Etosha. Piet van Rooyen

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Etosha - Piet van Rooyen страница 5

Автор:
Серия:
Издательство:
Etosha - Piet van Rooyen

Скачать книгу

Cruiser het by die beeskarkas tot stilstand gekom. Die bestuurder lig hom halflyf by die oop ruit uit en kyk rondom hom in die veld rond. Ook die kort dikke kom nou deur die venster orent. Ondanks die erns van die situasie, kan Olivia nie help om te grinnik nie. Dit lyk hoogs potsierlik, die twee dapper jagters halflyf by die venster uit, nie een braaf genoeg om uit te klim en op eie voete leeu te soek nie. “Kan jy dit glo?” brom sy ergerlik.

      “Hier agter,” hoor sy vir Kasupi sag maar dringend sê.

      Olivia steek haar kop vinnig by die venster uit om te sien in watter rigting die spoorsnyer beduie. Dan draai sy die Land Rover met ’n wye draai soontoe.

      Sy span haar oë tot die uiterste in om deur die bos te priem, die gestalte in die swak oggendlig raak te sien. Uit die hoek van haar oog hou sy dop waarnatoe Kasupi met ’n wuiwende hand wys. Sy ry stadig en rukkerig deur die dik sand, swenk om die digste bos en ry van die kleineres met die buffer plat.

      Meteens is die leeu voor haar. Sy kan hom nou duidelik sien waar hy halfverskuil onder ’n rosyntjiebos lê. Sy massiewe voorlyf en kop het regop gekom. Sy aandag is stip in hulle rigting gerig. Dis die eerste keer in die drie dae van spoorvat dat sy die mannetjie te sien kry. Dis ’n pragtige dier, nog ’n jongerige mannetjie, op pad na die fleur van sy lewe, donkergeel met bruin maanhare, nog nie so dig en vergroeid soos by ’n ouer mannetjie nie, maar reeds indrukwekkend.

      Die leeu lyk dikgevreet en glad nie lus om pad te gee nie.

      “Skoert!” skree sy en slaan met die plat hand teen die Land Rover se bakwerk. Dis ’n ondeurdagte gebaar. Dalk moet sy eerder dadelik die verdowingsgeweer gebruik, soos sy aanvanklik gereken het. Maar dit kan ’n hele paar minute vat voor die verdowingsmiddel sy uitwerking het, en met die jagters hier so by haar is dit hopeloos te lank. Sy weet sy moet die dier tot elke prys probeer wegdryf van die jagters se gewere af. Sy kan môre, of oormôre terugkom op die spoor. Tyd het sy genoeg. Dis haar werk. Hierdie sakemanne in die Cruiser moet binnekort weer terug wees by hulle lessenaars in Windhoek, as sy dit reg het. Dan kan sy en die spoorsnyers terugkom om die spoor van hier af verder te vat.

      Ná die dawering van haar plat hand op die plaat het die mannetjie traag opgestaan van sy lêplek af, maar maak geen aanstaltes om te hardloop nie. Hy weier om te beweeg. Hy strek hom op die dwarste voor hulle in sy volle lengte uit en krom sy nek en rug met ’n tipies katagtige beweging. Sy pens hang swaar van die beesvleis. Dan draai hy viervoet in hulle rigting, kyk haar stip met sy goudgeel oë aan. Die uitdaging daarin is onmiskenbaar. Sy stert kwispel rukkerig oor sy rug. Hy maak kort, steunende gromgeluide.

      “Hy is vol kak!” sê Kasupi van agter.

      “Dit kan ek sien,” brom sy by haarself.

      Sy slaan weer op die deur, die keer harder. “Sjoes! Sjoes!” skree sy.

      Nou gee die leeu wel ’n paar treë pad, maar glad nie haastig nie. Toe sy stadig agter hom begin aanry, steek hy gou weer vas.

      Hy’s te vol gevreet om te hardloop, dink sy.

      “Hy gaan nie loop nie,” bevestig Kasupi haar vermoedens van agter. “Hier kom daai manne ook nou,” sê hy.

      Die jagters moes haar gevolg het, vermoed het dat sy hier agter iets aanry. Daar bly vir haar geen ander opsie oor nie. Sy trek die verdowingsgeweer reg, vat die deurhandvatsel met mening vas en klim uit. Dan stap sy vorentoe om en stut haar rug teen die Land Rover se rooster. Sy en die leeu staan nou direk teenoor mekaar opgestel. Die dier takseer haar met die oë. Die afstand tussen hulle is ’n skrale twintig meter. Sy weet dis hopeloos te naby vir haar om betyds terug te kom in die veiligheid van die kajuit in as die dier sou besluit om te storm.

