Etosha. Piet van Rooyen

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Etosha - Piet van Rooyen страница 4

Автор:
Серия:
Издательство:
Etosha - Piet van Rooyen

Скачать книгу

voertuig kom trek direk langs haar in. “Kom jy saam?” vra die man met die swart hare met sy kop by die venster uit. Sy kan haar nie misreken met die koggeling in sy stem nie.

      ’n Tros jongetjies het reeds die netwerk van hekke by die krale gaan beman. Wanneer sy die voertuig in beweging sit, sien Olivia die spookagtige lywe soos wagtende naggeeste, sommige kaalbolyf en in kortbroek, ander met geskeurde en grondkleurige rokkies aan, in die skemer by die oop hekke staan.

      4

      Die Cruiser jaag in volle vaart voor haar by die hekke uit en in die tweespoorpaadjie langs die kampdrade af. Sy trap die brandstofpedaal van die ou Land Rover plat en ry so vinnig sy kan agter die jagters aan. Sy moet woes karring aan die stuurwiel om te bly in die pad waaroor ’n dik laag stof hang. Sy verwens die ou rammelkas sy sukkelende toestand, sy gebrek aan spoed. Die voorwiele dreig gedurig om uit die sandspoor te klim en sy moet behoorlik bontsit om die voertuig op koers te hou.

      Drie, vier kilometer ver ry die twee voertuie kort op mekaar se hakke, so vinnig as wat die slingerende paadjie toelaat, in die rigting van waar sy reken die veepos moet lê waar die leeu gevang het. Sy kan maar net hoop dat die leeu met hierdie raserige genaderjaag sal padgee van sy vreetplek af, dieper die veld sal inbeweeg. Sy weet dis ’n skrale hoop – ’n volgevrete leeumannetjie laat hom nie maklik verjaag nie. En die leeus is voertuie gewoond in die Park. Sy het geen vaste planne nie, eintlik kan sy haar glad nie voorstel wat sy gaan doen as sy en die drie jagters die dier gelykertyd raakloop nie. Sy hoop maar daar kom ’n oomblik wanneer sy die geleentheid sal hê om die verdowingsgeweer te gebruik, voordat die jagters kans kry om hom met die koeëls te kan bykom. Sy kan darem nie dink dat hulle ’n halfverdoofde leeu sal skiet nie. As sy net eers haar reg op die leeu kan vestig!

      Sy vrees ’n oomblik lank dat sy die sakemanne verloor het, want die dik wolke stof is skielik nie meer voor haar nie en sy ry in ’n arena van helder stoflose veld in. Die eerste sonlig is reeds besig om die blare se rande blink te kleur en ’n sagte skynsel te laat op die are van die boesmangras. Sy pomp die remme en roep vervaard na agter.

      Halfkop het reeds vorentoe geleun en beduie deur die oop venster skerp na regs: “Hiernatoe. Hulle is hier af.”

      “Hoekom sit een van julle nie voor nie?” verwens sy hulle weer ’n keer stilweg.

      Sy druk die Land Rover vinnig in trurat en laat skiet die koppelaar. Met ’n hoë gesing van die ewenaar brul die voertuig enkele meter terugwaarts. Nou kan sy sien waar die tweespoorpaadjie skerp deur die veld wegswaai. Die gebrul van die jagters se enjin is nog ’n honderd meter of wat vorentoe hoorbaar, maar nou teen ’n veel stadiger spoed as so pas. Sy laat los die koppelaar en ry haastig agterna. Sy verminder nie spoed nie. Sy sal nie omgee as die leeu padgee nie.

      Hulle moet nou naby die veepos wees. Sy kan sien dat die veld hier baie meer oopgetrap is deur die vee. Voetpaaie en los beesspore begin uit verskillende rigtings hier by mekaar aansluit. Eenkant lê die geboë wit ribbes van ’n ou beeskarkas, die kop met die paar vergeelde horings ’n ent daarvandaan. Die gate van meerkatte, springhase en ystervarke raak nou al meer hier naby die water. Sommige is direk in die spore van die pad, en die Land Rover klouter met ’n gewip van vere daardeur. Sy wens sy kon die angstigheid, wat nou al sterker in haar opwel, wegpraat deur ’n vraag of ’n opmerking aan die spoorsnyers, maar hulle staan onbereikbaar agter op die bak.

      In die ry steek sy haar kop deur die venster en praat na agter: “Sien julle al iets?”

