar te stel waaroor God Self nie anders kan as om te sê dat dit goed is nie. Ses keer word dit feitlik as ’n refrein herhaal: “En God het gesien dit is goed.” Sy handewerk is volmaak. Goed en groots. Hoe kan ons die grootsheid van God se skepping behoorlik na waarde skat of met onbeholpe woorde beskryf? GK Chesterton sê die kunswerk is altyd kleiner as die kunstenaar. Die kunstenaar bewaar altyd ’n afstand tussen hom en die kunswerk. En só, beweer hy, is dit ook met ons Skepperkunstenaar: God is groter as sy kunswerk. Só geweldig groot is God! Hy kan Homself distansieer van die onmeetlike groot uitspansel. En die aarde is in die oneindige grootheid maar net ’n spikkel. En tog rond God sy skeppingswonder op hierdie klein spikkel af; tog skep Hy hier diere en voëls en visse wat elkeen maar net ’n wonderwerk op sigself is. En God sê dit is goed. Dit hoort so. Dis reg in sy oë.

      Hoe verwaand kan mense tog wees om te reken dat hulle maar selfs iets van dié grootsheid kan verklaar? Hoe dom om selfs te dink dat dit nie regtig God is wat alles geskep het nie?

      Dit was goed. Daaroor mag daar geen twyfel bestaan nie. God maak nie slegte goed nie. As ons handewringend na die verdorwe skepping kyk, moet ons heelpad weet dat dit nie God se bedoeling of skuld is nie.

      Kom ons sê dit in eerbied vir God agterna:

      Ja, Here, u skepping is goed, ongelooflik goed! U is die Skepper van ’n goeie aarde. Amen.

      6 Januarie

      U is die bron van die lewe

      Hoe kosbaar is u trou, o God! U beskerm die mense wat by U skuil. In u huis geniet hulle oorvloed, U laat hulle drink uit die strome van u goedheid. U is die bron van die lewe, deur u lig lewe ons. Psalm 36:8–10

      Die skeppingsverhaal straal warmte, beweging, lig en lewe uit. Wanneer God lig maak, is dit nie maar net die onderskeid tussen dag en nag nie; God se lig is lewenslig. U is die bron van die lewe; deur u lig lewe ons, sê die digter van Psalm 36. En dit is die boodskap van die skeppingsverhaal: lewe in oorvloed. En dit is waarom God dit goed vind – God hou van die lewe. Hy skep sodat daar lewe kan wees en Hy skep lewende wesens om die lewe te geniet.

      Lewe gebeur nie net sommer nie. Dit is nie gewoon maar net deel van ’n bepaalde logiese proses nie. Ongelukkig is dit hoe baie mense verkeerdelik oor die lewe dink. Nuwe lewe het vir baie mense ’n slaapkamer-, spreekkamer-, kraamkamer-aangeleentheid geraak – alles so menslik manipuleerbaar. En daarmee word die wonder van ’n Goddelike skepping onder die mat gevee. ’n Broeisel goudgeel eendkuikens is mos veel meer as die resultaat van ’n biologiese proses – dit dra die handtekening van die groot kunstenaar, en dit is iets waaroor ’n mens in verwondering kan buig.

      Lewe is nie toevallig nie. Dit is telkens die teken van Goddelike genade. Dit is die uitvloeisel van ’n skeppingsbevel. Die oopgaan van ’n lelie, die geblêr van ’n pasgebore bokkie, die eerste vlug van ’n skoenlapper – in alles hoor jy die stem van die Skepper: “Laat daar lewe wees.” Dink ’n keer nuut oor die lewe. Verheug jou daaroor. Loof en prys God daarvoor.

      Here, U is die bron van my lewe; deur u lig lewe ek! Ek loof U, my lewensbron. Amen.