      In die agtergrond hoor sy die jagters se voertuig nader dreun, en uit die hoek van haar oog sien sy die blink van die bakwerk flits. Sy het al baie met leeus gewerk. Sy glo sy ken hulle. Hulle het nog altyd eerder padgegee as gestorm. Sy gaan die kans vat.

      Sy korrel direk op die mannetjie se bors, daar waar die maanhare yl in ’n kroontjie van krulhare saamloop. Dan druk sy die sneller. Sy voel die ligte skop van die geweer teen haar skouer, hoor die knal van ver af en gedemp tussen die bosse terugeggo. Sy sien die rooi pyltjie netjies teen die leeu se bors vasslaan. Sy sien die rooi klossie van die pyl teen die leeu se bors hang, ’n tossel op ’n sirkusdier. Maar dit is nie ’n sirkusdier nie!

      “Hy kom!” skree Kasupi.

      Alles vind in stadige aksie plaas, ver, asof dit buite haar gebeur, met iemand anders, op ’n ander plek. Sy het die geweer laat val en is besig om hand oor stadige hand teen die voorkant van die Land Rover af te beweeg terug na die kajuit toe. Die hoekige metaal van die voertuig druk skerp teen haar heupe. Sy voel haar broek se lissie aan ’n uitsteeksel op die bakwerk haak en pluk vervaard daaraan. Dit skeur met ’n dun geluid, gee skiet. Sy hoor die asem hortend by haar mond uitkom. Sy sien die leeu se lyf, die reusekop al groter word soos hy nader storm in wolke stof. Die leeu vul haar hele gedagteveld, haar hele wese. Hy suig haar in sy bestaan in, in sy twee woedende geel oë in.

      Die veld se stilte slaan kloppend teen haar ore vas, dring haar kop binne. Die vrees dring allesoorheersend uit haar maag en in haar keel in op. Klein walms stof slaan tussen die leeu se pote uit op.

      “Voertsek! Voertsek!” hoor sy vir Kasupi en Halfkop albei skor skree.

      ’n Skoot knal, nog een. Die leeu tol op sy spore om. Dan verdwyn hy in ’n maalstroom van woede en stof. Sy sien die kolkende stofwolk skaars vyf meter voor haar, sien die vlieting van ’n rukkende stert, hoor hoe hy aanmekaar en skor bly grom. Vir ’n oomblik bedaar die wilde gemaal van stof, kan sy die mannetjie trots en regop voor haar sien, terwyl hy stip na haar kyk. Dan knal ’n laaste skoot. Met ’n ruk steier die dier op sy agterpote terug. Hy lê ’n paar maal hygend en asemhaal, raak dan heeltemal stil.

      Die veld is volkome vasgevang in die helderheid van die sonlig. Alles is skerp en duidelik. Alles hou asem op na die wilde geknal van die skote, die leeu se woedende gegrom. Alles is stil.

      Haar bene gaan rukkend onder haar aan die bewe. Sy kan nie staan nie, sy moet gaan sit. Met die wenas se haak om aan vas te hou, sak sy heeltemal verlam en hulpeloos na onder. Sy gaan wydsbeen op die grond sit. Haar mond is oop. Sy voel die slym oor haar lippe loop, oor haar ken drup. Daar is ’n skerp metaalsmaak in haar mond. Die geweer lê langs haar op die grond. Sy kan voel hoe die loop warm teen haar been druk.

      Sy kyk eers op toe die skaduwee van die donker man oor haar val, geweer in die hand. “Noue ontkoming, nè, my suster?”

      Botsende emosies wel in haar op: vrees, woede, dankbaarheid, verligting, verontwaardiging. Die ontsteltenis skop die krag terug in haar bene. Sy kan nie so bly sit nie. Sy vat aan die Land Rover se buffer en trek haarself regop. Voor haar staan die ander twee jagters reeds by die dooie leeu. Sy ignoreer die donker man by haar en stap nader na die karkas. “Dis my leeu,” sê sy en wys met haar toon na die rooi klossie waar die pyl steeds teen die leeu se bors sit.

      “Ek het geskiet,” sê die kort dikke. Hy buk vorentoe en trek die pyl uit die leeu se bors. ’n Druppel bloed glinster daarop, ’n klein ronde rooi druppeltjie. Dan gooi hy die pyl met ’n uitdagende gebaar eenkant toe.

      “Ja, by die venster uit, na ek hom reeds verdoof het.”

      “Hy het min verdoof gelyk vir my!”

      “Jy ken die reëls: Die eerste trefskoot merk die dier as die skut s’n.” Al die bewerigheid is nou uit haar uit. Net die woede bly. Sy kan sien dat haar selfversekerde houding, na die lewensgevaar

Скачать книгу