Etosha. Piet van Rooyen

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Etosha - Piet van Rooyen страница 11

Автор:
Серия:
Издательство:
Etosha - Piet van Rooyen

Скачать книгу

grys sinkdak en hoë plafonne met ’n skoorsteen vir die winter. Sy is bly sy hoef nie weer vannag in die gopse te slaap, in ’n verlate opstal, op ’n harde vloer, in die hitte nie.

      Die voordeur gaan met ’n skril skreeugeluid oop toe sy daaraan stoot. Die kamp se spreiligte skyn van buite in sodat sy kan sien waar sy beweeg. Sy stap deur tot in haar kamer en sluit dit oop.

      Sy druk haar skoene met die toonpunt af, buk en stroop die vuil, stowwerige en met grassaad gekoekte sokkies van haar voete. Dan trap sy die pype van die taai, beswete langbroek een vir een vas en wikkel haar staan-staan daaruit. Sy’s te lui en te moeg om te buk. Die beweging van die vars lug op haar beswete bene is lekker koel. Dit skud haar los uit haar bui van heimwee en verslaentheid. Ten spyte van die teleurstelling met die leeu, voel sy tog dat sy die afgelope dae iets bereik het.

      Sy skakel nie die ligte aan nie en loop in die skemer deur die huis kombuis toe om te gaan tee maak.

      Vanaf hulle barakke kom die klank van die APU’s se feesviering hard in die stil naglug. Die stemme klink hoog en opgewonde. Sy kan nie daarvan wegkom nie. Dis ’n hele paar honderd meter weg van die huis, maar die wind waai in haar rigting en sy hoor elke nou en dan duidelike grepe uit die gesprek. Dis oraloor met kragwoorde gelaai. Die APU’s is goed opgewerk, kan sy hoor.

      “Oë so groot soos donkiedrolle.”

      “Muto branco!”

      “Ore soos pampoenskille.”

      “Onjima, daardie een!”

      “Erunga!”

      “’n Paar lekker ore in die sak.”

      “Ore vir geld en ’n jakkalsstert vir beloning.”

      “Sy ou klein voëltjie in sy harige nes!”

      “Ha-ha-ha!” Die skril gegiggel van ’n vrou styg bo die stemme uit, word dan skielik gesmoor.

      “Otjihwi! Kondorora!”

      “Sny af! Sny hom kort!”

      Olivia hoor wat hulle sê, maar verstaan min daarvan. Dis nooit in Engels nie. Is dit een van hulleself waarmee hulle die draak steek, een van die jonger, nuwe rekrute dalk?

      Iets is nie reg nie! Iets is net nie reg nie! Sy wens Karel was nou hier dat hy dit self kan hoor, dat hy vir haar kan vertel waaroor sy manne aan die gesels is, waarmee hulle so uitbundig besig is.

      “Ons name loop ver,” hoor sy die APU’s praat.

      “Hulle sal op die harde manier van ons te hore kom.”

      “Op die hardste manier!”

      “Kukuta!”

      “Otjiwonga!”

      Weer die vrou se gegiggel, hierdie keer selfs hoër, meer histeries.

      “By die krale, by die vure – hulle sal wyd weet.”

      “Hulle sal van ons weet tot hulle in hulle eie bangheid kots.”

      “En nooit weer waag om ’n voet hier binne te sit nie.”

      “Wat maak ons dan?”

      “Ons sal wel iets kry om te doen. Daar’s nog baie vyande daar buite.”

      “A luta continua!”

      “A luta continua!” dreun die stemme saam.

      Olivia ril en skink vir haar die whisky waarna sy so lank reeds uitsien. Daar is genoeg ysblokkies in die vrieskas dat sy die glas tot bo kan vul. Sy gooi nie water by nie; kantel die geel vloeistof teen die glas, kyk in die dowwe lig wat van buite inskyn hoe dit tussen die ysblokkies deur spoel, hoe die alkohol dun trane teen die glaswande maak. Sy druk haar neus oor die glasrand en trek haar asem diep in. Sy vat ’n groot sluk, groter as wat sy beplan het. Die vlugtigheid van die alkohol, die skerp whiskygeur, slaan tot diep binne-in haar longe. Sy begin stik aan die sterk drank. Uiteindelik moet sy die glas neersit om haar asem terug te kry.