      7 Januarie

      Die stem van die Here …

      Die stem van die Here weerklink oor die waters. Dit is die magtige God wat die weer laat dreun; die Here self is op die groot waters! Die stem van die Here is magtig, die stem van die Here is vol majesteit. Die stem van die Here laat weerlig uitslaan. Psalm 29:3–4, 7

      Psalm 29 is ’n lied oor die wondermag van God se stem. In Genesis 1 lees ons dat God maar net ’n woord gespreek het en die skepping het tot stand gekom. Wanneer God praat, gebeur dinge. Geweldige dinge. Die woord wat God praat, bring lewe voort. Dit is ’n woord wat vir ’n kosmiese magsvertoon verantwoordelik is. Dit skep orde uit ’n woeste chaos. Elke blom wat oopgaan, is die antwoord op God se skeppingswoord. Elke wolk, reënbui, sonsopkoms, wind en weerlig is deel van die simfonie wat in ’n jubeling losbars wanneer die dirigent aan die woord kom.

      Die Hebreeus vir “woord” is dieselfde as vir “daad”. Dit dui op ’n gebeure. God praat, by wyse van spreke, nie sommer in die wind nie. God se woorde is daadkragtig. Dit laat dinge gebeur. Die Psalmdigter het ’n pragtige lied daaroor geskryf. In die psalm hoor ons sewe keer die refrein: die stem van die Here … Die stem van die Here is magtig en vol majesteit, want ja, dit is die almagtige Koning wat aan die woord kom. Die Here se stem laat weerlig uitslaan en die woestyn bewe en die bokkies skrik – die natuur betoon sy onderworpenheid aan God se stem. Want God se stem is nie net die stem wat die skepping in aansyn roep nie, maar ook die stem wat oor sy skepping heers.

      Het jy al in die skepping God se stem gehoor?

      Here, ek hoor u stem . . . en ek buig in woordelose aanbidding. Amen.

      8 Januarie

      Net maar ’n fluisterwoord …

      Dit is maar die begin van sy dade, ons hoor net die gefluister van sy woorde. Maar die volle krag van sy dade, wie kan dit verstaan? Job 26:14

      In Job 26 kry ons nog ’n loflied op God se magtige dade. In hierdie gedig word God voorgestel as die magtige God wat die geweldigste natuurkragte in bedwang bring. Hy is die God wat die aarde “laat hang waar daar niks is nie” en die hemel oor ’n leë ruimte uitsprei. Hy plaas ’n horison op die see en ’n grens tussen lig en donker. Deur sy krag bring Hy die see tot rus en deur sy insig verpletter Hy vir Rahab (in die Ou Testament die naam van die gevreesde seemonster). In Job se lied hoor ons ’n weerklank van die skeppingsverhaal: God praat en sy woord is skeppend, heersend, versorgend.

      Maar dan sluit Job die lied af met hierdie veelseggende getuienis: Dit is maar die begin van sy dade, ons hoor net die gefluister van sy woorde. Maar die volle krag van sy dade, wie kan dit verstaan? (vers 14). Wat ons sien en hoor, is niks meer as ’n fluistering nie. So groot en magtig is ons God. Ons kan sy almag nie naastenby verstaan nie. En daarom moet ons tog nie op God se gefluister so luidkeels kommentaar lewer nie, so asof ons meen om iets van sy groot dade te verstaan.

      Miskien het God op ’n dag tog effens harder gepraat, harder as ’n fluistering. Dit was die dag toe die Woord mens geword en onder ons kom woon het. Of liewer, die dag toe die mensgeworde Woord aan die kruis sy lewe gegee het vir mense wat so swaar kry om op God se woord te antwoord.

      Here, dankie vir die fluisterwoord van u skeppingsmag; dankie vir die verlossende Woord aan die kruis. Amen.

      9 Januarie

      Woordelose wonder en die Woord wat lewe gee

      Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend. Die een dag gee die berig deur aan die ander en die een nag deel die kennis aan die volgende mee. Sonder spraak en sonder woorde, onhoorbaar is hulle stem. Vir die son is daar in die hemel ’n tent opgeslaan. As hy stralend begin om sy baan te volg, is hy soos ’n bruidegom wat uit sy slaapkamer kom. Psalm

Скачать книгу