      Die spoorsnyers se aandag is stip op die veld rondom hulle gerig. Hulle staan penorent teen die kajuit met die hande om die vensterrame geklem. “Nog niks,” hoor sy Kasupi dofweg antwoord.

      Met die vingers van haar linkerhand trek sy die geweer oor haar skoot en woel die pakkie verdowingspyle oop. Sy lig die seël aan die punt met die duimnael af. Terwyl sy die stuurwiel met haar knieë vasklem, trek sy die slot oop, druk die pyl in die kamer. As sy die geringste kans gebied word, gaan sy skiet.

      Dan is hulle by die veepos. Sy sien die sakemanne se blink Cruiser tussen ’n los klompie vaalgroen saliebosse staan. Die veewagters het uitgeklim en dig teen die jagters se kajuit kom staan. Nou beduie hulle met swaaiende arms in die veld in. Koeke droë beesmis lê wydverspreid op die kaalgetrapte terrein waar die veespore die sand omgedolwe het. Die kraaldrade is slap en vervalle en die ou sementdam lyk heeltemal uit plek uit hier tussen die bos en die bome. Die drinkbakke moet lek, want ’n plaat water staan teen die uitgeholde fondament daarvan. Stukke ou draad en sparre lê oral rond. Die windpomp staan half versteek agter ’n groot tambotieboom. Hier is nie op die oomblik beeste by die veepos nie; dis nog te vroeg om te kom drink. Na gister se vangslag sal die vrees hulle buitendien lank weghou van die water af.

      Olivia druk die Land Rover parmantig vorentoe langs die jagters se voertuig in, klim vinnig uit en stap nader. Die veewagters maak pad vir haar. Dis nou lig genoeg om die jagters se gesigte behoorlik te sien. Sy sien die dik swart lope na bo gerig waar die twee passasiers met die gewere tussen hulle bene vasgeklem sit. Die man met die baard is agter die stuurwiel: Palazzolo, onthou sy.

      “Asseblief, meneer Palazzolo,” vra sy weer. “Ons is besig met ’n belangrike navorsingsprojek. Laat my die leeu terugvat Park toe?”

      Dit lyk asof die man agter die stuur ’n oomblik oorweeg om toe te gee. Dis egter dadelik weer die kort dikke wat teëskop. “Ek het gekom om leeu te skiet!” sê hy, meer na sy maats as na haar kant toe.

      “Dis ons leeu, die Panne s’n,” sê sy en staan nog nader aan die venster om seker te maak dat hulle die epoulette op haar skouers raaksien.

      “Wys my die brandmerk en hy’s joune,” sê dieselfde onbeskofte ene. Hy sit vorentoe oor die geweerloop gebuk en speel met sy hande oop en toe daarop.

      “Stadig nou, Mario,” maan Palazzolo hom.

      “Dit is ons leeu,” sê hy. “Die wet sê sodra hy bees vang, is hy ’n ongedierte.”

      “Basta die vroumens!” sê die kort dikke sydelings aan die ander. “Kom ons ry!”

      “Jammer, Juffrou,” laat die donker man sag deur sy baard hoor. “Dit is my bees, en my grond, en my vriende, en die wet is aan ons kant. Jy kan die volgende leeu kry. Julle het nog baie.”

      Olivia hoor die finaliteit in die stem. Hy is ooglopend ’n man wat gewoond daaraan is om gesag te voer.

      Die twee veewagters het intussen reeds weer agter ingeklim. Sy kan hulle gesigte dofweg deur die kajuit se agterruit uitmaak.

      “Kom ons ry,” hoor sy die man in die middel weer sê.

      “Waarnatoe?” vra die donker man na agter. Die beeswagter se dun arm kom van agter deur die skuifruit gedruk en dui met ’n sirkelbeweging ’n algemene rigting aan. Palazzolo maak ’n kort, teatrale saluut met die regterhand teen sy voorkop en sit die voertuig in beweging.

      Olivia drafstap terug na haar trok en spring in. Sy trek die verdowingsgeweer terug oor haar skoot en volg die Cruiser deur die bos.

      “Mooi kyk!” roep sy na agter.

      Die spoorsnyers antwoord nie. Sy het tog geleer om ten volle op die twee te vertrou. Waar daar ’n leeu is, sal hulle hom deur die dikste bos en in die donkerste skaduwee raaksien, selfs waar hy diep verskuil lê in die lang geel gras waarmee sy eie geel vel so gemaklik saamsmelt.

      “Daardie bees lê hier voor,” hoor sy Kasupi langs haar sê. Sy skrik vir die onverwagse stem hier langs haar oor.

      “En

Скачать книгу