      Die musiek van ’n blêrende transistorradio dring met styging en daling van klank deur die gesprek, verdoof sinsnedes, soms hele sinne, daal dan weer tot ’n byna onhoorbare ondertoon vir die gedruis van die opgewonde stemme. Dis gangster rap wat speel, musiek waaraan sy nog nooit sin kon kry nie. Dit styg en daal met ’n kloppende en aggressiewe ritme waarin woorde, tromslag en skel note opgeklits word met die gejuig en gespog van die APU’s.

      Olivia dwing haarself om haar gedagtes los te maak van die feesvierende oudsoldate. Sy skakel die lugverkoeling in die sitkamer aan en wag dat die swaar masjien behoorlik op dreef kom. Dan gaan staan sy direk onder die uitlaat en laat die koel wind oor haar kaal vel spoel. Sy gaan sit die ketel aan in die kombuis en was haar hande weer ’n keer onder die kombuiskraan. Sy hou haar vingers en polse onder haar neus en ruik daaraan. Dit ruik steeds skerp na leeu. So ’n swaar reuk kom moeilik uit die vel uit.

      8

      Karel Fechter en sy vrou, Magdel, stap die bakkery op Outjo binne. Hy dra sy gewone kakie-uniform met die groen epoulette, ’n kortbroek met vaalgroen sokkies by ’n paar halfmasstewels, blinkgepoleer. Sy vrou dra ’n rok van swart materiaal met groot rooi blomme op. Die dun, gladde materiaal van die rok vlei haar nie. Die bakker, ’n oudonderwyser met die boerenaam Fanie, is self agter die toonbank. Dis erg warm, maar buite skuif die son tog nou en dan agter die wolke in, verdonker die stoep. Daar is beloftes van reën.

      “Môre, môre,” sê Fanie, altyd vriendelik. Karel en sy vrou het vanoggend by die huis ’n goeie ontbyt van spek, eiers en pap weggeslaan, maar hulle is weer honger. Die geur van vars gebak stoot in die neusgate op. Karel voel hoe sy speekselkliere kwyl. In ’n rak agter die glas onder die toonbank, bokant die varsgebakte brood en Brötchen, is daar mooi ronde Duitse glanskoekies en vierkantige stukke vlatert. Karel is ’n groot man, lank en swaar gebou met reuse-boarmspiere en dik kuite. Hy het gedurig hervulling nodig om sy groot lyf aan die gang te hou, grinnik hy by homself.

      Die bakkery is byna leeg. Die hoërskoolkinders wat vakansietye hier kom sit en Coke of Cream Soda floats drink, is op skool op ander, groter plekke. Die paar boere wat dorp toe gekom het, is besig met hul inkopies. By ’n tafel op die klein veranda sit daar tog drie vreemde mans, Karel vermoed van Gauteng af. Hulle stofbedekte Corollatjie, ’n groene met ’n GP-registrasienommer, staan buite in die straat, ’n onvanpaste karretjie vir dié wêreld waar almal met groot bakkies ry.

      “Môre,” sê Karel vir Fanie en knik in die reisigers se rigting. Fanie is lank en stewig en lyk woes agter sy los baard.

      “’n Koek vir my vrou en ’n pastei vir my,” sê Karel vir die bakker en lag. “’n Koffie en ’n tee daarmee.”

      “Moet jou nie snaaks hou nie, jy’s nie nou in die Park nie!” sê Karel se vrou vir hom, en aan die bakker: “Jou plek stink,” en trek haar neus op ’n plooi.

      “Verstopping in die drein gehad; nou weer reg,” sê Fanie. “Sit maar buite, die lug is varser daar.”

      “En daai drie kriminele?” Karel het hom vir sy vrou se berisping vervies. Hy is al van vanoggend af nie in ’n goeie bui nie. Die dooie renoster het hom sleg ontstel. Daar was maar vyf in totaal in Kowares se omgewing, nou’s daar

Скачать книгу